11 – Sonde

Dit is die heilige woorde van God die Almagtige.
Ons stel nie belang in die woorde van mense nie.
Vir enigiemand wat God liefhet... dit is waaroor God sê: Sonde.

Top 3 belangrikste verse

Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.

Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet.

Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe.

Elke vers in kanonieke volgorde – 359 gedeeltes

En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy 'n lus was vir die oë, ja, 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak. En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin. Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg. En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?

En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet. Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.

Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is. So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.

maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang. En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie--die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers. En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.

Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,

Verder het die HERE gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar.

Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.

Jy mag nie doodslaan nie. Jy mag nie egbreek nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie. Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.

Toe antwoord Moses die volk: Wees nie bevrees nie, want God het gekom om julle te beproef en dat sy vrees voor julle oë mag wees, sodat julle nie sondig nie.

En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word. En hy wat 'n mens steel en hom verkoop--of as hy in sy besit gevind word--dié moet sekerlik gedood word. En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word.

Elkeen wat met 'n dier gemeenskap het, moet sekerlik gedood word.

Jy mag geen valse gerug rondstrooi nie. Verbind jou nie met die skuldige om 'n kwaadwillige getuie te wees nie.

as hy dan aan een van hierdie dinge skuldig is, moet hy bely waar hy teen gesondig het,

En jy mag geen vleeslike gemeenskap met jou naaste se vrou hê om jou met haar te verontreinig nie.

En van jou kinders mag jy nie gee om vir Molog deur die vuur te laat deurgaan nie, dat jy die Naam van jou God nie ontheilig nie. Ek is die HERE.

Met 'n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos 'n mens met 'n vrou het nie. Dit is 'n gruwel.

En jy mag met géén dier vleeslike gemeenskap hê om jou daardeur te verontreinig nie. 'n Vrou mag ook nie voor 'n dier gaan staan om daarmee te doen te hê nie. Dit is 'n gruwelike vermenging.

Want almal wat enigeen van hierdie gruwels doen die siele wat dit doen, moet uitgeroei word onder hulle volk uit.

Julle mag nie steel nie, en julle mag nie lieg nie, en julle mag die een die ander nie bedrieg nie.

Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.

Julle mag geen onreg doen in die gereg, in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat nie. Julle moet 'n regte weegskaal hê, regte weegstene, 'n regte efa en 'n regte hin. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het.

Toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is die HERE julle God.

En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sy God vloek, sal hy sy sonde dra. En wie die Naam van die HERE laster, moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom sekerlik stenig. Die vreemdeling net soos die kind van die land as hy die NAAM laster, moet hy gedood word.

En as iemand aan sy naaste 'n liggaamsgebrek toebring soos hy gedoen het, net so moet ook aan hom gedoen word: breuk vir breuk, oog vir oog, tand vir tand dieselfde liggaamsgebrek wat hy aan 'n mens toebring, moet ook aan hom toegebring word.

Dan sal hulle hul ongeregtigheid bely en die ongeregtigheid van hulle vaders deurdat hulle ontrou teen my gehandel het; en ook dat hulle hul teen My versit het,

Spreek met die kinders van Israel: As 'n man of vrou enige menslike sonde doen, sodat ontrou teen die HERE gehandel word, en dié siel skuldig word,

En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid.

Maar as julle nie so doen nie, kyk, dan sondig julle teen die HERE, en weet dan dat julle sonde julle sal uitvind.

Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.

Jy mag nie doodslaan nie. En jy mag nie egbreek nie. En jy mag nie steel nie. En jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie. En jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie; en jy mag nie na jou naaste se huis hunker nie--na sy landerye of sy dienskneg of sy diensmaagd, sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.

Sorg dan dat julle doen soos die HERE julle God julle beveel het; julle mag nie regs of links afwyk nie.

Die gesnede beelde van hulle gode moet julle met vuur verbrand; die silwer en die goud wat daaraan is, mag jy nie begeer of vir jou neem nie, dat jy nie daardeur verstrik raak nie; want dit is vir die HERE jou God 'n gruwel. En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal 'n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek.

Jy mag nie twee soorte weegstene, 'n grote en 'n kleintjie, in jou sak hê nie. Jy mag in jou huis nie twee soorte efas, 'n grote en 'n kleintjie, hê nie. Jy moet 'n volle en regte gewig hê; jy moet 'n volle en regte efa hê; sodat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God jou sal gee. Want almal wat hierdie dinge doen, is 'n gruwel vir die HERE jou God--almal wat onreg doen.

Vervloek is die man wat 'n gesnede of gegote beeld maak, 'n gruwel vir die HERE, werk van 'n ambagsman se hande, en dit in die geheim opstel; en die hele volk moet antwoord en sê: Amen.

Vervloek is hy wat die reg van vreemdeling, wees en weduwee verdraai; en die hele volk moet sê: Amen.

Vervloek is hy wat sy naaste in die geheim doodslaan; en die hele volk moet sê: Amen.

Vervloek is hy wat 'n omkoopgeskenk aanneem om 'n persoon--onskuldige bloed--dood te slaan; en die hele volk moet sê: Amen.

Vervloek is hy wat die woorde van hierdie wet nie hou om dit te doen nie; en die hele volk moet sê: Amen.

Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.

Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg. Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie.

Toe sê die kinders van Israel aan die HERE: Ons het gesondig; maak met ons net soos dit goed is in u oë; verlos ons tog net vandag.

In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.

En die sonde van die jongmanne was baie groot voor die aangesig van die HERE, want die mense het die offer aan die HERE verag.

Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.

As hulle teen U sondig--want daar is geen mens wat nie sondig nie--en U op hulle toornig is en hulle aan 'n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as gevangenes wegvoer na die land van die vyand, ver of naby,

En hulle het hul seuns en hul dogters deur die vuur laat deurgaan en met waarsêery omgegaan en voortekens verklaar en hulleself verkoop om te doen wat verkeerd was in die oë van die HERE, om Hom te terg. So het die HERE dan baie toornig op Israel geword, sodat Hy hulle van sy aangesig verwyder het; niks het oorgebly nie as net die stam van Juda alleen.

wil dan uit die hemel, uit u vaste woonplek, hulle gebed en hulle smekinge hoor en aan hulle hul reg verskaf en u volk vergewe wat hulle teen U gesondig het.

Ook het hy self sy seuns deur die vuur laat deurgaan in die dal van die seun van Hinnom en met goëlery en verklaring van voortekens en towery omgegaan en dodebesweerders en waarsêers aangestel; hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, om Hom te terg.

So gaan dit met almal wat God vergeet, en so vergaan die verwagting van die goddelose;

As ek gesondig het, sou U my waarneem en my nie vryspreek van my ongeregtigheid nie.

Maar julle pleister met leuens, kwaksalwers is julle almal.

Hoeveel is my ongeregtighede en sondes; maak my my oortreding en sonde bekend.

Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit 'n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees?

Hy sing voor die mense en sê: Ek het gesondig en verdraai wat reg is, maar dit is my nie na verdienste vergeld nie. Hy het my siel verlos, dat dit nie in die kuil ingegaan het nie, en my lewe mag hom verlustig in die lig.

Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;

So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi. Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie. Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.

o Manne, hoe lank sal my eer tot skande wees? Hoe lank sal julle die nietigheid liefhê, die leuen soek? Sela.

Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid. U sal die leuensprekers laat omkom; van die man van bloed en bedrog het die HERE 'n afsku.

In sy trotsheid vervolg die goddelose die ellendige. Laat hulle gegryp word in die listige planne wat hulle uitgedink het! Want die goddelose juig oor die begeerte van sy siel; en hy seën hom wat onregverdige wins maak, hy verag die HERE. Die goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God nie- dit is al sy gedagtes!

Sy mond is vol van vloek en van bedrog en verdrukking; onder sy tong is moeite en onreg.

Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie.

Resj. Aanskou my ellende en my moeite, en vergeef al my sondes.

'n Psalm van Dawid; 'n onderwysing. Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.

My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. Sela.

Die woorde van sy mond is onreg en bedrog; hy laat ná om verstandig te wees, om goed te doen.

He. Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig.

Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.

Ék het gesê: o HERE, wees my genadig! Genees my, want ek het teen U gesondig.

Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid, toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het. Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.

Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.

Jou tong beraam onheil, soos 'n geslypte skeermes, o werker van bedrog!

Vir die musiekleier; op die wysie van: "Máhalat." 'n Onderwysing van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie! Hulle het sleg gehandel en hul onreg afskuwelik gemaak; daar is niemand wat goed doen nie. God het uit die hemel neergesien op die mensekinders om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie.

Sonde van hulle mond is die woord van hulle lippe; laat hulle dan gevang word in hul trots, en vanweë die vloek en die leuen wat hulle vertel.

o God, U weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie.

Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet.

Nog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, om wederstrewig te wees teen die Allerhoogste in die dor land.

Reken ons die ongeregtighede van die voorvaders nie toe nie; laat u barmhartighede ons gou tegemoetkom, want ons is baie swak. Help ons, o God van ons heil, om die eer van u Naam, en red ons en doen versoening oor ons sondes ter wille van u Naam.

U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig.

o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad! Hy bewaar die siele van sy gunsgenote, Hy red hulle uit die hand van die goddelose.

Hy wat bedrog pleeg, mag binne-in my huis nie bly nie; wie leuens praat, kan voor my oë nie bestaan nie.

Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.

Ons het gesondig, saam met ons vaders; ons het verkeerd gedoen, goddeloos gehandel.

maar hul met die heidene vermeng en hulle werke geleer. En hulle het hulle afgode gedien, en dit het vir hulle 'n strik geword. Bowendien het hulle hul seuns en hul dogters aan die duiwels geoffer en onskuldige bloed vergiet- die bloed van hul seuns en hul dogters wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het- sodat die land deur bloedskuld ontheilig is. En hulle het onrein geword deur hul werke en gehoereer deur hul dade.

Alef. Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel.

Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.

U verag almal wat van u insettinge afdwaal, want hulle bedrieëry is leuens.

My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie.

Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!

My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie;

'n Deugniet, 'n kwaaddoener is hy wat met 'n valse mond rondloop, wat met sy oë knip, met sy voete beduie, met sy vingers tekens gee; in wie se hart valse streke is, wat altyd onheil bewerk en tweedrag saai.

Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel 'n gruwel: trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, 'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.

Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.

Die wat verkeerd van hart is, is vir die HERE 'n gruwel; maar Hy het behae in die wat regskape van wandel is. Sekerlik, die slegte bly nie ongestraf nie; maar die geslag van regverdiges raak vry.

Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.

Die planne van die slegte is vir die HERE 'n gruwel, maar vriendelike woorde is rein. Wie onregverdige wins maak, bring sy huis in beroering; maar hy wat geskenke haat, sal lewe.

Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE 'n gruwel; sekerlik, hy sal nie ongestraf bly nie.

'n Man van valse streke saai tweedrag, en 'n kwaadstoker skei vriende van mekaar.

Hy wat kwaad vir goed vergelde, die kwaad sal uit sy huis nie wyk nie.

Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle altwee is vir die HERE 'n gruwel.

'n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, sal nie vrykom nie.

Die sonde is 'n dwase voorneme, en die spotter is 'n gruwel vir die mensdom.

'n Valse tong haat die wat hy verbrysel het, en 'n gladde mond bewerk ondergang.

Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is 'n gruwel.

Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind. Gelukkig is die mens wat gedurigdeur vrees; maar hy wat sy hart verhard, sal in die onheil val.

'n Heerser wat luister na 'n leuenagtige woord, sy dienaars is almal goddeloos.

'n geslag wat rein is in sy eie oë en tog van sy vuiligheid nie gewas is nie,

Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase.

want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.

Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.

Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen,

Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.

Maar daar sal verbreking wees van die oortreders en die sondaars almal saam; en die wat die HERE verlaat, sal omkom.

Die uitdrukking van hulle gesig getuig teen hulle, en hul sonde maak hulle bekend, soos Sodom, sonder om iets weg te steek. Wee oor hulle siel, want hulle doen hulself kwaad aan!

Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.

Daarom, soos die vuurtong stoppels verteer en droë gras in die vlam inmekaarsak, so sal hulle wortel soos poeier word en hulle uitspruitsel soos stof opstuiwe; omdat hulle die wet van die HERE van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het.

En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder.

Want dit is 'n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie;

Want 'n dwaas spreek dwaasheid en sy hart bring onheil voort, deur goddeloosheid te bedrywe en dwaling te spreek oor die HERE, deur die begeerte van die hongerige onvervuld te laat en die drank van die dorstige te laat ontbreek. En die skelm--sy middele is sleg, hy beraam skandelike dade om die ellendiges te ruïneer met leuentaal, ook as die behoeftige spreek wat reg is.

Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie. Maak My indagtig; laat ons teen mekaar pleit; vertel jy, dat jy in die gelyk gestel kan word.

Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.

En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie; en herders is hulle wat nie weet om op te merk nie; almal loop hulle eie pad, elkeen na sy onregverdige wins, almal saam.

Oor wie maak julle jul vrolik? Oor wie spalk julle die mond oop, steek julle die tong uit? Is julle nie kinders van oortreding, 'n leuenagtige geslag nie,

maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie. Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg. Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat 'n regstryd voer in waarheid nie; hulle vertrou op nietigheid en spreek valsheid, met moeite gaan hulle swanger en baar onheil.

En ons het almal geword soos 'n onreine, en al ons geregtighede soos 'n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.

Want al sou jy jou was met loog en baie seep vir jou neem, tog bly jou ongeregtigheid 'n vlek voor my aangesig, spreek die Here HERE.

Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die HERE jou God oortree het en jou weë gerig het na die vreemdes, onder elke groen boom; maar na my stem het julle nie geluister nie, spreek die HERE.

Ons wil neerlê in ons skande, en ons smaad moet ons oordek; want ons het teen die HERE onse God gesondig, ons en ons vaders van ons jeug af tot vandag toe, en ons het nie geluister na die stem van die HERE onse God nie.

Was jou hart van boosheid, o Jerusalem, dat jy gered kan word. Hoe lank sal jou onheilsgedagtes in jou binneste vertoef?

Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie, tog weet hulle nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; in die tyd dat Ek aan hulle besoeking doen, sal hulle struikel, sê die HERE.

Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na my woorde het hulle nie geluister nie, en my wet, dié het hulle verwerp.

Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie. Sal julle steel, doodslaan en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop, wat julle nie ken nie, en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos! --om al hierdie gruwels te doen?

Waarom is dan hierdie volk, Jerusalem, afkerig met 'n aanhoudende afkerigheid? Hulle hou vas aan bedrog, hulle weier om terug te keer.

Ek het geluister en gehoor: hulle spreek wat nie reg is nie; daar is niemand wat berou het oor sy boosheid, dat hy sou sê: Wat het ek gedoen nie? Elkeen spring weg in sy loop soos 'n perd wat storm in die geveg.

En hulle span hulle tong, soos hulle boog, met leuens, en nie volgens waarheid is hulle magtig in die land nie; want van boosheid tot boosheid gaan hulle voort, maar My ken hulle nie, spreek die HERE. Pas op, elkeen vir sy vriend, en vertrou op geen broer nie; want elke broer is net 'n onderkruiper, en elke vriend gaan om met kwaadsprekery. En hulle bedrieg elkeen sy vriend en praat nie die waarheid nie; hulle het hul tong geleer om leuens te praat, hulle maak hul moeg met verdraaiery.

Hulle tong is 'n moordpyl; dit spreek bedrog; met die mond spreek hulle van vrede met hul naaste, maar in hul binneste beraam hulle listige planne.

En die HERE het gesê: Omdat hulle my wet wat Ek hulle voorgehou het, verlaat het en na my stem nie geluister en daarin nie gewandel het nie, maar gewandel het agter die verhardheid van hulle hart en agter die Baäls aan, waaraan hulle vaders hulle gewend gemaak het,

Hoewel ons ongeregtighede teen ons getuig, o HERE, doen dit om u Naam ontwil; want ons afkerighede is baie, ons het teen U gesondig.

HERE, ons ken ons goddeloosheid, die ongeregtigheid van ons vaders, want ons het teen U gesondig.

Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

maar by die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra.

En Ek het na julle gestuur al my knegte, die profete, vroeg en laat, om te sê: Moet tog nie hierdie gruwelike saak wat Ek haat, doen nie.

sodat die HERE dit nie langer kon verdra weens die boosheid van julle handelinge, weens die gruwels wat julle bedryf het nie. So het julle land dan 'n puinhoop geword en 'n voorwerp van verbasing en van vervloeking, sonder inwoners, soos dit vandag is;

Maar die huis van Israel sal na jou nie wil luister nie, omdat hulle na My nie wil luister nie; want die hele huis van Israel het 'n harde voorhoof en 'n ongevoelige hart.

So sê die Here HERE: Omdat jou koper uitgestort is en jou skaamte ontbloot is deur jou hoererye met jou minnaars en met al jou afskuwelike drekgode, en vanweë die bloed van jou kinders wat jy aan hulle gegee het,

Kyk, dít was die ongeregtigheid van jou suster Sodom: In trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus het sy en haar dogters geleef, maar sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk nie.

Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun--hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.

Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.

Maar as die goddelose hom bekeer van al sy sondes wat hy gedoen het, en al my insettinge onderhou en reg en geregtigheid doen, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie. Al sy oortredinge wat hy begaan het, sal hom nie toegereken word nie; deur sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal hy lewe. Het Ek dan miskien 'n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here HERE. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?

Maar as die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen--sal hy lewe? Aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe.

As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen, dan sterf hy ten gevolge daarvan; deur sy onreg wat hy gedoen het, sterf hy.

En as die goddelose hom bekeer van sy goddeloosheid wat hy gedoen het, en reg en geregtigheid doen--hy sal sy siel in die lewe behou; hy het dit ingesien en hom bekeer van al sy oortredinge wat hy begaan het; hy sal sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.

Daarom sal Ek julle oordeel, o huis van Israel, elkeen volgens sy weë, spreek die Here HERE. Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge, sodat dit nie 'n struikelblok tot ongeregtigheid vir julle mag wees nie. Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees; want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel? Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.

Daar sal julle dan dink aan julle weë en al julle handelinge waarmee julle jul verontreinig het, en julle sal vir julself walglik wees vanweë al jul slegte dinge wat julle gedoen het.

As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen, dan sal hy ten gevolge daarvan sterwe. En as die goddelose hom bekeer van sy goddeloosheid en reg en geregtigheid doen, dan sal hy ten gevolge daarvan lewe.

Julle steun op jul swaard, julle doen gruwels en verontreinig elkeen die vrou van sy naaste--en sal julle die land as besitting ontvang?

Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak.

So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Juda, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die wet van die HERE verwerp het en sy insettinge nie onderhou het nie; en hulle leuengode het hulle verlei waar hulle vaders agter aan geloop het.

Sal Ek rein kan wees by 'n valse weegskaal en by 'n sak vol bedrieglike gewigte? Want die rykes in die stad is vol geweld, en die inwoners daarvan spreek leuentaal, en hulle tong is bedrog in hulle mond.

En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal 'n haastige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die meinediges en teen die wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat die vreemdeling wegstoot en My nie vrees nie, sê die HERE van die leërskare.

en sy sal 'n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.

En Jerusalem en die hele Judéa en die hele omtrek van die Jordaan het uitgegaan na hom toe. En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hulle sondes.

Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.

Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.

Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar 'n skeibrief gee. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.

Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.

en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.

So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar 'n slegte boom dra slegte vrugte. 'n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. En elkeen wat 'n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.

Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.

Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.

Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?

maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat 'n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.

En as jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word. En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word.

En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.

Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe? Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.

So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.

Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.

En daar kom een na Hom en sê vir Hom: Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê? En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê--dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.

En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.

Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

Johannes het gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig. En die hele Joodse land en die inwoners van Jerusalem het uitgegaan na hom toe, en almal is deur hom gedoop in die Jordaanrivier met belydenis van hulle sondes.

en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.

En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.

En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.

En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.

En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.

En toe Hy op die pad uitgaan, hardloop daar een na Hom toe en val voor Hom op die knieë en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag niemand te kort doen nie; eer jou vader en jou moeder.

En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.

Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.

Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes,

En hy het gekom in die hele omtrek van die Jordaan en die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig;

En Jesus antwoord en sê vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.

Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief. En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe. Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te sê: Wie is hierdie man wat selfs die sondes vergewe?

En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir 'n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.

en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege en negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.

So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.

Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

Pas op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom. En as hy sewe maal op 'n dag teen jou sondig en sewe maal op 'n dag na jou terugkom en sê: Ek het berou--moet jy hom vergewe.

En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!

En 'n sekere owerste vra Hom en sê: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus antwoord hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie behalwe een, naamlik God. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie; jy mag nie doodslaan nie; jy mag nie steel nie; jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en jou moeder.

en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.

Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.

Daarna het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê: Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.

En toe hulle haar tussen hulle in laat staan het, sê hulle vir Hom: Meester, hierdie vrou is op 'n daad van egbreuk betrap; en Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig; maar U, wat sê U? En dit het hulle gesê om Hom te versoek, sodat hulle iets kon hê om Hom te beskuldig; maar Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskrywe. Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste 'n klip op haar gooi. En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe. En toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het. En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.

Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe.

Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, 'n dienskneg van die sonde is.

En ons weet dat God nie sondaars verhoor nie; maar as iemand godvresend is en sy wil doen, dié verhoor Hy.

Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.

As julle My liefhet, bewaar my gebooie.

en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.

En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom,

Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle.

Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word.

En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.

Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk,

Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.

En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan 'n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.

Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy 'n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.

maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is grimmigheid en toorn; verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen, oor die Jood eerste en ook oor die Griek;

in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.

Wat dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.

Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie. Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees;

aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.

want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God

Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is.

maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.

Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het want vóór die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie.

Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.

Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?

Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.

Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.

Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.

Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?

Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is, en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid. Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking.

Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid. Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want die uiteinde daarvan is die dood.

Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.

Want toe ons in die vlees was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra. Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.

Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie. Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en in my allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood. En sonder die wet het ek vroeër gelewe, maar toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe en ek het gesterwe. En die gebod wat die lewe moes wees, dié het vir my geblyk die dood te wees. Want die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en my verlei en daardeur gedood.

Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en in my allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood.

Het die goeie dan vir my die dood geword? Nee, stellig nie! Maar wel die sonde, dat dit kon blyk sonde te wees, omdat dit deur die goeie vir my die dood bewerk, sodat die sonde deur die gebod uitermate sondig kon word.

Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon.

Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien 'n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.

Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie; want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.

en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.

Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan;

Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.

Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.

Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.

En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.

Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.

Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie-- dit wil sê, nie die hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan-- maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as 'n broeder bekend, 'n hoereerder is of 'n gierigaard of 'n afgodedienaar of 'n kwaadspreker of 'n dronkaard of 'n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie? Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.

Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.

Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat 'n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf sondig teen sy eie liggaam. Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval. En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.

Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.

Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;

Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes. Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.

Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.

Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.

Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.

Want ek vrees dat ek julle by my koms miskien nie sal vind soos ek wens nie, en dat ek deur julle gevind sal word soos julle nie wens nie--dat daar miskien sal wees twis, jaloersheid, toornigheid, verdeeldheid, kwaadsprekery, nuusdraery, verwaandheid, wanordelikheid; dat as ek gekom het, my God my miskien weer by julle sal verneder en ek sal treur oor baie van die wat vroeër gesondig het en hulle nie bekeer het van die onreinheid en hoerery en ongebondenheid wat hulle bedryf het nie.

Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.

Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.

En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.

Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.

Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.

Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.

In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,

En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.

Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie-- mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.

dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.

Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.

Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging. Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat 'n afgodedienaar is, 'n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie. Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid.

en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.

Moenie dronk word van wyn nie--daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel;

Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het

Maar wie onreg doen, sal die onreg wat hy gedoen het, terug ontvang; en daar is geen aanneming van die persoon nie.

Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer,

Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie 'n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het.

Beproef alle dinge; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad. En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!

in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.

en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is,

Dit is 'n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om 'n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe.

Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal, sodat ook die ander kan vrees.

Die sondes van sommige mense is baie duidelik en gaan voor hulle uit tot die oordeel, maar volg ander eers agterna.

Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.

Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word, wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.

Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.

Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.

Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op 'n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.

Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.

omdat daar gesê word: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.

Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.

Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word. En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis; want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe, en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie. Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie.

Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.

Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,

Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.

Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;

Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.

Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet. Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort. Moenie dwaal nie, my geliefde broeders.

Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red. En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.

Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.

Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie.

Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God. Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon? Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

Broeders, moenie van mekaar kwaad spreek nie. Dié wat kwaad spreek van sy broeder en sy broeder oordeel, spreek kwaad van die wet en oordeel die wet; en as jy die wet oordeel, is jy nie 'n dader van die wet nie, maar 'n regter. Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf. Maar jy, wie is jy wat 'n ander oordeel?

Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.

laat hy weet dat die een wat 'n sondaar van sy dwaalweg bekeer, 'n siel uit die dood sal red en 'n menigte sondes sal bedek.

Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery;

Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;

wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is. Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.

Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring--Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;

Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde, om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God. Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye.

en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie. Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;

die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word; en veral die wat die vlees in vuile begeerlikheid agternaloop en die heerskappy verag. Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie,

met oë vol van owerspel, wat nie ophou om te sondig nie; hulle verlok onvaste siele, hulle het 'n hart geoefen in hebsug, hulle is kinders van die vervloeking.

Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.

Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel

As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is 'n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s'n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is 'n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.

Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het.

Ek skryf aan julle, my kinders, omdat die sondes julle vergewe is om sy Naam ontwil.

Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is--die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe--is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid. En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie. My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is. Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.

Elkeen wat sy broeder haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.

Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?

Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes.

As iemand sy broeder 'n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee--vir die wat nie 'n sonde tot die dood doen nie. Daar is 'n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Alle ongeregtigheid is sonde, en daar is 'n sonde wat nie tot die dood is nie. Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie.

Elkeen wat 'n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.

om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.

Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae, en volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel.

Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond.

En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie.

Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.

En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.

En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.

En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.

Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.

En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.

Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.

Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.

Afrikaans - Afrikaans - AF

AF'BSS - Afrikaans Bybel - 1953

This Bible is in the Public Domain.
https://www.biblesupersearch.com/bible-downloads/
Languages are made available to you by www.ipedge.net