16 – Kos wat aan afgode geoffer word

Dit is die heilige woorde van God die Almagtige.
Ons stel nie belang in die woorde van mense nie.
Vir enigiemand wat God liefhet... dit is waaroor God sê: Kos wat aan afgode geoffer word.

Top 3 belangrikste verse

Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie. Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?

Want as iemand jou wat kennis het, aan tafel sien in 'n afgodstempel, sal sy gewete, as hy 'n swak man is, nie aangemoedig word om van die offervleis aan die afgode te eet nie? En moet die swakke broeder vir wie Christus gesterf het, verlore gaan deur jou kennis? Maar deur so teen die broeders te sondig en hulle gewete wat swak is, seer te maak, sondig julle teen Christus. Daarom, as voedsel my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie.

Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself 'n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet.

Elke vers in kanonieke volgorde – 67 gedeeltes

Toe sê Jakob aan sy huisgesin en aan almal wat by hom was: Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan;

Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;

En in alles wat Ek julle gesê het, moet julle jul in ag neem. En die naam van ander gode mag julle nie vermeld nie; dit mag uit jou mond nie gehoor word nie.

Maar hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme afkap. Want jy mag jou nie neerbuig voor 'n ander god nie; want die HERE se Naam is Jaloers--'n jaloerse God is Hy. Sluit tog nie 'n verbond met die inwoner van die land nie! As hulle agter hulle gode aan hoereer en aan hulle gode offer, sal hy jou uitnooi, en jy sal van sy offer eet; en jy sal van sy dogters neem vir jou seuns, en sy dogters sal agter hulle gode aan hoereer en jou seuns agter hulle gode aan laat hoereer.

Begeef julle nie tot die afgode en maak vir julle geen gegote gode nie. Ek is die HERE julle God.

Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;

en die HERE jou God hulle aan jou oorgee, dat jy hulle verslaan, dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie. Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie--jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie; want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg. Maar julle moet met hulle so doen: hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme omkap en hulle gesnede beelde met vuur verbrand.

Die gesnede beelde van hulle gode moet julle met vuur verbrand; die silwer en die goud wat daaraan is, mag jy nie begeer of vir jou neem nie, dat jy nie daardeur verstrik raak nie; want dit is vir die HERE jou God 'n gruwel. En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal 'n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek.

Maar as jy nogtans die HERE jou God vergeet en agter ander gode aan loop en hulle dien en voor hulle neerbuig, dan verseker ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom; soos die nasies wat die HERE voor julle vernietig, so sal julle omkom, omdat julle na die stem van die Here julle God nie geluister het nie.

Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.

Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg. Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie.

Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.

En hulle het die pilare van die Baälstempel uitgebring en dit verbrand en die klippilaar van Baäl afgebreek en Baäl se tempel afgebreek en daar gemakhuisies van gemaak, tot vandag toe.

Want die HERE is groot en baie lofwaardig, en Hy is gedug bo al die gode. Want al die gode van die volke is afgode, maar die HERE het die hemele gemaak.

hy het geoffer aan die gode van Damaskus wat hom verslaan het; en hy het gedink: Die gode van die konings van Aram help hulle; ek sal aan húlle offer, dat hulle my kan help! Maar juis hulle het hom en die hele Israel tot 'n val gebring.

Want die HERE is groot en baie lofwaardig; Hy is gedug bo al die gode. Want al die gode van die volke is afgode, maar die HERE het die hemele gemaak.

Hulle afgode is silwer en goud, 'n werk van mensehande. Hulle het 'n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie; ore het hulle, maar hoor nie; hulle het 'n neus, maar ruik nie; hande, maar hulle tas nie; voete, maar hulle loop nie; hulle gee geen geluid deur hul keel nie. Die wat hulle maak, sal net soos hulle word- elkeen wat op hulle vertrou.

Die afgode van die heidene is silwer en goud, 'n werk van mensehande. Hulle het 'n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie; ore het hulle, maar hoor nie; ook is daar geen asem in hulle mond nie. Die wat hulle maak, sal net soos hulle word- elkeen wat op hulle vertrou.

Want in dié dag sal hulle elkeen sy silwerafgode en sy goue afgode verwerp, wat julle hande vir julle tot sonde gemaak het.

en hulle gode in die vuur gegooi; want dit was geen gode nie, maar werk van mensehande, hout en klip--daarom kon hulle dié vernietig.

Ek is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.

Maar die wat op gesnede beelde vertrou, wat aan gegote beelde sê: Julle is ons gode--dié sal agteruitwyk, diep beskaamd staan.

En Ek sal my oordele oor hulle uitspreek, weens al hulle boosheid; dat hulle My verlaat het en vir ander gode rook laat opgaan het en hulle voor die werke van hulle hande neergebuig het.

Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin en vir ander gode drankoffers uit te giet om My te terg. Terg hulle My? spreek die HERE. Doen hulle dit nie aan hulleself tot beskaming van hul aangesig nie? Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, my toorn en my grimmigheid sal uitgestort word oor hierdie plek, oor die mense en oor die diere en oor die bome van die veld en oor die vrugte van die land; en dit sal brand en nie uitgeblus word nie.

Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die gesnede beeld; want sy gegote beeld is 'n leuen, en daar is geen gees in hulle nie. Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet.

En jy moet sê: Hoor die woord van die HERE, o konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring onheil oor hierdie plek waarvan elkeen wat dit hoor, se ore sal tuit; omdat hulle My verlaat het en hierdie plek onherkenbaar gemaak het en vir ander gode, wat hulle nie geken het nie, daarin rook laat opgaan het--hulle en hulle vaders en die konings van Juda; en hulle het hierdie plek gevul met die bloed van onskuldiges.

En die huise van Jerusalem en die huise van die konings van Juda sal word soos die plek Tofet, onrein; naamlik al die huise op die dakke waarvan hulle rook laat opgaan het vir die hele leër van die hemel en drankoffers uitgegiet het vir ander gode.

En al die manne wat geweet het dat hulle vroue vir ander gode rook laat opgaan, en al die vroue wat daar staan, 'n groot menigte, en die hele volk wat in Egipteland, in Patros gewoon het, het Jeremia geantwoord en gesê: Aangaande die woord wat u ons in die Naam van die HERE verkondig het--ons sal na u nie luister nie. Maar ons sal stellig alles doen wat uit ons mond uitgegaan het--om vir die hemelkoningin rook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet soos ons gedoen het, ons en ons vaders, ons konings en ons vorste, in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem; toe is ons met brood versadig en was gelukkig, en ons het geen onheil gesien nie. Maar vandat ons opgehou het om vir die hemelkoningin rook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet, het ons aan alles gebrek gehad en het ons deur die swaard en die hongersnood omgekom. En as ons vir die hemelkoningin rook laat opgaan en vir haar drankoffers uitgiet--is dit dan sonder ons mans dat ons vir haar koeke maak om haar af te beeld en drankoffers vir haar uitgiet?

sodat die HERE dit nie langer kon verdra weens die boosheid van julle handelinge, weens die gruwels wat julle bedryf het nie. So het julle land dan 'n puinhoop geword en 'n voorwerp van verbasing en van vervloeking, sonder inwoners, soos dit vandag is; omdat julle rook laat opgaan het en teen die HERE gesondig en nie na die stem van die HERE geluister het nie en in sy wet en in sy insettinge en in sy getuienisse nie gewandel het nie; daarom het hierdie onheil oor julle gekom soos dit vandag is.

Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die beeld; want sy gegote beeld is 'n leuen, en daar is geen gees in hulle nie. Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet.

maar u het u verhef teen die Here van die hemel, en die voorwerpe van sy huis het hulle voor u gebring; en u en u maghebbers, u vroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink; en u het die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip geprys, wat nie sien en nie hoor en nie weet nie, maar die God in wie se hand u asem en voor wie al u paaie is, Hom het u nie vereer nie.

Húlle het konings aangestel, maar nie uit My nie; hulle het vorste gekies, maar sonder my wete; van hul silwer en goud het hulle vir hul afgode gemaak tot hulle verderf.

Hoe meer die profete hulle geroep het, des te meer het hulle van húlle af weggeloop; hulle het aan die Baäls geoffer en vir die gesnede beelde rook laat opgaan.

Wat baat 'n gesnede beeld dat sy maker dit reggekap het, 'n gegote beeld, wat 'n leuenleraar is, dat die maker op sy eie maaksel vertrou, deur stomme afgode te maak?

Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.

En Hy sê vir hulle: Is julle ook so sonder verstand? Begryp julle nie dat alles wat van buite af in die mens ingaan, hom nie onrein kan maak nie, omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in die maag, en dit gaan in die heimlikheid uit en maak al die voedsel rein?

Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.

Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.

En die priester van Júpiter wie se tempel voor hulle stad was, het stiere en kranse na die poorte gebring en wou saam met die skare offer. Maar toe die apostels, Bárnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hul klere geskeur en onder die skare ingespring en geroep en gesê: Manne, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.

maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed.

Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!

En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was.

As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie. God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.

Wat egter die gelowiges uit die heidene betref het ons geskrywe en besluit dat hulle niks van dié aard moet onderhou nie, maar hulle net moet onthou van afgodsoffers en bloed en van wat verwurg is, en van hoerery. Toe het Paulus die manne geneem en op die volgende dag hom saam met hulle geheilig en in die tempel gegaan om bekend te maak dat die dae van die heiliging sou voortduur totdat die offer vir elkeen van hulle gebring moes word.

Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.

En neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie. Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente.

Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

En met betrekking tot die offervleis aan die afgode weet ons dat ons almal kennis het. Die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig. As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos 'n mens behoort te weet nie. Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken.

Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat 'n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een. Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is--soos daar baie gode en baie here is-- tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

Die kennis is egter nie in almal nie; maar sommige, nog altyd bewus van die afgod, eet dit as 'n afgodsoffer, en hulle gewete, wat swak is, word besoedel. Maar die voedsel bring ons nie nader by God nie; want as ons eet, het ons geen oorvloed nie, en as ons nie eet nie, ly ons geen gebrek nie. Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien 'n struikelblok word vir die wat swak is nie. Want as iemand jou wat kennis het, aan tafel sien in 'n afgodstempel, sal sy gewete, as hy 'n swak man is, nie aangemoedig word om van die offervleis aan die afgode te eet nie? En moet die swakke broeder vir wie Christus gesterf het, verlore gaan deur jou kennis? Maar deur so teen die broeders te sondig en hulle gewete wat swak is, seer te maak, sondig julle teen Christus. Daarom, as voedsel my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie.

Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens. Ek spreek soos met verstandige mense; oordeel self wat ek sê:

Let op Israel na die vlees: het die wat die offers eet, nie gemeenskap met die altaar nie? Wat sê ek dan? Dat 'n afgod iets is, of dat 'n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie. Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?

Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie. Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van 'n ander. Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete. Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan. En as een van die ongelowiges julle nooi en julle is gewillig om te gaan, eet dan alles wat julle voorgesit word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete. Maar as iemand aan julle sê: Dit is afgodsoffer--moet dit dan nie eet nie, ter wille van hom wat dit te kenne gegee het, en ter wille van die gewete--want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan-- ek bedoel die gewete, nie van jouself nie, maar van die ander; want waarom word my vryheid geoordeel deur 'n ander se gewete? En as ek iets met danksegging geniet, waarom word ek belaster oor iets waarvoor ek dank?

Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God. Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie; net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word.

Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem;

Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot 'n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat 'n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.

As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? -- almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan--volgens die gebooie en leringe van mense, wat, alhoewel dit 'n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees.

Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien

Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken. Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.

En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie. Want as iemand 'n hoorder van die woord is en nie 'n dader nie, dié is soos 'n man wat sy natuurlike gesig in 'n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.

Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid.

My kinders, bewaar julleself van die afgode. Amen.

Elkeen wat 'n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.

Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om 'n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer.

Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself 'n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet. En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie. Kyk, Ek werp haar neer op 'n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in 'n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie. En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.

En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.

Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.

Afrikaans - Afrikaans - AF

AF'BSS - Afrikaans Bybel - 1953

This Bible is in the Public Domain.
https://www.biblesupersearch.com/bible-downloads/
Languages are made available to you by www.ipedge.net