02 – God

Dit is die heilige woorde van God die Almagtige.
Ons stel nie belang in die woorde van mense nie.
Vir enigiemand wat God liefhet... dit is waaroor God sê: God.

Top 3 belangrikste verse

Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.

En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.

Elke vers in kanonieke volgorde – 187 gedeeltes

In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.

Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? --wat moet ek hulle antwoord? En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur. Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.

Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef. Die HERE is 'n krygsman; HERE is sy naam.

o HERE, u regterhand is verheerlik deur krag. U regterhand, o HERE, verpletter die vyand.

En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.

Want jy mag jou nie neerbuig voor 'n ander god nie; want die HERE se Naam is Jaloers--'n jaloerse God is Hy.

Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die HERE se heerlikheid vol sal word,

God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?

Want die HERE jou God is 'n verterende vuur, 'n jaloerse God.

Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie. Uit die hemel het Hy jou sy stem laat hoor om jou te onderrig; en op die aarde het Hy jou sy groot vuur laat sien, en jy het sy woorde uit die vuur gehoor.

Hoor, Israel, die HERE onse God is 'n enige HERE.

Jy moet dan weet dat die HERE jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte. Maar aan die wat Hom haat, aan elkeen persoonlik, vergeld Hy dit, om hom te vernietig; Hy sal met sy hater nie versuim nie, hom persoonlik sal Hy dit vergelde.

Want die HERE julle God is die God van die gode en die HERE van die here; die grote, magtige en gedugte God wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie;

Die Rots--volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; 'n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.

Die ewige God is 'n woning, en onder--ewige arms; en Hy het die vyand voor jou uit verdrywe en gesê: Verdelg!

Niemand is heilig soos die HERE nie; ja, daar is niemand buiten U, en daar is geen rots soos onse God nie.

Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.

Maar die HERE was hulle genadig en het Hom oor hulle ontferm en Hom tot hulle gewend ter wille van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob; en Hy wou hulle nie vernietig en tot nog toe nie van sy aangesig wegwerp nie.

Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid;

En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met 'n volkome hart en met 'n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot.

Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak.

en hy sê: HERE, God van ons vaders, is U nie God in die hemel nie, en is U nie Heerser oor al die koninkryke van die nasies nie? Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie.

HERE, God van Israel, U is regverdig; want ons het as vrygeraaktes oorgebly soos dit vandag is. Hier is ons in ons skuld voor u aangesig, want niemand kan om sulke dinge voor u aangesig bestaan nie.

U is alleen die HERE, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel buig hulle voor U neer.

Kan jy die dieptes van God peil? Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige?

Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.

Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle.

God is 'n regverdige regter, en 'n God wat elke dag toornig is.

Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie. Die HERE het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie.

Maak u gunsbewyse wonderbaar, o verlosser van die wat by u regterhand skuil vir teëstanders!

Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.

'n Psalm van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.

Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid.

Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders. Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde,

Sajin. Die goddelose bedink listige planne teen die regverdige en kners met sy tande teen hom. Die Here lag oor hom, want Hy sien dat sy dag kom.

Want God is Koning van die hele aarde; psalmsing met 'n onderwysing. God regeer oor die nasies; God sit op sy heilige troon.

Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.

Verhoor my, o HERE, want u goedertierenheid is goed; wend U tot my na die grootheid van u barmhartighede.

En geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam! En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word! Amen, ja amen.

Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep.

Daar is niemand soos U onder die gode, Here, en daar is niks soos u werke nie. Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en hulle voor u aangesig neerbuig, Here, en hulle sal u Naam eer; want U is groot en doen wonders, U alleen is God.

Maar U, Here, is 'n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.

Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit.

Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.

Want U, HERE, is die Allerhoogste oor die hele aarde; U is hoog verhewe bo al die gode.

Die HERE is Koning; laat die volke bewe! Hy troon op die gérubs; laat die aarde sidder!

Verhef die HERE onse God, en buig julle neer voor sy heilige berg. Want heilig is die HERE onse God.

Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.

In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. Húlle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos 'n kleed verslyt; U verwissel hulle soos 'n kledingstuk, en hulle verdwyn. Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.

Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.

Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.

Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen. Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.

Loof die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed- wat Uself omhul met die lig soos met 'n kleed, wat die hemel uitspan soos 'n tentdoek;

Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!

Die HERE is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid.

terwyl onse God tog in die hemel is; Hy doen alles wat Hom behaag.

Alles wat die HERE behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes.

Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.

Loof die Here der here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid-

Wat die hemele met verstand gemaak het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.

Loof die God van die hemel, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.

Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!

Gimel. Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik.

He. Ek wil spreek van die glans van u heerlike majesteit en van u wonderbare dade.

Get. Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.

Sade. Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke. Kof. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.

wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is; wat trou bly tot in ewigheid; wat aan die verdruktes reg doen, wat aan die hongeriges brood gee. Die HERE maak die gevangenes los.

Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name. Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.

Ék het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind.

Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies.

Wie het na die hemel opgeklim en neergedaal? Wie het die wind in sy vuiste versamel? Wie het die waters in 'n kleed saamgebind? Wie het al die eindes van die aarde vasgestel? Hoe is sy Naam? En hoe is die Naam van sy Seun--as jy dit weet?

Gaan in die rots en steek jou weg in die grond vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil.

En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!

Die HERE van die leërskare--Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees!

Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors--

en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE.

En daarom sal die HERE met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die HERE is 'n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!

Want die HERE is ons Regter, die HERE is ons Aanvoerder, die HERE is ons Koning: Hy sal ons verlos.

Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken. By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?

Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos 'n dun doek en sprei dit uit soos 'n tent om in te woon.

Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.

Ek is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.

Júlle is my getuies, spreek die HERE, en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is--voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie. Ek, Ek is die HERE, en daar is geen Heiland buiten My nie.

So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.

So sê die Here, jou Verlosser, en Hy wat jou geformeer het van die moederskoot af: Ek is die HERE wat alles volbring, wat die hemel uitspan, Ek alleen, en wat die aarde uitsprei--wie was met My? --

sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het--Hy is God! --wat die aarde geformeer en dit gemaak het--Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word--Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.

Verkondig en bring voor, ja, laat hulle saam raad hou: Wie het dit van ouds af laat hoor, lank tevore dit verkondig? Is dit nie Ek, die HERE, nie? En buiten My is daar geen ander God nie: 'n regverdige en reddende God is daar buiten My nie. Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie.

Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;

Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word.

Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.

So sê die HERE: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees?

Maar die HERE is waarlik God, Hy is die lewende God en 'n ewige Koning; vir sy toorn beef die aarde, en die nasies kan sy grimmigheid nie verdra nie--

Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand.

Daarom, kyk, Ek laat hulle hierdie keer voel, voel my hand en my mag; en hulle sal weet dat my Naam HERE is.

Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die HERE.

Die HERE het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met 'n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.

En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.

Ag, Here HERE, kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur u grote krag en deur u uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie. U wat guns bewys aan duisende en die ongeregtigheid van die vaders vergeld in die skoot van hulle kinders ná hulle; die grote, die geweldige God, wie se Naam is HERE van die leërskare,

Kyk, Ek is die HERE, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?

Daniël het toe gespreek en gesê: Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne. Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het; Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.

En Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming.

En HERE God van die leërskare, HERE is sy gedenknaam.

Want kyk, Hy wat die berge formeer en die wind skep en aan die mens sy gedagte bekend maak, wat die dageraad duisternis maak, wat op die hoogtes van die aarde wandel, HERE, God van die leërskare, is sy Naam!

'n Jaloerse God en 'n wreker is die HERE, 'n wreker is die HERE, en vol grimmigheid; 'n wreker is die HERE vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande. Die HERE is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die HERE ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof van sy voete.

Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.

Die HERE jou God is by jou, 'n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.

Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie--nie by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning;

Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.

Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;

en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.

Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.

Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes.

En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;

En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.

En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is 'n enige Here;

En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.

En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei,

Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.

In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae.

En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee.

God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.

Ek is die brood van die lewe.

Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.

En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.

Dit is Ek wat van Myself getuig; en die Vader wat My gestuur het, getuig van My.

En Hy sê vir hulle: Julle is van benede, Ek is van bo; julle is uit hierdie wêreld, Ek is nie uit hierdie wêreld nie.

Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.

Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;

Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.

maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.

Toe Hy dan vir hulle sê: Dit is Ek, het hulle agteruitgegaan en op die grond geval.

En hulle het gebid en gesê: U, Here, wat die harte van almal ken, wys uit hierdie twee die een aan wat U uitverkies het

Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus?

Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.

Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.

want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag.

tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,

want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.

een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.

En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.

Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte--alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon

Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag;

Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.

wat alleen onsterflikheid besit en 'n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.

Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte,

maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is 'n regverdige septer;

En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.

Want onse God is 'n verterende vuur.

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.

Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.

wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.

want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.

En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.

Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.

En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.

Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.

En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.

aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.

Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood.

En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan 'n troon in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was 'n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos 'n smarag. En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad. En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand; en voor die troon was daar 'n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter. En die eerste lewende wese was soos 'n leeu, en die tweede lewende wese was soos 'n kalf, en die derde lewende wese het 'n gesig gehad soos 'n mens, en die vierde lewende wese was soos 'n arend wat vlieg. En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom! En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier en twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.

En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar 'n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.

En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!

En hy het met 'n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.

En ek het iets gehoor soos die stem van 'n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.

En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.

En 'n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.

Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.

Afrikaans - Afrikaans - AF

AF'BSS - Afrikaans Bybel - 1953

This Bible is in the Public Domain.
https://www.biblesupersearch.com/bible-downloads/
Languages are made available to you by www.ipedge.net