25 – Geld

Dit is die heilige woorde van God die Almagtige.
Ons stel nie belang in die woorde van mense nie.
Vir enigiemand wat God liefhet... dit is waaroor God sê: Geld.

Top 3 belangrikste verse

Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is 'n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.

Toe kyk Jesus rond en sê vir sy dissipels: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan! En die dissipels was verbaas oor sy woorde; maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.

Elke vers in kanonieke volgorde – 384 gedeeltes

En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE 'n offer gebring. En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.

En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud.

En die land kon hulle nie dra om saam te woon nie, want hulle besittings was groot, sodat hulle nie saam kon woon nie.

En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.

En die HERE het my heer baie geseën, sodat hy groot geword het, en aan hom kleinvee en beeste, silwer en goud, slawe en slavinne en kamele en esels gegee.

Daarna het die dienaar silwer-- en goue goed en klere uitgehaal en dit aan Rebekka gegee; ook aan haar broer en haar moeder het hy kosbare geskenke gegee.

Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die HERE het hom geseën. En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot was: hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne hom beny het.

En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal 'n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.

So het Josef dan 'n baie groot hoeveelheid koring opgehoop soos die sand van die see, totdat hulle opgehou het om te tel, want dit was ontelbaar.

En die hongersnood was oor die hele oppervlakte van die aarde, en Josef het alles waarin iets was, oopgemaak en aan die Egiptenaars verkoop; en die hongersnood was swaar in Egipteland. En die hele wêreld het na Josef in Egipte gekom om koring te koop, want die hongersnood was swaar op die hele aarde.

En Josef het sy vader en sy broers en die hele huis van sy vader met brood onderhou ooreenkomstig die getal van die kinders.

En daar was in die hele land geen brood nie, want die hongersnood was baie swaar, sodat Egipteland en die land Kanaän uitgeput was weens die hongersnood. En Josef het al die geld versamel wat in Egipteland en in die land Kanaän te vinde was, vir die koring wat hulle gekoop het, en Josef het die geld in die paleis van Farao gebring. En toe die geld in Egipteland en in die land Kanaän op was, het al die Egiptenaars na Josef gekom en gesê: Gee vir ons brood! En: Waarom moet ons voor u oë sterwe, want die geld is gedaan? En Josef antwoord: Gee julle vee, dan sal ek dit aan julle gee vir julle vee as die geld gedaan is. Toe bring hulle hul vee na Josef, en Josef het aan hulle brood gegee vir die perde en die besitting aan kleinvee en beeste en vir die esels; en hy het hulle dié jaar versorg met brood vir die waarde van al hulle besittings aan vee. Toe dié jaar om was, het hulle na hom gekom in die tweede jaar en vir hom gesê: Ons kan dit vir my heer nie wegsteek nie, maar die geld is op en die besitting aan vee is my heer s'n. Daar het niks vir my heer oorgebly nie as net ons lyf en ons grond. Waarom moet ons voor u oë te gronde gaan, ons sowel as ons landerye? Koop ons en ons grond vir brood, dan sal ons met ons grond aan Farao diensbaar wees; en gee saadkoring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie, en dat die grond nie woes word nie. So het Josef dan al die grond van Egipte vir Farao opgekoop, want die Egiptenaars het elkeen sy stuk grond verkoop, omdat die hongersnood vir hulle te swaar was. So het die land dan Farao se eiendom geword. En wat die volk betref--hy het hulle laat verhuis na die stede, van die een end van die Egiptiese gebied na die ander end daarvan.

maar elke vrou moet van haar buurvrou en van haar wat in haar huis vertoef, silwer-- en goue voorwerpe en klere eis. En julle moet dit op julle seuns en dogters sit, en so Egipte berowe.

Toe sê die HERE vir Moses: Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën; dan kan die volk uitgaan en die dagmaat van elke dag insamel, sodat Ek hulle kan beproef, of hulle in my wet sal wandel of nie. En op die sesde dag, as hulle berei wat hulle inbring, sal dit dubbel soveel wees as wat hulle daagliks insamel.

En Moses het vir hulle gesê: Niemand moet daarvan laat oorbly tot môre toe nie. Maar hulle het nie na Moses geluister nie: sommige het daarvan laat oorbly tot die môre toe. Toe kom daar wurms in en dit bederwe. Daarom het Moses baie kwaad geword vir hulle.

Jy mag nie steel nie.

Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.

Julle mag naas My geen silwergode maak en geen goue gode vir julle maak nie.

En hy wat 'n mens steel en hom verkoop--of as hy in sy besit gevind word--dié moet sekerlik gedood word.

As iemand aan sy naaste geld of goed in bewaring gee, en dit word uit die man se huis gesteel, moet die dief, as hy uitgevind word, dubbel vergoeding gee. As die dief nie uitgevind word nie, moet die eienaar van die huis na die owerhede gaan om te beslis of hy nie sy hand na sy naaste se goed uitgesteek het nie.

As jy aan my volk, aan die arme by jou, geld leen, mag jy vir hom nie soos 'n skuldeiser wees nie: julle mag hom geen rente oplê nie.

Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My 'n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring.

Neem van julle besittings 'n offergawe aan die HERE. Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die HERE: goud en silwer en koper;

die manne het met die vroue gekom, elkeen wat gewillig van hart was; hulle het gespes en ringe en vingerringe en halssierade, allerhande goue goed, gebring. En elkeen wat 'n offer van goud aan die HERE gewy het,

en hulle het met Moses gespreek en gesê: Die volk bring meer as wat nodig is vir die uitvoering van die werk waarvan die HERE die vervaardiging beveel het. Daarop het Moses bevel gegee, en hulle het 'n oproep deur die laer laat gaan en gesê: Laat geen man of vrou verder enige werksaamheid verrig in verband met die offergawe vir die heiligdom nie. Toe het die volk opgehou om te bring; want die boustof was vir hulle genoeg om die hele werk tot stand te bring; ja, daar het oorgebly.

As iemand sondig en ontrou handel teen die HERE deurdat hy teenoor sy naaste ontken dat iets aan hom toevertrou of as pand gegee is of deur hom geroof is, of dat hy sy naaste iets afgepers het, of dat hy iets gekry het wat weg was, en dit ontken; of dat hy vals sweer ten opsigte van enigiets wat 'n mens kan doen om hom daarmee te besondig

En as julle die opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God. Julle mag nie steel nie, en julle mag nie lieg nie, en julle mag die een die ander nie bedrieg nie.

Jy mag jou naaste nie verdruk of beroof nie. Die dagloner se loon mag by jou nie tot die môre toe bly nie.

Julle mag geen onreg doen in die gereg, in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat nie. Julle moet 'n regte weegskaal hê, regte weegstene, 'n regte efa en 'n regte hin. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het.

En as julle die opbrings van jul land oes, moet jy die kant van jou land as jy oes nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God.

Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel; maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, 'n sabbat vir die HERE; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie. Wat van jou oes opslaan, moet jy nie afoes nie, en die druiwe van jou ongesnoeide wingerdstok nie afsny nie. Dit moet 'n jaar van rus vir die land wees.

Jy moet ook sewe jaarweke tel, sewe maal sewe jaar, sodat die dae van die sewe jaarweke vir jou nege en veertig jaar is. Dan moet jy in die sewende maand, op die tiende van die maand, 'n basuingeklank laat deurgaan; op die versoendag moet julle die basuin deur julle hele land laat gaan. En julle moet die vyftigste jaar heilig en 'n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle 'n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan. 'n Jubeljaar moet dit, die vyftigste jaar, vir julle wees. Julle mag nie saai nie, ook nie afoes wat dan opslaan of die druiwe van die onbesnoeide wingerdstok dan afsny nie. Want dit is 'n jubeljaar, dit moet vir julle heilig wees: van die land af moet julle die opbrings daarvan eet.

En as jou broer by jou verarm en agterraak, moet jy hom ondersteun, soos 'n vreemdeling en bywoner, dat hy by jou kan lewe.

Jy moenie rente of wins van hom neem nie, maar jy moet jou God vrees, dat jou broer by jou kan lewe. Jou geld mag jy hom nie op rente gee nie, en jou eetware mag jy nie teen wins gee nie.

Ook al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan die HERE; dit is heilig aan die HERE.

Ook het die HERE vir Aäron gesê: Jy sal in hulle land nie erwe nie, en jy sal geen deel onder hulle hê nie. Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel. En kyk, Ek gee aan die kinders van Levi al die tiendes in Israel as erfdeel vir hulle dienswerk wat hulle verrig, die dienswerk van die tent van samekoms.

En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Jy moet ook met die Leviete spreek en aan hulle sê: As julle van die kinders van Israel die tiendes neem wat Ek aan julle van hulle as jul erfdeel gegee het, moet julle daarvan 'n offergawe aan die HERE afgee, 'n tiende van die tiende. En julle offergawe sal vir julle gereken word soos koring van die dorsvloer af en soos die volle opbrings uit die parskuip. Só moet julle ook 'n offergawe aan die HERE afgee van al julle tiendes wat julle van die kinders van Israel neem, en julle moet daarvan die offergawe aan die HERE aan die priester Aäron gee. Van al jul gawes moet julle die hele offergawe aan die HERE afgee, van al die beste daarvan, as die heilige gawe wat daarvan moet afgaan.

Waarom sou die naam van ons vader uit sy geslag weggeneem word, omdat hy geen seun gehad het nie? Gee ons 'n besitting onder die broers van ons vader. Toe bring Moses hulle regsaak voor die aangesig van die HERE. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Die dogters van Selófhad praat reg. Jy moet hulle sekerlik 'n erflike besitting onder die broers van hulle vader gee en die erfdeel van hulle vader op hulle laat oorgaan. En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sterwe en geen seun het nie, moet julle sy erfdeel op sy dogter laat oorgaan. En as hy geen dogter het nie, moet julle sy erfdeel aan sy broers gee. En as hy geen broers het nie, moet julle sy erfdeel aan die broers van sy vader gee. En as sy vader geen broers het nie, moet julle sy erfdeel aan sy bloedverwant gee wat naaste aan hom is uit sy geslag, en dié moet dit in besit neem. En dit moet vir die kinders van Israel 'n regsinsetting wees, soos die HERE Moses beveel het.

Daarom bring elkeen van ons as offer aan die HERE wat hy aan goue goed gevind het: armkettings en armbande, vingerringe, oorringe en halssierade, om versoening te doen vir ons siele voor die aangesig van die HERE.

So sal dan 'n erfdeel nie van een stam na 'n ander stam oorgaan nie; want die stamme van die kinders van Israel moet elkeen sy erfdeel vashou.

En jy mag nie steel nie.

En jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie; en jy mag nie na jou naaste se huis hunker nie--na sy landerye of sy dienskneg of sy diensmaagd, sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.

'n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; 'n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap;

sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon, en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het, vermeerder-- en jou hart hom dan verhef, dat jy die HERE jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het; wat jou deur die groot en vreeslike woestyn gelei het, deur giftige slange en skerpioene en 'n dorsland sonder water; wat vir jou water uit die klipharde rots laat kom het; wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen-- en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe. Maar dink aan die HERE jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met 'n eed beloof het, soos dit vandag is.

Want die HERE julle God is die God van die gode en die HERE van die here; die grote, magtige en gedugte God wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie; wat reg verskaf aan die wees en die weduwee, en die vreemdeling liefhet, sodat Hy hom brood en klere gee.

En daarheen moet julle jul brandoffers bring en julle slagoffers en julle tiendes en die offergawe van julle hand en julle gelofte-- en julle vrywillige offers en die eersgeborenes van julle beeste en van julle kleinvee.

Dan moet julle na die plek wat die HERE julle God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, alles bring wat ek julle beveel: julle brandoffers en julle slagoffers, julle tiendes en die offergawe van julle hand en al julle keurgelofte-offers wat julle die HERE sal belowe.

Jy mag in jou poorte nie eet die tiendes van jou koring en jou mos en jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en jou kleinvee en al jou gelofte-offers wat jy sal belowe, en jou vrywillige offers en die offergawe van jou hand nie.

Jy moet noukeurig die hele opbrings van jou saad--wat jaar vir jaar uit die land uitspruit--vertien. En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat jy kan leer om die HERE jou God altyd te vrees.

Aan die einde van sewe jaar moet jy 'n kwytskelding laat plaasvind. En dit is die saak van die kwytskelding: elke skuldeiser moet kwytskeld wat hy aan sy naaste geleen het; hy moet sy naaste en sy broer nie aanmaan nie, want tot eer van die HERE is daar 'n kwytskelding uitgeroep. Die uitlander mag jy aanmaan; maar wat jy by jou broer het, moet jou hand kwytskeld.

Want die HERE jou God seën jou soos Hy jou beloof het, sodat jy aan baie nasies sal uitleen, maar self nie hoef te leen nie; en jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie.

As daar by jou 'n arme is, een uit jou broers, in een van jou poorte, in jou land wat die HERE jou God jou sal gee, dan moet jy jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie. Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek.

Neem jou in ag, dat daar in jou hart geen slegte gedagte is nie, naamlik: Die sewende jaar, die jaar van kwytskelding, is naby--en jou oog dan jou arm broer skeef aankyk, en jy hom niks gee nie, en hy teen jou na die HERE roep, en dit sonde in jou word. Jy moet aan hom gewillig gee, en jou hart moet nie bedroef wees as jy aan hom gee nie; want ter wille hiervan sal die HERE jou God jou seën in al jou werk en in alles waar jy jou hand aan slaan. Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land.

Dan moet jy die fees van die weke hou vir die HERE jou God ooreenkomstig die vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate die HERE jou God jou sal seën.

elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou gegee het.

Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie; hy mag ook vir hom nie uitermate baie silwer en goud aanskaf nie.

En hy mag geen erfdeel hê onder sy broers nie; die HERE is sy erfdeel soos Hy hom beloof het.

Jou naaste se grenslyn, deur die voorvaders getrek in jou erfdeel wat jy sal erwe in die land wat die HERE jou God jou sal gee om dit in besit te neem, mag jy nie verlê nie.

Jy mag jou broer geen rente oplê nie, rente van geld, rente van eetware, rente van enigiets wat 'n mens teen rente uitleen nie. Die uitlander mag jy rente oplê, maar jou broer mag jy geen rente oplê nie, sodat die HERE jou God jou kan seën in alles waar jy jou hand aan slaan in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.

As iemand betrap word wat 'n persoon uit sy broers, uit die kinders van Israel, steel en hom hard behandel en hom verkoop, dan moet dié dief sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.

As jy jou wingerd oes, moet jy agter jou nie skoon afoes nie; vir die vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees.

en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, HERE, my gegee het. Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van die HERE jou God en jou neerbuig voor die aangesig van die HERE jou God. En jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die HERE jou God jou en jou huis gegee het; jy en die Leviet en die vreemdeling wat by jou is.

As jy al die tiendes van jou opbrings klaar afgesonder het in die derde jaar, die jaar van die tiendes, dan moet jy aan die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gee, dat hulle in jou poorte kan eet en versadig word. En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God sê: Ek het die heilige goed uit die huis weggebring en dit ook aan die Leviet en die vreemdeling, die wees en die weduwee gegee, geheel en al volgens u gebod wat U my beveel het; ek het geeneen van u gebooie oortree of vergeet nie.

En die HERE sal die goeie aan jou oorvloedig gee in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land, in die land wat die HERE aan jou vaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee. Die HERE sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie.

Maar al die silwer en goud en die koper-- en ystervoorwerpe is heilig aan die HERE: dit moet by die skat van die HERE kom.

maar aan die stam van Levi het Moses geen erfdeel gegee nie; die HERE, die God van Israel, is self hulle erfdeel, soos Hy hulle beloof het.

Die HERE maak arm en maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy. Hy rig die geringe op uit die stof, uit die ashoop verhef Hy die behoeftige, om hulle te laat sit by die vorste en hulle 'n erestoel te laat beërwe. Want aan die HERE behoort die pilare van die aarde, en Hy het die wêreld daarop gevestig.

Daarom het die HERE Natan na Dawid gestuur. Toe hy by hom inkom, sê hy vir hom: Daar was twee manne in 'n sekere stad, die een was ryk en die ander arm. Die ryke het 'n groot menigte kleinvee en beeste gehad, maar die arme het glad niks gehad nie, behalwe een klein ooilammetjie wat hy gekoop en in die lewe gehou het, en wat by hom en saam met sy kinders groot geword het; dit het van sy stukkie brood geëet en uit sy beker gedrink en in sy skoot geslaap, en dit was vir hom soos 'n dogter. En toe daar besoek kom by die ryk man, het hy ontsien om van sy kleinvee of beeste te neem om vir die reisiger wat by hom gekom het, iets te berei; daarom het hy die ooilam van die arm man geneem en dit berei vir die man wat by hom gekom het. En Dawid het baie kwaad geword vir die man en aan Natan gesê: So waar as die HERE leef, die man wat dit gedoen het, moet sterwe! En die ooilam moet hy viervoudig teruggee, omdat hy hierdie ding gedoen het en geen ontferming geken het nie.

Maar die koning het Arauna geantwoord: Nee, maar ek wil dit verseker van jou koop vir sy prys; en ek wil nie verniet aan die HERE my God brandoffers bring nie. En Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkels silwer. Toe het Dawid daar vir die HERE 'n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring; en die HERE het Hom oor die land ontferm, en die plaag is van Israel afgewend.

Verder het Salomo die huis van binne met fyn goud oorgetrek, en hy het 'n afsluiting met goue kettings gemaak voor die binneste vertrek, wat hy met goud oorgetrek het. En die hele huis het hy met goud oorgetrek, totdat die hele huis daarmee bedek was; en die hele altaar wat by die binneste vertrek behoort, het hy met goud oorgetrek.

En die vloer van die huis, van die binneste en die buitenste vertrek, het hy met goud oorgetrek.

Verder het Salomo al die voorwerpe wat in die huis van die HERE was, gemaak: die goue altaar en die tafel waar die toonbrode op moes lê, van goud; en die kandelaars, vyf regs en vyf links, voor die binneste vertrek, van fyn goud; en die blomwerk en die lampe en die snuiters, van goud; en die skottels en die messe en die komme en die rookpanne en die vuurpanne, van fyn goud; en die skarniere vir die deure van die binneste vertrek, van die Allerheiligste, en vir die deure van die saal, van die hoofvertrek, van goud.

En die gewig van Salomo se inkomste aan goud in een jaar was ses honderd ses en sestig talente goud,

En die hele drinkservies van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die huis van die Líbanon-bos van fyn goud; silwer was daar nie by nie: dit is in die dae van Salomo as niks gereken nie. Want die koning het Tarsis-skepe op die see gehad by die skepe van Hiram; een maal in drie jaar het die Tarsis-skepe ingekom, gelaai met goud en silwer, ivoor en ape en poue. So het koning Salomo dan groter geword as al die konings van die aarde, in rykdom en wysheid.

Terwyl sy loop om dit te gaan haal, roep hy na haar en sê: Bring tog vir my 'n stukkie brood saam. Maar sy antwoord: So waar as die HERE u God leef, ek het nie 'n broodkoek nie, net maar 'n handvol meel in die pot en 'n bietjie olie in die kruik; en hier maak ek nou 'n paar houtjies bymekaar; dan gaan ek en maak dit vir my en my seun klaar, dat ons dit kan eet en sterwe. En Elía sê vir haar: Wees nie bevrees nie, gaan heen, doen volgens jou woord; maar maak eers daarvan vir my 'n broodkoekie en bring dit uit vir my; daarna kan jy vir jóu en jou seun iets klaarmaak. Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde sal gee. En sy het gegaan en gehandel volgens die woord van Elía; en sy het geëet--sy en hy en haar gesin dae lank: die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elía gespreek het.

Toe sê Elísa vir haar: Wat kan ek vir jou doen? Gee my te kenne wat jy in die huis het. En sy antwoord: U dienares het glad niks in die huis nie, behalwe 'n flessie met olie. En hy sê: Gaan leen vir jou van buite af kanne, leë kanne van al jou bure; leen nie te min nie. Gaan dan in en sluit die deur agter jou en jou seuns toe, en giet in al daardie kanne en sit weg wat vol is. Sy het toe van hom af weggegaan en die deur agter haar en haar seuns toegesluit; en terwyl hulle vir haar aanbring, giet sy in. Sodra die kanne vol was, sê sy aan haar seun: Bring vir my nog 'n kan aan; maar hy antwoord haar: Daar is geen kan meer nie. Toe gaan die olie staan. Daarop kom sy om dit die man van God te kenne te gee; en hy sê: Gaan verkoop die olie en betaal jou skulde; van die orige kan jy en jou seuns dan lewe.

En Hiskía het al die silwer gegee wat in die huis van die HERE te vinde was en in die skatkamers van die huis van die koning. In dieselfde tyd het Hiskía die goud van die deure in die tempel van die HERE afgesny en van die deurposte wat Hiskía, die koning van Juda, oorgetrek het, en dit aan die koning van Assirië gegee.

En hy het daarvandaan uitgebring al die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning en al die goud van die voorwerpe afgesny wat Salomo, die koning van Israel, gemaak het in die tempel van die HERE, soos die HERE gespreek het. En hy het die hele Jerusalem weggevoer en al die owerstes en al die mense van vermoë, tien duisend ballinge, en al die smede en die slotmakers; niemand het oorgebly nie, behalwe die arm mense van die land.

En Jabes het die God van Israel aangeroep en gesê: As U my ryklik seën en my grondgebied vermeerder en u hand met my sal wees en U die onheil afweer, sodat my geen smart tref nie! En God het laat kom wat hy begeer het.

En selfs hulle nabestaandes tot by Issaskar en Sébulon en Náftali het brood gebring op esels en op kamele en op muile en op beeste, meelkos, vyekoeke en rosynekoeke en wyn en olie en beeste en kleinvee in menigte, want daar was blydskap in Israel.

En kyk, deur my moeitevolle arbeid het ek vir die huis van die HERE honderd duisend talente goud en 'n miljoen talente silwer gereed gelê, en die koper en die yster is onweegbaar; want dit is daar in groot hoeveelheid; en hout en klippe het ek in gereedheid gebring; en jy kan daar nog meer byvoeg.

En uit al my krag het ek gereed gelê vir die huis van my God: goud vir die goue en silwer vir die silwer-- en koper vir die koper--, yster vir die yster-- en hout vir die houtwerke; oniksstene en stene om in te lê, swart en veelkleurige stene, en allerhande kosbare stene en marmerstene in menigte. Bowendien, omdat ek behae het in die huis van my God, besit ek persoonlik goud en silwer; dit gee ek aan die huis van my God bo en behalwe alles wat ek vir die huis van die heiligdom in gereedheid gebring het:

En hulle het gegee vir die diens van die huis van God: aan goud vyf duisend talente en tien duisend darieke; en aan silwer tien duisend talente; en aan koper agttien duisend talente; en aan yster honderd duisend talente. En by wie edelgesteentes gevind is, hulle het dit gegee vir die skat van die huis van die HERE onder toesig van Jéhiël, die Gersoniet. En die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met 'n volkome hart het hulle vrywillig aan die HERE gegee, en ook koning Dawid was baie bly.

En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak.

Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.

HERE onse God, hierdie ganse rykdom wat ons berei het om vir U, vir u heilige Naam, 'n huis te bou--dit kom uit u hand en dit behoort alles aan U.

Toe sê God aan Salomo: Omdat dít in jou hart gewees het, en jy nie rykdom, skatte en eer en die lewe van jou haters of selfs 'n lang lewe begeer het nie, maar wysheid en kennis vir jou begeer het om my volk waaroor Ek jou koning gemaak het, te kan regeer-- daarom word dié wysheid en dié kennis aan jou gegee. Ek sal jou ook rykdom en skatte en eer gee soos die konings wat voor jou gewees het, nie gehad het nie, en soos ná jou nie sal wees nie.

En die koning het die silwer en die goud in Jerusalem gemaak soos die klippe, en die seders het hy gemaak soos die wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte.

En hy het die volk, die inwoners van Jerusalem, bevel gegee om die aandeel van die priesters en die Leviete te gee, sodat hulle aan die wet van die HERE al hulle krag kon wy. En toe die bevel verbrei is, het die kinders van Israel baie eerstelinge van koring, mos en olie en heuning en van elke opbrings van die land ingelewer en die tiendes van alles in menigte ingebring.

En daar het 'n groot geroep van die volk en van hulle vroue ontstaan teen hulle broers, die Jode; en sommige het gesê: Ons seuns en ons dogters, ons is baie; ons wil koring hê, dat ons kan eet en lewe! En ander het gesê: Ons lande en ons wingerde en ons huise moes ons verpand, sodat ons koring kon koop in die hongersnood! En ander weer het gesê: Ons het op ons lande en ons wingerde geld geleen vir die belasting aan die koning. En nou, ons vlees is soos die vlees van ons broers en ons kinders soos hulle kinders, en tog moet ons nou ons seuns en ons dogters tot slawe verneder, en van ons dogters is al verneder sonder dat ons daar iets aan kan doen, en ons lande en ons wingerde behoort aan ander. En ek was baie verontwaardig toe ek hulle geroep en hierdie woorde hoor. En ek het by myself beraadslaag en met die edeles en die leiers getwis en aan hulle gesê: Julle leen uit op woeker, elkeen aan sy broer! En ek het 'n groot vergadering teen hulle belê en aan hulle gesê: Ons het ons Joodse broers wat aan die heidene verkoop was, na ons vermoë losgekoop; en tog verkoop júlle jul broers, sodat hulle hul aan ons moet verkoop. En hulle het geswyg en geen antwoord gevind nie. Verder het ek gesê: Dit is nie goed wat julle doen nie. Moet julle nie in die vrees van onse God wandel ter wille van die smaad van die heidene, ons vyande, nie? Ek self, my broers en my mense het ook aan hulle geld en koring geleen; laat ons tog hierdie lening kwytskeld. Gee dan vandag nog hulle lande, hulle wingerde, hulle olyfbome en hulle huise aan hulle terug, en die honderdste deel van die geld en die koring, die mos en die olie wat julle aan hulle geleen het. Daarop sê hulle: Ons sal dit teruggee en niks van hulle vorder nie; ons sal net so handel soos u gesê het. En ek het die priesters geroep en hulle laat sweer om volgens hierdie woord te handel. Ook het ek my boesem uitgeskud en gesê: Mag God so elke man uitskud wat hierdie woord nie bevestig nie, uit sy huis en uit sy besitting; en mag hy so uitgeskud en leeg wees! Toe sê die hele vergadering: Amen! en hulle het die HERE geprys. En die volk het volgens hierdie woord gehandel.

En ons, die priesters, die Leviete en die volk het die lot gewerp oor die lewering van hout, om dit volgens ons families op vasgestelde tye jaar vir jaar te bring na die huis van onse God om vuur te maak op die altaar van die HERE onse God soos geskrywe staan in die wet; en om die eerstelinge van ons grond en die eerstelinge van allerhande vrugtebome jaar vir jaar in die huis van die HERE te bring; en om die eersgeborenes van ons seuns en ons vee, soos geskrywe staan in die wet, en die eersgeborenes van ons grootvee en ons kleinvee te bring in die huis van onse God vir die priesters wat diens doen in die huis van onse God; en dat ons die eerstelinge van ons growwe meel en van ons offergawes en van die vrugte van allerhande bome, van mos en olie, sou bring vir die priesters in die kamers van die huis van onse God en die tiendes van ons grond vir die Leviete, terwyl hulle, die Leviete, die tiendes sou invorder in al ons landboustede. En die priester, die seun van Aäron, moet by die Leviete wees as die Leviete die tiendes invorder, en die Leviete moet 'n tiende van die tiendes na die huis van onse God bring, in die kamers van die skathuis. Want in die kamers moet die kinders van Israel en die kinders van Levi die offergawe van koring, mos en olie bring, omdat die gereedskappe van die heiligdom en die diensdoende priesters en die poortwagters en die sangers daar is; want ons wou die huis van onse God nie laat verwaarloos nie.

vir hom 'n groot kamer ingerig waar hulle vroeër die spysoffer, die wierook en die gereedskappe en die tiendes van koring, mos en olie, die wettige aandeel van die Leviete en die sangers en die poortwagters, en die offergawe aan die priesters neergesit het.

En die hele Juda het die tiendes van koring en mos en olie na die voorraadkamers gebring.

Daarby was sy besitting sewe duisend stuks kleinvee en drie duisend kamele en vyf honderd paar beeste en vyf honderd eselinne en 'n groot menigte slawe, sodat dié man ryker was as al die kinders van die Ooste. En sy seuns was gewoond om 'n maaltyd aan te rig in die huis van elkeen op sy dag. Dan stuur hulle en nooi hul drie susters om saam met hulle te eet en te drink.

en gesê: Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!

Rykdom het hy verslind, maar hy moet dit weer uitspuug; uit sy buik dryf God dit weg.

Want hy het die armes verdruk, aan hulle lot oorgelaat; 'n huis het hy geroof, maar hy sal dit nie opbou nie.

In voorspoed slyt hulle hul dae, en in 'n oomblik sink hulle in die doderyk af.

Want jy het pand geneem van jou broers sonder noodsaak, en die klere van die naaktes het jy uitgetrek. Aan die vermoeide het jy geen water gegee om te drink nie, en aan die hongerige het jy die brood onthou.

Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou.

Grenslyne verlê hulle; 'n trop vee roof hulle en laat dit wei. Die esel van die wese dryf hulle weg, die bees van die weduwee neem hulle as pand. Hulle stoot die behoeftiges van die pad af; die ellendiges van die land kruip almal saam weg. Kyk, soos wilde-esels in die woestyn trek hulle uit na hul werk, terwyl hulle soek na voedsel; die wildernis lewer brood vir hulle, vir die kinders. Op die veld gaan hulle voer haal, en in die wingerd van die goddelose hou hulle na-oes. Naak bring hulle die nag deur, sonder klere, en hulle het geen bedekking teen die koue nie. Van die stortbui van die berge word hulle nat; en by gebrek aan skuiling druk hulle hul teen die rotse vas. Hulle ruk die weeskind van die bors af; en wat die arme aan het, verpand hulle. Naak gaan hulle heen, sonder klere; en terwyl hulle honger het, dra hulle gerwe aan.

Want die ondergang wat God bewerk, was 'n skrik vir my; en weens sy hoogheid was ek onmagtig. As ek op goud my hoop gestel het en vir die fyn goud gesê het: My vertroue! As ek bly gewees het, omdat my vermoë groot was en my hand baie verwerf het;

Hoeveel minder aan Hom wat die vorste nie voortrek nie en op die vername nie meer ag gee as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande.

En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die HERE het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen.

En in die hele land is geen vroue gevind so mooi soos die dogters van Job nie; en hulle vader het hulle 'n erfdeel gegee onder hulle broers.

Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.

Want die behoeftige sal nie vir altyd vergeet word, die verwagting van die ellendiges nie vir ewig verlore gaan nie.

Want die goddelose juig oor die begeerte van sy siel; en hy seën hom wat onregverdige wins maak, hy verag die HERE.

wat sy geld nie gee op woeker en geen omkoopgeskenk aanneem teen die onskuldige nie. Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie.

Die HERE is die deel van my erfenis en van my beker; U onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.

'n Psalm van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.

Jod. Vrees die HERE, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie.

Al my beendere sal sê: HERE, wie is soos U? U wat die ellendige red van die wat sterker is as hy; ja, die ellendige en behoeftige van sy berower!

Bet. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.

Noen. Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie. Die hele dag ontferm hy hom en leen uit, en sy nageslag is 'n seën.

Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.

Al is ek ellendig en behoeftig- die Here dink aan my; U is my hulp en my redder; my God, vertoef tog nie!

Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die HERE sal hom red in die dag van onheil. Die HERE sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie.

die wat vertrou op hulle vermoë en hulle beroem op die grootheid van hulle rykdom? Niemand kan ooit 'n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend),

Kyk, die man wat God nie tot sy toevlug gemaak het nie, maar vertrou het op die grootheid van sy rykdom, sterk was in sy begeerlikheid!

Vertrou nie op verdrukking en bou geen ydele hoop op rowery nie; as die vermoë aangroei, sit daar die hart nie op nie!

Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red.

Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg. Red die swakke en behoeftige, bevry hulle uit die hand van die goddelose mense.

Want die HERE God is 'n son en skild; die HERE sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.

Hom gewend het tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag het nie.

He. Oorvloed en rykdom is in sy huis; Wau. en sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid.

Tet. Gelukkig die man wat hom ontferm en uitleen, Jod. wat sy sake volgens reg besorg.

Wat die geringe uit die stof oprig, die behoeftige van die ashoop af verhef; om hom te laat sit by die edeles, by die edeles van sy volk.

Hulle afgode is silwer en goud, 'n werk van mensehande.

Die HERE sal julle vermenigvuldig, julle en jul kinders. Julle is geseënd deur die HERE wat hemel en aarde gemaak het.

Wat sal ek die HERE vergeld vir al sy weldade aan my?

Ajin. Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd. Pe. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.

So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak: dit ontneem sy besitter die lewe.

as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind

Vereer die HERE uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.

Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry; want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.

Hou 'n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie. Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, dan sal ek môre gee--terwyl jy dit het.

My seun, as jy vir jou naaste borg gestaan het, vir 'n vreemde jou handslag gegee het, verstrik is in die woorde van jou mond, gevang is deur die woorde van jou mond, doen dan dit, my seun, om jouself te red--want jy het in die hand van jou naaste geraak--gaan, werp jou neer en bestorm jou naaste, gun jou oë geen slaap en jou ooglede geen sluimering nie; red jou soos 'n gemsbok uit die hand, en soos 'n voël uit die hand van 'n voëlvanger.

'n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het; en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee.

Rykdom en eer is by my, duursame goed en geregtigheid. My vrug is beter as goud en as fyn goud, en my opbrings as uitgesoekte silwer. Ek wandel op die weg van geregtigheid, in die middel van die paaie van reg, om die wat my liefhet, 'n besitting te laat erwe, en hulle skatkamers maak ek vol.

Skatte deur goddeloosheid verwerf, bring geen voordeel nie, maar geregtigheid red van die dood. Die HERE laat die regverdige nie honger ly nie, maar die begeerlikheid van die goddelose stoot Hy weg. Hy word arm wat met 'n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk. Hy wat in die somer wegbêre, is 'n verstandige seun; hy wat vas slaap in die oestyd, is 'n seun wat skande maak.

Die goed van die ryke is vir hom 'n sterk stad; die ondergang van die behoeftiges is hulle armoede.

Die tong van die regverdige is uitgesoekte silwer; die hart van die goddelose is min werd. Die lippe van die regverdige help baie mense reg; maar die dwase sterf deur gebrek aan verstand. Die seën van die HERE--dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.

'n Valse weegskaal is vir die HERE 'n gruwel, maar in 'n volle gewig het Hy behae.

Baie sleg word iemand behandel as hy vir 'n ander borg gestaan het; maar hy wat haat wie die handslag gee, is veilig. 'n Aanvallige vrou verkry eer, en die geweldenaars verkry rykdom.

Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek. Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf. Hy wat koring terughou, hom vloek die mense; maar seëning kom op die hoof van hom wat koring verkoop. Wie die goeie nastreef, soek wat welgevallig is; maar hy wat die kwaad soek, oor hom sal dit kom. Wie op sy rykdom vertrou, dié sal val; maar die regverdiges sal soos blare uitspruit.

Die siel van die luiaard begeer, en daar is niks nie, maar die siel van die vlytiges word versadig.

Daar is een wat hom ryk hou, en hy het glad niks nie; een wat hom arm hou, en hy het baie goed. Die losprys vir die lewe van 'n man is sy rykdom, maar die arme hoor geen dreigement nie.

Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer.

'n Goeie mens laat sy kindskinders erwe, maar die vermoë van die sondaar word vir die regverdige weggebêre.

Die arme word selfs deur sy naaste gehaat, maar die vriende van die ryke is talryk. Wie sy naaste verag, doen sonde; maar hy wat medelyde het met die ellendiges, hy is gelukkig. Verdwaal hulle nie wat onheil bewerk nie? Maar liefde en trou is vir die wat die goeie bewerk. In enige moeitevolle arbeid is voordeel, maar praatjies is net tot gebrek.

Wie die geringe verdruk, versmaad sy Maker, maar hy wat hom oor die behoeftige ontferm, eer Hom.

In die huis van die regverdige is 'n groot skat, maar in die inkomste van die goddelose is verwarring.

Liewer 'n bietjie in die vrees van die HERE, as 'n groot skat en onrus daarby. Liewer 'n porsie groente waar liefde by is, as 'n vetgevoerde bees en haat daarby.

Wie onregverdige wins maak, bring sy huis in beroering; maar hy wat geskenke haat, sal lewe.

Liewer 'n bietjie met geregtigheid, as 'n menigte van inkomste met onreg.

Hoeveel beter is dit om wysheid te verkry as goud, en verkiesliker om verstand te verwerf as silwer.

Beter is 'n stuk droë brood en rus daarby as 'n huis vol offermaaltye met getwis. 'n Verstandige dienaar sal heers oor 'n seun wat skande maak, en onder die broers sal hy die erfenis verdeel. Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die HERE toets die harte.

Dit is 'n verstandelose mens wat handslag gee, wat borg staan vir sy naaste.

Die arme spreek smekinge, maar die ryke antwoord harde dinge.

Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die HERE; en Hy sal hom sy weldaad vergelde.

In die herfs ploeg die luiaard nie; en verlang hy iets in die oestyd, dan is daar niks nie.

Twee soorte gewig, twee soorte maat--hulle altwee is vir die HERE 'n gruwel.

Soet is vir 'n mens die brood van bedrog, maar daarna word sy mond vol gruisklippertjies.

'n Besit wat by die begin haastig bymekaargeskraap is--die einde daarvan sal tog nie geseënd wees nie.

Die planne van die vlytige is net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, kom net tot gebrek. Die verwerwing van skatte deur 'n valse tong is 'n verwaaide asem--dodelike valstrikke.

Wie sy oor toestop vir die geskreeu van die arme, hy sal self ook roep en nie verhoor word nie.

Wie van vrolikheid hou, is 'n man van gebrek; hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie. Die goddelose is 'n losprys vir die regverdige, en in die plek van die opregtes kom die ontroue. Dit is beter om in 'n woeste land te woon as by 'n twisgierige vrou en ergernis. 'n Kosbare skat en olie is in die woning van die regverdige, maar 'n dwase mens bring dit deur.

Die begeerte van die luiaard sal hom doodmaak, want sy hande weier om te werk; die hele dag deur word daar dringend begeer, maar die regverdige gee en hou nie terug nie.

'n Naam is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud. Rykes en armes ontmoet mekaar, die HERE het hulle almal gemaak.

Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is 'n slaaf van die man wat uitleen. Wie onreg saai, sal onheil maai; en die stok van sy grimmigheid sal verdwyn. Wie vriendelik is, hy word geseën, omdat hy van sy brood aan die arme gee.

Wie die arme verdruk, bevoordeel hom; hy wat aan die ryke gee, verarm hom net.

Beroof die arme nie, omdat hy arm is, en verbrysel die ellendige nie in die poort nie. Want die HERE sal hulle saak verdedig en hulle berowers van die lewe berowe.

Wees nie onder die wat 'n handslag gee, onder die wat vir skulde borg staan nie. As jy nie het om te betaal nie, waarom sal hulle jou bed onder jou uit neem?

Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid. Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!

Want 'n drinker en 'n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.

Deur wysheid word 'n huis gebou, en deur verstand word dit bevestig; en deur kennis word die kamers gevul met allerhande kosbare en lieflike goed.

Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie hande-vou om uit te rus; dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos 'n gewapende man.

Goue appels op versierde silwerborde, so is 'n woord op sy tyd gespreek.

As jou vyand honger het, gee hom brood om te eet; en as hy dors het, gee hom water om te drink. Want jy hoop gloeiende kole op sy hoof, en die HERE sal jou dit vergelde.

want 'n skat is nie vir ewig nie--of sal 'n kroon wees van geslag tot geslag?

Die arme wat in sy regskapenheid wandel, is beter as die verkeerde wat twee paaie wil loop en daarby ryk is. Wie die wet bewaar, is 'n verstandige seun; maar hy wat met deurbringers omgaan, steek sy vader in die skande. Wie sy goed vermeerder deur rente en deur woeker, maak bymekaar vir een wat hom oor die armes sal ontferm.

'n Ryk man is wys in sy eie oë; maar 'n arme wat verstandig is, ondersoek hom terdeë.

Wie sy land bewerk, het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het armoede volop. 'n Betroubare man is ryk aan seëninge; maar hy wat haastig is om ryk te word, sal nie ongestraf bly nie. Om partydig te wees, is nie goed nie, want ook vir 'n stuk brood kan 'n man 'n oortreding begaan. 'n Afgunstige man oorhaas hom om ryk te word, en hy weet nie dat gebrek oor hom sal kom nie. Hy wat 'n mens teregwys, sal agterna meer guns vind as hy wat vlei. Wie sy vader of sy moeder berowe, en sê: Dit is geen oortreding nie! --hy is 'n bondgenoot van 'n man wat verderflik handel.

Wie aan die arme gee, sal nie gebrek ly nie; maar hy wat sy oë toemaak, word swaar vervloek.

Die regverdige ken die reg van die armes, maar die goddelose verkry geen kennis nie.

Hy wat saam met 'n dief deel, haat sy eie siel; hy hoor die beswering, maar openbaar niks nie.

Hou valsheid en leuentaal ver van my af; gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.

Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en verskaf reg aan die ellendige en die behoeftige. Alef. Wie sal 'n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale.

Kaf. Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige.

Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my wingerde geplant. Ek het vir my tuine en parke aangelê en daar allerhande vrugtebome in geplant. Ek het vir my damme gemaak om daaruit 'n bos met jong bome te besproei. Ek het slawe en slavinne gekoop en ook dié verkry wat in my huis gebore is; ek het ook 'n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Jerusalem gewees het. Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en 'n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte. En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het; ook het my wysheid by my gebly. En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid. Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het--en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.

Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs.

Soos hy uit die skoot van sy moeder uitgegaan het, gaan hy naak weer heen soos hy gekom het; en hy sal vir sy moeitevolle arbeid niks wegdra wat hy met hom kan saamneem nie.

Ook vir elke mens aan wie God rykdom en skatte gegee het, en wat Hy in staat stel om daarvan te eet en sy deel te neem en hom te verheug by sy moeitevolle arbeid, is dit 'n gawe van God.

'n Man aan wie God rykdom en skatte en eer gee, sodat hom niks ontbreek van alles wat hy kan begeer nie, maar God stel hom nie in staat om daarvan te geniet nie, want 'n vreemde geniet dit; dit is vergeefse moeite en 'n bitter lyding.

Vir plesier maak hulle maaltye klaar, en die wyn maak die lewe vrolik, en die geld verskaf alles.

Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie.

En hulle land is vol silwer en goud, en daar is geen end aan hulle skatte nie; en hulle land is vol perde, en daar is geen end aan hulle strydwaens nie. Ook is hulle land vol afgode; voor die werk van hul hande buig hulle hul neer, voor wat hulle vingers gemaak het.

om die armes van die gereg weg te stoot en om die ellendiges onder my volk van die reg te beroof, sodat die weduwees hulle buit kan word en hulle die wese kan plunder.

Maar die edele beraam edele dade, en hy hou stand in wat edel is.

o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.

Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?

en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.

Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan. 'n Menigte kamele sal jou oordek, die jong kamele van Mídian en Efa; hulle sal almal uit Skeba kom; hulle bring goud en wierook en verkondig met blydskap die roemryke dade van die HERE.

Vir koper bring Ek goud en vir yster bring Ek silwer, en vir hout koper en vir klippe yster; en Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders.

En jy, verwoeste, wat gaan jy doen? Al trek jy skarlaken klere aan, al versier jy jou met goue sieraad, al laat jy jou oë groter lyk met swart verf--tevergeefs maak jy jou mooi; minnaars versmaad jou, hulle soek jou lewe.

Jou rykdom en jou skatte sal Ek as buit gee, sonder betaling; en dit weens al jou sondes en in jou hele grondgebied.

Jy wat by die groot waters woon, wat skatryk is, jou einde het gekom, die maat waarop jy afgesny word.

Kaf. Haar hele bevolking sug, hulle soek brood, hulle het hul kosbaarhede vir voedsel gegee, om hulleself te verkwik. Aanskou, HERE, en merk op dat ek 'n veragte geword het.

Hul silwer sal hulle op die strate gooi, en hulle goud sal 'n voorwerp van afsku wees; hul silwer en hul goud sal hulle nie kan red in die dag van die grimmigheid van die HERE nie; hul siel sal hulle daarmee nie versadig of hul ingewande daarmee vul nie, want dit was die struikelblok tot hulle ongeregtigheid.

Kyk, dít was die ongeregtigheid van jou suster Sodom: In trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus het sy en haar dogters geleef, maar sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk nie. En toe hulle hoogmoedig was en gruwelikheid voor my aangesig bedryf het, het Ek, toe Ek dit sien, hulle weggeruim.

en niemand verdruk nie; wat hy vir skuld as pand geneem het, teruggee; geen roof pleeg nie; aan die wat honger het, sy brood gee en die wat naak is, met 'n kleed toedek; nie leen op rente en geen woeker neem nie; sy hand terughou van onreg, eerlike regspraak oefen tussen man en man; in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou om eerlik te handel--hy is regverdig, hy sal sekerlik lewe, spreek die Here HERE.

die ellendige en behoeftige verdruk, roof pleeg, die pand nie teruggee nie en sy oë opslaan na die drekgode, gruwelike dinge doen, op rente leen en woeker neem--sal hy lewe? Hy sal nie lewe nie; al hierdie gruwels het hy gedoen; hy moet sekerlik gedood word; sy bloedskuld is op hom.

Hulle het omkoopgeskenke in jou aangeneem om bloed te vergiet; rente en woeker het jy geneem en jou naaste te veel laat betaal deur verdrukking, maar My het jy vergeet, spreek die Here HERE.

Die mense van die land pleeg geweld en eien hulle geroofde goed toe; ook verdruk hulle die ellendige en behoeftige, en teenoor die vreemdeling pleeg hulle geweld sonder reg. En Ek het onder hulle 'n man gesoek wat 'n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.

Deur jou wysheid en deur jou verstand het jy vir jou rykdom verkry, ja, jy het goud en silwer in jou skatkamers verwerf; deur die grootheid van jou wysheid in jou koophandel het jy jou rykdom vermeerder, en jou hart het hoogmoedig geword deur jou rykdom; daarom, so sê die Here HERE: Omdat jy jou hart gemaak het soos die hart van 'n god, daarom, kyk, Ek bring vreemdes oor jou, die geweldigste nasies, en hulle sal hul swaarde trek teen die skoonheid wat jou wysheid verwerf het, en jou glans ontheilig.

en sê: Ek sal optrek teen die land wat ooplê, ek sal kom by rustige mense wat in veiligheid woon; wat almal woon sonder muur en geen grendel of poorte het nie; om buit te maak en roof te rowe, om jou hand uit te steek teen die puinhope wat weer bewoon is, en teen 'n volk wat uit die nasies versamel is, wat vee en goed verwerf het, wat op die middelpunt van die aarde woon. Skeba en Dedan en die koopmans van Tarsis en al sy jong leeus sal vir jou sê: Kom jy om buit te maak? Het jy jou menigte bymekaar laat kom om roof te rowe? Om silwer en goud weg te dra, om vee en goed weg te neem, om 'n groot buit te maak?

By die genot van die wyn het Bélsasar bevel gegee om die goue en silwervoorwerpe te bring wat sy vader Nebukadnésar uit die tempel van Jerusalem weggevoer het, sodat die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue daaruit kon drink. Toe het hulle die goue voorwerpe gebring wat uit die tempel, uit die huis van God in Jerusalem weggevoer was, en die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue het daaruit gedrink. Hulle het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys.

Hoe meer hulle vermenigvuldig het, des te meer het hulle teen My gesondig. Ek sal hulle heerlikheid in skande verander.

Kanaän--in sy hand is daar 'n valse weegskaal, hy hou daarvan om af te pers. Maar Efraim sê: Tog het ek ryk geword, ek het vir my 'n vermoë verwerf. Alles wat ek verwerf het, is nie genoeg om op my enige sondeskuld te lê nie.

En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het--my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het. Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die HERE julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het, en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.

Daarom, omdat julle die arm man vertrap en van hom 'n heffing van koring neem, het julle huise van gekapte klippe gebou, maar julle sal nie daarin woon nie; julle het pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink nie. Want Ek weet dat julle oortreding menigvuldig en julle sondes geweldig is, julle wat die vyande is van die regverdige, wat omkoopgeld aanneem en die behoeftiges wegstoot in die poort.

Hoor dit, julle wat die behoeftige vertrap en daarop uit is om die ootmoediges van die land uit te roei, deur te sê: Wanneer is die nuwemaan verby, sodat ons koring kan verkoop, en die sabbat, sodat ons die graanskuur kan oopsluit--om die efa te verklein en die sikkel te vergroot en bedrieglik te handel met 'n valse weegskaal; om die armes vir geld te koop en die behoeftige vir 'n paar skoene; ook die afval van die koring sal ons verkoop.

Ja, hulle begeer velde en roof dit; ook huise en neem dit. So pleeg hulle dan geweld teenoor die man en sy huis, teenoor die mens en sy erfdeel.

Sal hulle nie almal oor hom 'n spreuk, 'n spotlied aanhef nie, raaisels oor hom maak nie, en sê: Wee die man wat hom verryk met wat nie aan hom behoort nie--hoe lank? --en hom beswaar met verpande goed. Sal die wat jou byt, nie skielik opstaan en jou skrikaanjaers nie opwaak, sodat jy vir hulle 'n prooi word nie?

En hulle rykdom sal geplunder word, en hulle huise verwoes word; en as hulle huise bou, sal hulle dit nie bewoon nie; en as hulle wingerde plant, sal hulle die wyn daarvan nie drink nie.

Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie, maar deur die vuur van sy ywer sal die hele aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, 'n verskriklike, oor die inwoners van die aarde.

Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die HERE van die leërskare.

Daarop sê ek vir hulle: As dit goed is in julle oë, gee dan my loon; en so nie, laat dit dan staan. Toe het hulle my loon afgeweeg: dertig sikkels silwer. Hierop sê die HERE vir my: Gooi dit vir die pottebakker--die heerlike prys waarmee Ek deur hulle gewaardeer is! En ek het die dertig sikkels silwer geneem en dit in die huis van die HERE vir die pottebakker gegooi.

Mag 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie.

En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre.

Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.

En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry. En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam. Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie.

Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie. Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie 'n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.

gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!

Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe--wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam--wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.

Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.

As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!

En Jesus sê vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.

Moenie vir julle goud of silwer of koper in julle beurse aanskaf nie; geen reissak vir die pad of twee kledingstukke of skoene of 'n stok nie; want die arbeider is sy voedsel werd.

En elkeen wat een van hierdie kleintjies net 'n beker kou water laat drink, omdat hy 'n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.

En 'n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd--, die ander sestig--, die ander dertigvoudig.

En by wie in die dorings gesaai is--dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar. En by wie op die goeie grond gesaai is--dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd,die ander sestig--, die ander dertigvoudig.

Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat 'n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.

Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?

En toe hulle in Kapérnaüm kom, het die wat die tempelbelasting ontvang, na Petrus gegaan en gesê: Betaal julle Meester nie die tempelbelasting nie? Hy antwoord: Ja. En toe hy in die huis inkom, was Jesus hom voor en sê: Wat dink jy, Simon? Van wie neem die konings van die aarde tol of belasting--van hulle seuns of van die vreemdelinge? Petrus antwoord Hom: Van die vreemdelinge. Jesus sê vir hom: Dan is die seuns vry. Maar dat ons hulle geen aanstoot mag gee nie, gaan na die see toe, gooi 'n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom; en as jy sy bek oopmaak, sal jy 'n stater kry; neem dit en gee dit aan hulle vir My en vir jou.

Daarom word die koninkryk van die hemele vergelyk met 'n sekere koning wat met sy diensknegte wou afreken. En toe hy begin afreken, word daar een na hom gebring wat tien duisend talente skuldig was. En omdat hy nie kon betaal nie, gee sy heer bevel dat hy verkoop moet word, en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, en dat betaal moet word. Toe val die dienskneg neer en buig voor hom en sê: Heer, wees lankmoedig met my, en ek sal u alles betaal. En die heer van daardie dienskneg het innig jammer vir hom gevoel en hom losgelaat en hom die skuld kwytgeskeld. Maar toe daardie dienskneg uitgaan en een van sy medediensknegte vind wat hom honderd pennings skuldig was, het hy hom aan die keel gegryp en gesê: Betaal my wat jy skuld. Sy mededienskneg val toe voor sy voete neer en smeek hom en sê: Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal. En hy wou nie, maar het gegaan en hom in die gevangenis gewerp totdat hy die skuld sou betaal het. En toe sy medediensknegte sien wat gebeur het, was hulle baie bedroef, en hulle het gegaan en aan hulle heer meegedeel alles wat gebeur het. Daarop roep sy heer hom en sê vir hom: Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie? En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was. So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.

Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My. Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad.

En Jesus sê vir sy dissipels: Voorwaar Ek sê vir julle dat 'n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan. En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. Toe sy dissipels dit hoor, was hulle baie verslae en sê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.

Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees? En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel. En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe.

Want die koninkryk van die hemele is soos 'n huisheer wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. En nadat hy met die arbeiders ooreengekom het vir 'n penning op 'n dag, stuur hy hulle in sy wingerd. En omtrent die derde uur gaan hy uit en sien ander ledig op die mark staan. En hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal ek aan julle gee. En hulle het gegaan. Weer het hy omtrent die sesde en die negende uur uitgegaan en net dieselfde gedoen. En omtrent die elfde uur gaan hy uit en vind ander ledig staan en sê vir hulle: Wat staan julle hier die hele dag ledig? Hulle antwoord hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal julle ontvang. En toe dit aand geword het, sê die heer van die wingerd vir sy opsigter: Roep die arbeiders en betaal hulle hul loon; en begin van die laastes af tot by die eerstes. En die wat omtrent die elfde uur begin het, het gekom en elkeen 'n penning ontvang. Die eerstes kom toe en dink dat hulle meer sal ontvang, en hulle het ook elkeen 'n penning ontvang. En toe hulle dit ontvang, murmureer hulle by die huisheer en sê: Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle gelykop behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het. Maar hy antwoord en sê vir een van hulle: Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir 'n penning nie? Neem dan wat joue is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou. Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is? So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.

En Jesus het in die tempel van God ingegaan en almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi. En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis moet 'n huis van gebed genoem word. Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.

sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê: Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom 'n penning gebring. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? Hulle antwoord Hom: Die keiser s'n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.

Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.

Want dit is soos 'n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou. En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan. En die een wat die vyf talente ontvang het, het daarmee gaan werk en vyf ander talente gewin. Net so het die een wat die twee ontvang het, self ook twee ander verdien. Maar hy wat die een ontvang het, het in die grond gaan grawe en die geld van sy heer weggesteek. En ná 'n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken. En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien. En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. En die een wat die twee talente ontvang het, kom ook en sê: Meneer, twee talente het u aan my toevertrou; hier het ek twee ander talente daarby verdien. Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u 'n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie; omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort. Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie. Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het. Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het; want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.

Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.

Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was 'n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of 'n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.

kom 'n vrou na Hom met 'n albaste fles met baie kosbare salf, en sy gooi dit op sy hoof uit terwyl Hy aan tafel was. En toe sy dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en sê: Waarvoor is hierdie verkwisting? Want hierdie salf kon duur verkoop en die geld aan die armes gegee geword het. Maar toe Jesus dit merk, sê Hy vir hulle: Waarom val julle die vrou lastig? Want sy het 'n goeie werk aan My gedoen. Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie.

en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg. En van toe af het hy 'n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.

Daarna het Judas, sy verraaier, toe hy sien dat Hy veroordeel was, berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien! En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang. En die owerpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te stort nie, omdat dit bloedgeld is. En nadat hulle saam raad gehou het, het hulle die stuk grond van die pottebakker daarmee gekoop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge. Daarom is dié stuk grond genoem Bloedgrond, tot vandag toe. Toe is vervul wat gespreek is deur Jeremia, die profeet, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem, die prys van die gewaardeerde wat hulle gewaardeer het vanweë die kinders van Israel; en hulle het dit gegee vir die grond van die pottebakker, soos die Here my beveel het.

En 'n ander deel het in die goeie grond geval, en dit het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra: een dertig-- en een sestig-- en een honderdvoudig.

En hulle by wie in die dorings gesaai word--dit is hulle wat die woord hoor, en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar. En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is--hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig-- en een sestig-- en een honderdvoudig.

Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle aan hulle iets om te eet. En hulle sê vir Hom: Moet ons gaan en vir twee honderd pennings brood koop en aan hulle gee om te eet? En Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? Gaan kyk. En toe hulle dit te wete gekom het, sê hulle: Vyf, en twee visse. En Hy het hulle beveel om almal klompies-klompies op die groen gras te laat sit. En hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig. Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en Hy breek die brode en gee dit aan sy dissipels om dit aan hulle voor te sit. Ook die twee visse het Hy onder almal verdeel. En almal het geëet en versadig geword; en hulle het van die brokstukke twaalf mandjies vol opgetel, en van die visse. En die wat van die brood geëet het, was omtrent vyf duisend manne.

diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.

Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red. Want wat sal dit 'n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?

En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort--gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My. Maar hy het treurig geword oor dié woord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

Toe kyk Jesus rond en sê vir sy dissipels: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan! En die dissipels was verbaas oor sy woorde; maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan! Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.

Toe begin Petrus vir Hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.

En hulle het in Jerusalem gekom; en toe Jesus in die tempel ingaan, begin Hy om die wat in die tempel verkoop en koop, uit te jaag; en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi; en Hy het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie. En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis moet 'n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.

En hulle kom en sê vir Hom: Meester, ons weet dat U waaragtig is en U aan niemand steur nie; want U sien nie die persoon van mense aan nie, maar U leer die weg van God in waarheid. Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons betaal of moet ons nie betaal nie? Maar Hy het hulle geveinsdheid geken en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Bring vir My 'n penning, dat Ek dit kan sien. En hulle het dit gebring. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? En hulle antwoord Hom: Die keiser s'n. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle was verwonderd oor Hom.

En Jesus het reg voor die skatkis gaan sit en gekyk hoe die skare geld in die skatkis gooi. En baie rykes het veel ingegooi. En daar kom een arm weduwee en gooi twee geldstukkies in, dit is 'n oortjie. Toe roep Hy sy dissipels na Hom en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.

En toe Hy in Betánië was, in die huis van Simon, die melaatse, terwyl Hy aan tafel was, kom daar 'n vrou met 'n albaste fles met egte, baie kosbare nardussalf; en sy breek die albaste fles en gooi dit op sy hoof uit. En daar was sommige wat by hulleself verontwaardig was en gesê het: Waarvoor het hierdie verkwisting van die salf plaasgevind? Want dit kon vir meer as drie honderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee geword het. En hulle het teen haar uitgevaar. Maar Jesus sê: Laat haar staan; waarom val julle haar lastig? Sy het 'n goeie werk aan My gedoen. Want die armes het julle altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen; maar My het julle nie altyd nie.

En toe hulle dit hoor, was hulle bly en het belowe om hom geld te gee. En hy het na 'n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.

En hy antwoord en sê vir hulle: Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen.

En tollenaars het ook gekom om gedoop te word, en vir hom gesê: Meester, wat moet ons doen? En hy antwoord hulle: Moenie meer invorder as wat julle voorgeskrywe is nie. En die soldate het hom ook gevra en gesê: En ons, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy.

Toe slaan Hy sy oë op oor sy dissipels en sê: Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God. Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag.

Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg. Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en ween.

Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie. Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie.

En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde.

En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang. Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.

Gee, en aan julle sal gegee word. 'n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

En Jesus antwoord en sê: 'n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na Jérigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê.

En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.

gee ons elke dag ons daaglikse brood;

As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?

Maar gee wat daarin is, as aalmoes, en dan is alles vir julle rein. Maar wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van die kruisement en die wynruit en elke groentesoort, en julle verwaarloos die reg en die liefde tot God. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.

En een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel. Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as 'n regter of deler oor julle aangestel? En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.

Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: 'n Ryk man se grond het goed gedra. En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s'n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.

En Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere. Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge? Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges! Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, 'n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.

Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

En Hy sê ook vir die man wat Hom genooi het: Wanneer jy 'n môre-- of middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie, sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer uitnooi en jy vergelding ontvang nie. Maar wanneer jy 'n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.

So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.

Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het. So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.

Hy het ook gesê: 'n Man het twee seuns gehad. En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel. En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na 'n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe. En toe hy alles deurgebring het, kom daar 'n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly. Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas. En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie. Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge. En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee 'n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.

En Hy het ook aan sy dissipels gesê: Daar was 'n ryk man wat 'n bestuurder gehad het; en hy is by hom aangeklaag as een wat sy besittings verkwis. En hy het hom geroep en vir hom gesê: Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie. Toe sê die bestuurder by homself: Wat sal ek doen? Want my heer neem die bestuurderskap van my weg. Spit kan ek nie; om te bedel, skaam ek my. Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is, hulle my in hulle huise kan ontvang. Toe roep hy die skuldenaars van sy heer, een vir een, en sê vir die eerste: Hoeveel skuld jy aan my heer? En hy antwoord: honderd vat olie. En hy sê vir hom: Neem jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig. Daarna sê hy vir 'n ander een: En jy, hoeveel skuld jy? En hy antwoord: honderd mud koring. Toe sê hy vir hom: Neem jou skuldbewys en skryf tagtig. En die heer het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy verstandig gehandel het; want die kinders van hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van die lig. En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.

Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig. As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou? En as julle nie getrou was in 'n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?

Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie. En die Fariseërs, wat geldgierig was, het ook al hierdie dinge gehoor en Hom beskimp.

En daar was 'n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. En daar was 'n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek. En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam. Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle 'n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie. En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur-- want ek het vyf broers--om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

Elkeen wat probeer om sy lewe te red, sal dit verloor; en elkeen wat dit verloor, sal dit behou.

Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.

En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou--verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My. Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.

En toe Jesus sien dat hy diep bedroef geword het, sê Hy: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan. Want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. Daarop sê die wat dit gehoor het: Wie kan dan gered word? Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.

Toe sê Petrus: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of ouers of broers of vrou of kinders verlaat het ter wille van die koninkryk van God, wat nie baiemaal soveel in hierdie tyd sal ontvang nie en die ewige lewe in die eeu wat kom.

Maar Saggéüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.

Hy het dan gesê: 'n Man van hoë geboorte het na 'n ver land gereis om vir homself 'n koningskap te ontvang en dan terug te kom. En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom. Maar sy medeburgers het hom gehaat en 'n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie. En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het. En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede. En 'n ander een kom en sê: Meneer, hier is u pond wat ek in 'n doek weggesit het; want ek was bang vir u, omdat u 'n strawwe man is; u neem weg wat u nie uitgesit het nie, en maai wat u nie gesaai het nie. Toe sê hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy het geweet dat ek 'n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het nie, en maai wat ek nie gesaai het nie. Waarom het jy dan nie my geld aan die wisselaars gegee nie? Dan kon ek dit by my koms met rente ingevorder het. En aan die wat daarby staan, sê hy: Neem die pond van hom weg en gee dit aan hom wat die tien ponde het-- en hulle sê vir hom: Meneer, hy het tien ponde want ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het.

En toe Hy in die tempel ingegaan het, begin Hy die wat daarin verkoop en koop, uit te jaag. En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis is 'n huis van gebed. Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.

is dit ons geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Maar Hy het hulle listigheid bemerk en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Wys My 'n penning. Wie se beeld en opskrif het dit? Hulle antwoord en sê: Die keiser s'n. Toe sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.

En toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi. En Hy het ook 'n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi. En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het. Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe.

En Hy het in die tempel gevind die wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldwisselaars wat daar sit. En Hy het 'n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader 'n handelshuis maak nie. En sy dissipels het onthou dat daar geskrywe is: Die ywer vir u huis het my verteer.

Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël.

En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.

Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

Toe sê een van sy dissipels, Judas Iskáriot, die seun van Simon, wat Hom sou verraai: Waarom is hierdie salf nie vir drie honderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee nie? En dit het hy gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy 'n dief was en die beurs gehad het en die bydraes geneem het. Toe sê Jesus: Laat haar staan; sy het dit bewaar vir die dag van my begrafnis. Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie.

En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.

En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het. En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet,

Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!

En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad. En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal. Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het.

En Joses wie se bynaam onder die apostels Bárnabas was--wat, as dit vertaal word, beteken seun van vertroosting--'n Leviet, van geboorte uit Ciprus, het 'n stuk grond gehad en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.

Maar 'n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra 'n eiendom verkoop, en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en 'n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.

En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied en gesê: Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang. Maar Petrus sê vir hom: Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry.

En die dissipels het besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judéa woon.

Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie; maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was. Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.

jy dan, wat 'n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy?

As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop.

Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom. Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die wet vervul. Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.

En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.

Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.

Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.

omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het van God, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.

Want hulle was na vermoë--ek betuig dit--ja, bo vermoë gewillig, en het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning aan die heiliges moet ontvang; en het nie alleen gedoen soos ons verwag het nie, maar het hulself eers aan die Here gegee, en toe aan ons deur die wil van God,

Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.

Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie. Want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle verdrukking nie, maar dat volgens gelykheid julle oorvloed in hierdie tyd hulle gebrek kan aanvul, sodat ook hulle oorvloed julle gebrek kan aanvul en daar gelykheid kan wees. Soos geskrywe is: Hy wat baie gehad het, het nie te veel gehad nie; en hy wat weinig gehad het, het nie te min gehad nie.

Ek het dit dus noodsaaklik geag om die broeders te versoek om vooruit te gaan na julle toe en julle vroeër aangekondigde dankoffer vooraf in orde te bring, sodat dit gereed kan wees as 'n dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie.

Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief. En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. Soos geskrywe is: Hy het uitgestrooi, hy het aan die armes gegee, sy geregtigheid bly tot in ewigheid.

En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem, sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk. Want die bediening van hierdie hulpbetoning voorsien nie alleen in die behoeftes van die heiliges nie, maar is ook oorvloedig deur baie danksegginge aan God, omdat hulle deur die bewys van hierdie diens God verheerlik oor die onderwerping van julle belydenis aan die evangelie van Christus en oor die milddadigheid van die bydrae aan hulle en aan almal,

alleen moes ons aan die armes dink, wat ek my juis ook beywer het om te doen.

Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai. En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.

Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig,

Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het.

Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n.

Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry

Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Nogtans het julle goed gedoen toe julle deel gehad het in my verdrukking. En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedónië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. Want ook in Thessaloníka het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur. Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening. Maar ek het alles ontvang, en ek het oorvloed. Ek het dit volop noudat ek van Epafrodítus ontvang het wat deur julle gestuur is, 'n lieflike geur, 'n welgevallige offer, welbehaaglik by God. En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.

Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.

Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.

Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.

So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie,

Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as 'n ongelowige.

Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is 'n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.

Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet;

Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,

Want 'n opsiener moet as 'n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie;

Want hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het; aan wie Abraham ook 'n tiende deel van alles gegee het--hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede; sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur. Let nou op hoe groot hierdie man was, aan wie selfs Abraham, die aartsvader, 'n tiende van die buit gegee het. Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, wel 'n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem, dit is van hulle broers, ofskoon hulle uit die lendene van Abraham voortgekom het; maar hy wat nie uit húlle sy geslagsregister aflei nie, het van Abraham tiendes geneem en die besitter van die beloftes geseën. Nou word sonder enige teëspraak die mindere deur die meerdere geseën. En hier neem wel sterflike mense tiendes, maar dáár een van wie getuig word dat hy lewe. En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee; want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoetgegaan het.

Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om 'n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning.

Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.

Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het 'n welbehae aan sulke offers.

Maar laat die broeder wat gering is, roem in sy hoogheid, en die ryke in sy geringheid, want soos 'n blom van die gras sal hy verbygaan. Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë verwelk.

Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.

Want as daar in julle vergadering 'n man inkom met goue ringe aan die vingers, met 'n pragtige kleed aan, en daar kom ook 'n arm man in met vuil klere aan; en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit-- het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie? Luister, my geliefde broeders--het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie? Maar julle het die arm man oneer aangedoen. Is dit nie juis die rykes wat julle oorweldig en julle voor die regbanke sleep nie? Is dit nie hulle wat die edele Naam belaster wat oor julle aangeroep is nie?

As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself--dan doen julle goed.

Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? As daar nou 'n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie--wat baat dit? Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.

Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.

Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak-- julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar 'n damp wat vir 'n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.

Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom. Julle rykdom is bedorwe, en julle klere is deur die motte verniel. Julle goud en silwer is verroes, en hulle roes sal tot 'n getuienis teen julle wees en sal soos 'n vuur julle vlees verteer. Julle het skatte vergader in die laaste dae.

Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare. Julle het op die aarde 'n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul harte vet gevoer soos op 'n slagdag.

sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;

omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,

Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van 'n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.

Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is--die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe--is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.

Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.

En ek het 'n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: 'n Rantsoen koring vir 'n penning en drie rantsoene gars vir 'n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie.

en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam;

En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.

En die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie, koopware van goud en silwer en edelgesteente en pêrels en fyn linne en purper en sy en skarlaken; en allerhande geurige hout en allerhande voorwerpe van ivoor en allerhande voorwerpe van die kosbaarste hout en van koper en yster en marmer en kaneel en reukwerk en salf en wierook en wyn en olyfolie en fynmeel en koring en grootvee en skape; en van perde en waens en slawe en mensesiele. En die vrugte wat jou siel begeer, het van jou gewyk, en al die blinkende en die skitterende dinge het van jou gewyk, en jy sal dit nooit weer kry nie.

Die handelaars in hierdie dinge, wat van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, terwyl hulle ween en rou bedrywe en sê: Wee, wee die groot stad wat bekleed was met fyn linne en purper en skarlaken en versierd met goud en edelgesteente en pêrels, omdat in een uur soveel rykdom verwoes is! En elke stuurman en die hele menigte op die skepe, en die matrose en almal wat die see bevaar, het ver weg gaan staan

En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.

En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.

Afrikaans - Afrikaans - AF

AF'BSS - Afrikaans Bybel - 1953

This Bible is in the Public Domain.
https://www.biblesupersearch.com/bible-downloads/
Languages are made available to you by www.ipedge.net