20 – Gebed

Dit is die heilige woorde van God die Almagtige.
Ons stel nie belang in die woorde van mense nie.
Vir enigiemand wat God liefhet... dit is waaroor God sê: Gebed.

Top 3 belangrikste verse

Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.

Vir die musiekleier; met fluite. 'n Psalm van Dawid. o HERE, luister na my woorde, let op my versugting. Gee ag op die stem van my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. In die môre, HERE, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag.

Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Elke vers in kanonieke volgorde – 293 gedeeltes

En Abraham antwoord en sê: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek alhoewel ek stof en as is.

en gesê: HERE, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer. Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad uitkom om water te skep. Laat dit nou tog gebeur: as die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink--dan is sy dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my heer bewys het. Hy het nog nie klaar gespreek nie, of daar kom Rebekka uit wat vir Bétuel, die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer, gebore is, met haar kruik op haar skouer.

En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het.

Maar Jakob het alleen agtergebly, en 'n Man het met hom geworstel tot dagbreek. En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin. Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered.

En hy was daar by die HERE veertig dae en veertig nagte; hy het geen brood geëet en geen water gedrink nie. En Hy het op die tafels die woorde van die verbond, die tien woorde, geskrywe.

Maar hulle het op hul aangesig geval en gesê: o God, God van die geeste van alle vlees! Sal een man sondig en U op die hele vergadering toornig word?

Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister. Want die HERE jou God is 'n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.

Toe ek op die berg geklim het om die kliptafels te ontvang, die tafels van die verbond wat die HERE met julle gesluit het, het ek veertig dae en veertig nagte lank op die berg gebly--brood het ek nie geëet en water nie gedrink nie--

Daarop het ek voor die aangesig van die HERE neergeval, soos die eerste keer, veertig dae en veertig nagte lank--brood het ek nie geëet en water nie gedrink nie--vanweë al julle sonde wat julle begaan het deur te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom te terg.

En ek het neergeval voor die aangesig van die HERE, die veertig dae en veertig nagte wat ek neergeval het, omdat die HERE gesê het dat Hy julle wou verdelg.

En ék het op die berg gestaan soos die vorige dae, veertig dae en veertig nagte lank; en die HERE het my ook dié keer verhoor; die HERE wou jou nie in die verderf stort nie.

Toe het Josua sy klere geskeur en met sy aangesig op die grond geval voor die ark van die HERE, tot die aand toe, hy en die oudstes van Israel, en hulle het stof op hul hoofde gegooi.

Daarop trek al die kinders van Israel, ja, die hele volk weg, en hulle het na Bet-el gekom; en hulle het geween en daar gebly voor die aangesig van die HERE en dié dag gevas tot die aand toe en brandoffers en dankoffers voor die aangesig van die HERE gebring.

Toe het die HERE gekom en gaan staan en geroep soos die vorige kere: Samuel, Samuel! En Samuel het geantwoord: Spreek, want u kneg hoor.

Ook wat my betref, dit is ver van my dat ek teen die HERE sou sondig, dat ek sou ophou om vir julle te bid; maar ek sal julle in die goeie en regte weg onderrig.

Toe het Salomo voor die altaar van die HERE gaan staan, teenoor die hele vergadering van Israel, en sy hande uitgebrei na die hemel en gesê: HERE, God van Israel, daar is bo in die hemel of onder op die aarde geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart,

Net toe Salomo gereed was om hierdie hele gebed en smeking tot die HERE te bid, het hy voor die altaar van die HERE opgestaan uit sy knielende houding, met sy hande na die hemel uitgebrei;

En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat U hulle hart tot U laat terugkeer. Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek. En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God!

o HERE, neig u oor en luister. Open u oë, HERE, en kyk; en hoor die woorde van Sánherib, wat hy gestuur het om die lewende God te smaad!

Verlos ons dan nou tog uit sy hand, HERE onse God, dat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, HERE, alleen God is.

Toe draai hy sy gesig na die muur, en hy het gebid tot die HERE en gesê: Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met 'n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het bitterlik geween.

En Jabes het die God van Israel aangeroep en gesê: As U my ryklik seën en my grondgebied vermeerder en u hand met my sal wees en U die onheil afweer, sodat my geen smart tref nie! En God het laat kom wat hy begeer het.

Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend!

Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.

Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid;

en om môre vir môre te staan om die HERE te loof en te prys, en net so saans;

Toe het hy gaan staan voor die altaar van die HERE teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande uitgebrei; want Salomo het 'n koperverhoog gemaak en dit in die middel van die voorhof opgestel; vyf el was sy lengte en vyf el sy breedte en drie el sy hoogte; en hy het daarop gaan staan en neergesink op sy knieë teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande na die hemel uitgebrei en gesê: HERE, God van Israel, daar is in die hemel of op die aarde geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart,

Wend U dan tot die gebed van u kneg en tot sy smeking, HERE my God, deur te luister na die geroep en die gebed wat u kneg voor u aangesig bid; sodat u oë oop mag wees dag en nag oor hierdie huis, oor die plek waar U van gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U mag luister na die gebed wat u kneg na hierdie plek toe sal bid. Luister dan na die smekinge van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor uit u woonplek, uit die hemel; en as U hoor, vergewe dan.

enige gebed, enige smeking wat enige mens of u hele volk Israel sal doen, as elkeen sy plaag en sy smart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei-- wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en aan elkeen gee volgens al sy weë, U wat sy hart ken--want U alleen ken die hart van die mensekinders-- sodat hulle U kan vrees om te wandel in u weë al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.

My God, mag u oë tog nou oop wees en u ore luister na die gebed van hierdie plek.

en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.

En hy het gedoen wat verkeerd was, want hy het nie sy hart gerig om die HERE te soek nie.

En Asa het die HERE sy God aangeroep en gesê: HERE, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, HERE onse God, want op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom; HERE, U is onse God; laat geen sterfling naas U magtig wees nie.

En hulle het die verbond aangegaan om die HERE, die God van hulle vaders, met hul hele hart en met hul hele siel te soek.

Toe staan die Levitiese priesters op en seën die volk; en hulle stem is verhoor, en hulle gebed het gekom tot in sy heilige woning, tot in die hemel.

Maar toe koning Jehiskía en die profeet Jesaja, die seun van Amos, hieroor gebid en na die hemel geroep het,

Toe het ek daar 'n vastyd uitgeroep aan die rivier Ahawa, om ons te verootmoedig voor die aangesig van onse God ten einde van Hom 'n voorspoedige reis te vra vir ons en ons families en al ons goed. Want ek was skaam om van die koning 'n leër en perderuiters te vra om ons te help teen vyande op die pad, omdat ons met die koning gespreek en gesê het: Die hand van onse God is ten goede oor almal wat Hom soek, maar sy krag en sy toorn oor almal wat Hom verlaat. So het ons dan gevas en onse God dit gevra, en Hy het ons verhoor.

Maar op die tyd van die aandoffer het ek opgestaan uit my verootmoediging; en terwyl ek my kleed en my mantel skeur, het ek op my knieë my gebuig en my hande uitgebrei na die HERE my God en gesê: My God, ek voel te beskaamd en verleë om my aangesig tot U, my God, op te hef, want ons ongeregtighede het oor ons hoof gegroei, en ons skuld is hemelhoog.

En Esra het hom opgerig van voor die huis van God en weggegaan na die kamer van Jóhanan, die seun van Éljasib. En hy het daar gekom; geen brood het hy geëet en geen water gedrink nie, want hy het rou bedrywe oor die ontrou van die ballinge.

En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel en gesê: Ag, HERE, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en u gebooie onderhou-- laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag, vir die kinders van Israel, u knegte, terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig.

En Esra het die HERE, die grote God, geloof, en die hele volk het geantwoord: Amen, amen! met opheffing van hulle hande; en hulle het hul gebuig en die HERE aanbid met die aangesig na die aarde toe.

En op die vier en twintigste dag van hierdie maand het die kinders van Israel vergader en gevas in rouklere en met grond op hulle hoof. En die afstammelinge van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders, en hulle het gaan staan en belydenis gedoen van hulle sondes en die ongeregtighede van hulle vaders.

En in al die provinsies waar die bevel van die koning en sy wet ook al aankom, was daar groot rou onder die Jode met vas en geween en rouklag; baie het sak en as onder hulle uitgesprei.

Gaan heen, versamel al die Jode wat in Susan te vinde is, en vas julle om my ontwil; en julle moet nie eet en drink nie, drie dae lank, nag en dag; ek ook met my dienaresse sal net so vas; en so sal ek na die koning ingaan, wat nie volgens wet is nie, en as ek omkom, dan kom ek om.

Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval

Maar wat my aangaan, ek sou na God vra en my saak aan die Godheid voorlê, aan Hom wat groot dinge doen en ondeurgrondelike, wonders sonder getal;

As jy na God soek en die Almagtige om genade smeek,

As jy jou hart berei en jou hande uitbrei na Hom

Klaag dan maar aan, en ék sal antwoord; of ek sal spreek, en gee U my antwoord.

Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou verhoor; en jy sal jou geloftes betaal.

Dan roep hulle, maar Hy antwoord nie, vanweë die trotsheid van die kwaaddoeners. Sekerlik, na nietige klagte luister God nie, en die Almagtige slaan daar geen ag op nie.

En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die HERE het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen.

Luid roep ek die HERE aan, en Hy verhoor my van sy heilige berg. Sela.

Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. 'n Psalm van Dawid. As ek roep, verhoor my, o God van my geregtigheid! In benoudheid het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed!

Vir die musiekleier; met fluite. 'n Psalm van Dawid. o HERE, luister na my woorde, let op my versugting. Gee ag op die stem van my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. In die môre, HERE, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag.

En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!

Die goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God nie- dit is al sy gedagtes!

HERE, hoor 'n regverdige saak, let op my smeking; luister tog na my gebed met onbedrieglike lippe.

Ek roep U aan, want U verhoor my, o God! Neig u oor tot my, luister na my woord!

Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom.

He. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag.

Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.

Hoor, o HERE, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my. Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o HERE!

Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!

'n Psalm van Dawid. Ek roep U aan, o HERE! My rots, draai nie stilswygend van my af weg nie, sodat ek nie, as U teenoor my bly swyg, word soos die wat in die kuil neerdaal nie. Hoor die stem van my smekinge as ek U aanroep om hulp, as ek my hande ophef na die binneste van u heiligdom.

Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. By U, o HERE, skuil ek; laat my nooit beskaamd staan nie. Bevry my deur u geregtigheid. Neig u oor tot my, red my gou; wees vir my 'n rots om in te vlug, 'n baie vaste huis om my te verlos.

Dalet. Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered. He. Hulle het Hom aangesien en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie. Sajin. Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos. Get. Die Engel van die HERE trek 'n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. Tet. Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!

Ajin. Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep. Pe. Die aangesig van die HERE is teen die kwaaddoeners, om hulle gedagtenis van die aarde af uit te roei. Sade. Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede. Kof. Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.

Ek sal U loof in 'n groot vergadering; onder 'n groot skare sal ek U prys.

Dalet. Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie.

Hoor, HERE, my gebed, en luister na my hulpgeroep; swyg nie by my trane nie; want ek is 'n vreemdeling by U, 'n bywoner soos al my vaders.

Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. Ek het die HERE lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor;

Groot dinge het U gedoen, HERE my God- u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel.

Laat almal wat U soek, in U vrolik en bly wees; laat die liefhebbers van u heil altyddeur sê: Groot is die HERE! Al is ek ellendig en behoeftig- die Here dink aan my; U is my hulp en my redder; my God, vertoef tog nie!

Maar die HERE sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees, 'n gebed tot die God van my lewe.

Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde. Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. Sela.

Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste; en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.

Kyk, U het 'n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.

Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. n Onderwysing van Dawid. o God, hoor my gebed en verberg U nie vir my smeking nie.

Maar ek, ek roep God aan, en die HERE sal my verlos. Saans en smôrens en smiddags klaag ek en steun, en Hy hoor my stem.

Werp jou sorg op die HERE, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.

My Sterkte, op U wil ek wag, want God is my rotsvesting. My genadige God sal my tegemoetkom; God sal my op my vyande laat neersien.

Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. 'n Psalm van Dawid. o God, hoor my smeking, luister na my gebed! Van die einde van die aarde af roep ek U aan as my hart beswyk; lei my op 'n rots wat vir my te hoog is.

Vir die musiekleier; op die wysie van: "Jedútun." 'n Psalm van Dawid. Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil. Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie grootliks wankel nie.

Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting! Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie. By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug is in God. Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is 'n toevlug vir ons. Sela.

'n Psalm van Dawid, toe hy in die woestyn van Juda was. o God, U is my God, U soek ek; my siel dors na U, my vlees smag na U, in 'n dor en uitgedroogde land, sonder water.

Ek het Hom aangeroep met my mond, en lofgesang was onder my tong. As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie. Waarlik, God het gehoor; Hy het geluister na die stem van my gebed. Geloofd sy God wat my gebed nie afgewys en sy goedertierenheid aan my nie onttrek het nie!

Ek is moeg van my geroep, my keel brand, my oë versmag terwyl ek wag op my God.

As die ootmoediges dit sien, sal hulle bly wees; julle wat na God soek, laat julle hart lewe!

Vir die musiekleier; op die wysie van: "Moenie verwoes nie." 'n Psalm van Asaf. 'n Lied. Ons loof U, o God, ons loof, en naby is u Naam; hulle vertel u wonders.

Vir die musiekleier; op die wysie van: "Jedútun." 'n Psalm van Asaf. My stem is tot God en ek roep; my stem is tot God, dat Hy na my kan luister. Op die dag van my benoudheid soek ek die HERE; snags bly my hand uitgestrek sonder om moeg te word; my siel weier om getroos te word.

Ek wil hoor wat God die HERE spreek. Ja, Hy spreek vrede vir sy volk en vir sy gunsgenote; maar laat hulle nie tot dwaasheid terugkeer nie!

HERE, luister na my gebed en let op die stem van my smekinge. In die dag van my benoudheid roep ek U aan, want U verhoor my.

'n Lied, 'n Psalm van die kinders van Korag, Vir die musiekleier; op die wysie van: "Máhalat leannot." 'n Onderwysing van Heman, die Esrahiet. HERE, God van my heil, bedags roep ek, in die nag is dit voor U. Laat my gebed voor u aangesig kom, neig u oor tot my smeking.

Maar ék, HERE, roep U aan om hulp, en in die môre kom my gebed U tegemoet.

Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!

Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.

Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.

'n Psalm. 'n Lied vir die sabbatdag. Dit is goed om die HERE te loof en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste, om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte;

Kom, laat ons aanbid en neerbuk; laat ons kniel voor die HERE wat ons gemaak het. Want Hy is onse God, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand. Ag, as julle vandag maar na sy stem wou luister! Verhard julle hart nie soos by Mériba, soos op die dag van Massa in die woestyn nie;

'n Gebed van 'n ellendige as hy beswyk en sy klagte uitstort voor die aangesig van die HERE. o HERE, hoor my gebed, en laat my hulpgeroep tot by U kom! Verberg u aangesig nie vir my op die dag as ek in benoudheid is nie; neig u oor tot my; op die dag as ek roep, verhoor my gou!

Hom gewend het tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag het nie.

Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees. Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.

My knieë knik van vas, en my vlees het maer geword, sonder vet.

Ek het lief, want die HERE hoor my stem, my smekinge, want Hy het sy oor tot my geneig; daarom sal ek Hom in my dae aanroep. Bande van die dood het my omring, en angste van die doderyk het my getref; ek het benoudheid en kommer gevind. Maar ek het die Naam van die HERE aangeroep: Ag, HERE, red my siel.

Ek sal U 'n offer van danksegging bring en die Naam van die HERE aanroep.

Uit die benoudheid het ek die HERE aangeroep; die HERE het my verhoor in die ruimte.

Ek wil U loof, omdat U my verhoor het en my tot heil geword het.

Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek;

Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie.

Kof. Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o HERE! Ek wil u insettinge bewaar. Ek het U aangeroep; verlos my, dat ek u getuienisse kan onderhou. Voor die môreskemering roep ek om hulp; op u woord wag ek. My oë is die nagwake voor om u woord te oordink. Hoor my stem na u goedertierenheid; o HERE, maak my lewend volgens u verordeninge.

'n Bedevaartslied. Uit die dieptes roep ek U aan, o HERE! Here, hoor na my stem; laat u ore luister na die stem van my smekinge.

Ek wag op die HERE; my siel wag, en ek hoop op sy woord. My siel wag op die Here meer as wagters op die môre, wagters op die môre.

Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.

Loof die God van die gode, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.

Loof die Here der here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid-

'n Psalm van Dawid. HERE, ek roep U aan; kom tog gou na my toe; luister na my stem as ek U aanroep. Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer.

'n Onderwysing van Dawid, toe hy in die spelonk was. 'n Gebed. Hardop roep ek die HERE aan, hardop smeek ek die HERE. Ek stort my klagte uit voor sy aangesig; ek maak voor sy aangesig my nood bekend.

'n Psalm van Dawid. o HERE, hoor my gebed; luister tog na my smekinge; verhoor my in u trou, in u geregtigheid.

Ajin. Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd. Pe. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae. Sade. Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke. Kof. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid. Resj. Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.

Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie, van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het,

Ék het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind.

Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is 'n gruwel.

Wees nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou 'n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde. Daarom moet jou woorde min wees.

Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My 'n oorlas. Ek is moeg om dit te dra. En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed. Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen,

En ek sal wag op die HERE, wat sy aangesig verberg vir die huis van Jakob, en op Hom hoop.

Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Want 'n volk sal op Sion, in Jerusalem, woon; jy sal nie meer ween nie; sekerlik sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy jou.

maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.

hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal 'n huis van gebed genoem word vir al die volke.

Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos 'n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en 'n dag wat die HERE welgevallig is? Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek?

maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.

Ek het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie; Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; aan 'n nasie wat na my Naam nie genoem is nie, het Ek gesê: Hier is Ek, Hier is Ek!

En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek.

Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek bring 'n onheil oor hulle, waaruit hulle nie sal kan uitkom nie; dan sal hulle na My roep, maar Ek sal na hulle nie luister nie. Dan sal die stede van Juda en die inwoners van Jerusalem gaan en roep na die gode vir wie hulle rook laat opgaan het; maar dié sal hulle geensins verlos in die tyd van hulle onheil nie.

Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die HERE; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het.

Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.

Gaan jy dan en lees uit die rol wat jy uit my mond beskrywe het, die woorde van die HERE voor die ore van die volk in die huis van die HERE, op die vasdag; en jy moet dit ook lees voor die ore van die hele Juda wat uit hulle stede kom. Miskien sal hulle smeking voor die aangesig van die HERE kom en sal hulle hul bekeer elkeen van sy verkeerde weg; want groot is die toorn en die grimmigheid wat die HERE teen hierdie volk uitgespreek het.

In dié dae en in dié tyd, spreek die HERE, sal die kinders van Israel kom, hulle met die kinders van Juda saam; onder geween sal hulle voorttrek en die HERE hulle God soek. Hulle sal na Sion vra; op die pad hierheen sal hulle aangesig gerig wees; hulle sal kom en by die HERE aansluit in 'n ewige verbond wat nie vergeet sal word nie.

Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE.

laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê:

En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Jy sal nog ander gruwels, groter as hierdie, sien. Toe bring Hy my na die binneste voorhof van die huis van die HERE; en kyk, by die ingang van die tempel van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar, was omtrent vyf en twintig man, met hulle rug na die tempel van die HERE en hulle gesig na die ooste, en hulle het hul voor die son neergebuig na die ooste. En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Is dit dan vir die huis van Juda te gering om die gruwels te doen wat hulle hier bedrywe, dat hulle die land met geweld gevul en My nog meer geterg het? En kyk hoe hulle die druiwetak by hulle neus hou! Daarom sal Ék ook in grimmigheid handel; my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; en al roep hulle hardop voor my ore, nogtans sal Ek na hulle nie luister nie.

Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het; Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom. U, God van my vaders, loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen, en nou het U my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het, want die saak van die koning het U ons bekend gemaak.

Al die ministers van die koninkryk, die bevelhebbers en die landvoogde, die raadsmanne en die goewerneurs het beraadslaag dat die koning 'n verordening moet uitvaardig en 'n verbod bekragtig dat elkeen wat gedurende dertig dae 'n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word. Stel nou 'n verbod vas, o koning, en laat 'n bevelskrif skrywe wat volgens die onveranderlike wet van Meders en Perse onherroeplik is. Hierom het koning Daríus die bevelskrif en die verbod geskrywe.

En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op 'n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het. Daarop het daardie manne aangestorm en Daniël gevind terwyl hy bid en voor sy God om genade smeek. Hulle het toe nader gekom en voor die koning oor die koninklike verbod gespreek: Het u nie 'n verbod geskrywe dat elkeen wat gedurende dertig dae 'n versoek doen aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie? Die koning het geantwoord en gesê: Die saak staan vas volgens onherroeplike wet van Meders en Perse. Toe het hulle geantwoord en voor die koning gesê: Daniël, een van die Joodse ballinge, het hom aan u, o koning, en aan u verbod wat u geskrywe het, nie gesteur nie, maar drie maal op 'n dag doen hy sy gebed.

En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy. En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk.

Hoor dan nou, onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge, en laat ter wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê. Neig u oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid. Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep.

Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die HERE my God neerwerp, ter wille van die heilige berg van my God, terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, 'n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer. En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee. By die begin van jou smekinge het 'n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is 'n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.

In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was.

En kyk, 'n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan. En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur. En terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan. Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom; maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië. Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms. En terwyl hy hierdie woorde met my spreek, het ek my aangesig na die grond gedraai en stom geword.

Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle My soek.

Heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam! Versamel die oudstes, alle inwoners van die land in die huis van die HERE julle God, en roep tot die HERE.

Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil;

En Jona het tot die HERE sy God gebid uit die ingewande van die vis en gesê: Uit my benoudheid het ek die HERE aangeroep, en Hy het my verhoor; uit die binneste van die doderyk het ek geroep om hulp--U het my stem gehoor.

Toe my siel in my versmag het, het ek aan die HERE gedink; en my gebed het tot by U gekom in u heilige tempel.

En die manne van Ninevé het God geglo en 'n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee. En toe die berig die koning van Ninevé bereik, het hy opgestaan van sy troon en sy mantel afgehaal en in rougewaad gehuld in die as gaan sit. En hy het in Ninevé laat uitroep en sê: Op las van die koning en sy groot manne--geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie, hulle mag nie wei of water drink nie; maar mens en dier moet 'n rougewaad om hê, en hulle moet ernstig tot God roep, en elkeen moet hom van sy verkeerde weg bekeer en van die onreg wat aan sy hande kleef. Wie weet of God nie sal omkeer en berou sal hê nie, sodat Hy Hom afwend van die gloed van sy toorn en ons nie vergaan nie? En God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie.

Dan sal hulle die HERE aanroep, en Hy sal hulle nie antwoord nie; maar Hy sal sy aangesig in dié tyd vir hulle verberg, omdat hulle verkeerde dinge gedoen het.

Maar ek sal uitsien na die HERE, ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor.

Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid--miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.

Spreek tot die hele volk van die land en tot die priesters dit: As julle, nou sewentig jaar lank, in die vyfde en in die sewende maand gevas en getreur het, het julle toe werklik ter wille van My gevas?

En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die HERE om genade te smeek en die HERE van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan! So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek.

Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos 'n mens silwer smelt en hulle toets soos 'n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die HERE, my God!

En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.

Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;

En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het. Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. En as julle bid, gebruik nie 'n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.

Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

En wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou gesig, sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.

Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom 'n klip sal gee; en as hy 'n vis vra, aan hom 'n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!

Daarna kom die dissipels van Johannes na Hom en sê: Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas nie? En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan treur so lank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.

In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.

En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen.

Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is. Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.

Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see--sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.

Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.

Toe kom Jesus met hulle in 'n plek met die naam van Getsémané, en Hy sê vir die dissipels: Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid. En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam en begin bedroef en benoud word. Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. En Hy het 'n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.

En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;

En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid.

En die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs was besig om te vas. Toe kom hulle en sê vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie? En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? So lank as hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas, in daardie dae.

En nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid.

En Jesus sê vir hom: Wat dit betref--as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo. En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!

En Hy sê vir hulle: Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie.

Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see--en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur--hy sal verkry net wat hy sê. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.

En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.

Toe kom hulle in 'n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid. En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word. En Hy sê vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak. En toe Hy 'n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan. En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. En Hy kom en vind hulle aan die slaap en sê vir Petrus: Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder.

Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.

en sy was 'n weduwee van omtrent vier en tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag. En sy het in dieselfde uur daar gekom en die Here geprys en van Hom gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het.

En toe die hele volk gedoop en Jesus ook gedoop is, en Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan;

waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is; en Hy het niks geëet in dié dae nie; en toe hulle verby was, het Hy naderhand honger geword.

Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.

Toe sê hulle vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes dikwels en doen gebede; so ook dié van die Fariseërs; maar u dissipels eet en drink? En Hy sê vir hulle: Kan julle die bruilofsgaste dan laat vas solank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word; dan sal hulle vas, in daardie dae.

En Hy het in daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en die nag in die gebed tot God deurgebring.

Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.

En omtrent agt dae ná hierdie woorde het Hy Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en op die berg geklim om te bid. En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy aangesig anders geword en sy klere skitterend wit.

En toe Hy op 'n sekere plek besig was om te bid, sê een van sy dissipels vir Hom nadat Hy opgehou het: Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het. En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons elke dag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

En Hy het vir hulle gesê: Wie van julle sal 'n vriend hê en sal middernag na hom gaan en vir hom sê: Vriend, leen my drie brode, want 'n vriend van my het van 'n reis by my aangekom, en ek het niks om aan hom voor te sit nie-- en dié van binnekant sal antwoord en sê: Moenie my lastig val nie; die deur is al gesluit, en my kinders is saam met my al in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie. Ek sê vir julle, al sou hy ook nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid opstaan en hom gee soveel as hy nodig het.

En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom 'n klip gee; of ook 'n vis, en hy sal hom in plaas van 'n vis 'n slang gee; of ook as hy 'n eier vra, hom 'n skerpioen gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?

En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien.

En Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel met die oog daarop dat 'n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie, en gesê: Daar was 'n regter in 'n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie. En daar was in daardie stad 'n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty. En 'n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie. Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?

Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een 'n Fariseër en die ander 'n tollenaar. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie--rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.

Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.

Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.

En toe Hy op die plek kom, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie. En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi, en neergekniel en gebid en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val. Toe staan Hy van die gebed op en kom by sy dissipels en vind hulle aan die slaap van droefheid. En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.

En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp.

en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur.

En Jesus het die brode geneem, en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels en die dissipels aan die wat daar sit; so ook van die vissies, soveel as hulle wou hê.

Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.

En ons weet dat God nie sondaars verhoor nie; maar as iemand godvresend is en sy wil doen, dié verhoor Hy.

Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.

Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.

My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.

Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. En nadat Hy dit gesê het, het Hy met 'n groot stem geroep: Lasarus, kom uit!

En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. As julle My liefhet, bewaar my gebooie. En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.

En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.

Dit het Jesus gespreek, en Hy het sy oë na die hemel opgehef en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik-- soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het. Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring. En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was. Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom. Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het. Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. En alles wat myne is, is uwe; en wat uwe is, is myne; en Ek is in hulle verheerlik. En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons. Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word. Maar nou kom Ek na U toe; en Ek spreek hierdie dinge in die wêreld, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê. Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur. En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees. Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo-- dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het. Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld. Regverdige Vader, al het die wêreld U nie geken nie, tog het Ek U geken, en hulle hier het erken dat U My gestuur het. En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.

Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met 'n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus, en met sy broers.

En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel 'n geluid soos van 'n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.

En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het,

En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.

Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang,

En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid, en meteens staan daar 'n man voor my in 'n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring.

So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het 'n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan. En toe Herodes hom wou voorbring, het Petrus in daardie nag tussen twee soldate geslaap, met twee kettings geboei, en wagte voor die deur het die gevangenis bewaak. En meteens staan daar 'n engel van die Here by hom, en 'n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval.

En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan.

En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, ná gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het.

En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister. En skielik kom daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak.

En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

En ná hierdie woorde het hy neergekniel en met hulle almal saam gebid.

En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.

Toe hy dit gesê het, neem hy brood, dank God in die teenwoordigheid van almal, breek dit en begin eet.

En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.

Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.

verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.

Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God.

Maar ek vermaan julle, broeders, by onse Here Jesus Christus en by die liefde van die Gees, om saam met my in die gebede te stry vir my by God,

Want hy wat in 'n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.

Hy wat in 'n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente.

Daarom moet hy wat in 'n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê. Want as ek in 'n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar. Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing. Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van 'n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie? Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie. Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal; maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tien duisend woorde in 'n taal.

Die tale is dus 'n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges. As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle sou almal in tale spreek en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle nie sê dat julle kranksinnig is nie? Maar as almal profeteer en daar 'n ongelowige of 'n onkundige binnekom, dan word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel; en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is.

En as iemand in 'n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte; en laat een dit uitlê. Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek.

Daarom, broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie.

hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek aan julle in my gebede dink nie, dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee,

want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.

En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.

Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus,

terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges

Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink-- en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap--

En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand 'n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God.

Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Nogtans het julle goed gedoen toe julle deel gehad het in my verdrukking.

En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.

Ons dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid,

Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig,

Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging; en bid tegelykertyd ook vir ons, dat God vir ons die deur van die woord mag open om te spreek van die verborgenheid van Christus, waarvoor ek ook in boeie is,

Épafras wat een van julle is, 'n dienskneg van Christus, groet julle en stry altyd vir julle in die gebede, dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God.

Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede

Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.

Broeders, bid vir ons.

Verder, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle;

In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.

Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.

Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.

En sy wat waarlik weduwee is en alleen gelaat is, hoop op God en bly in smekinge en gebede nag en dag.

Ek dank God, wat ek van my voorouers af in 'n rein gewete dien, wanneer ek onophoudelik nag en dag aan jou in my gebede dink,

Ek dank my God altyd wanneer ek aan jou in my gebede dink,

Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.

omdat daar gesê word: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.

bepaal Hy weer 'n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.

Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs-- Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het;

Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus

En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.

Laat ons dan gedurig deur Hom aan God 'n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.

En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.

Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.

Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing. Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag. Elía was 'n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.

Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.

En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.

Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.

En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.

Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan;

Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Afrikaans - Afrikaans - AF

AF'BSS - Afrikaans Bybel - 1953

This Bible is in the Public Domain.
https://www.biblesupersearch.com/bible-downloads/
Languages are made available to you by www.ipedge.net