22 – Wonderwerke
Dit is die heilige woorde van God die Almagtige.
Ons stel nie belang in die woorde van mense nie.
Vir enigiemand wat God liefhet... dit is waaroor God sê: Wonderwerke.
Dit is die heilige woorde van God die Almagtige.
Ons stel nie belang in die woorde van mense nie.
Vir enigiemand wat God liefhet... dit is waaroor God sê: Wonderwerke.
En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees.
”Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê. Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see--en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur--hy sal verkry net wat hy sê. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.
”En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo. En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer. En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue, sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val. En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.
”In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.
”En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword.
”Toe sê Farao vir Josef: Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy 'n droom net hoef te hoor om dit uit te lê. En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao 'n gunstige antwoord gee.
”Daarop verskyn die Engel van die HERE aan hom in 'n vuurvlam uit 'n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie! En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie. Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek. En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond.
”Daarop vra die HERE vir hom: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: 'n Staf. En Hy sê: Gooi dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het 'n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert. Hierop het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het 'n staf in sy hand geword-- sodat hulle kan glo dat die HERE, die God van hulle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, aan jou verskyn het.
”En die HERE het verder vir hom gesê: Steek tog jou hand in jou boesem. En hy het sy hand in sy boesem gesteek; en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu! En Hy sê: Steek jou hand weer in jou boesem. En hy het sy hand weer in sy boesem gesteek; en toe hy dit uit sy boesem uittrek, was dit weer soos sy ander vlees! En as hulle jou nie glo en aan die eerste teken geen gehoor gee nie, dan sal hulle die laaste teken glo. En as hulle ook hierdie twee tekens nie glo en na jou stem nie luister nie, neem dan van die Nyl se water en giet dit op die droë grond uit; dan sal die water wat jy uit die Nyl neem, op die droë grond bloed word.
”en Aäron het al die woorde gespreek wat die HERE aan Moses gesê het, en die tekens gedoen voor die oë van die volk. En die volk het geglo. En toe hulle hoor dat die HERE op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.
”En Ék sal Farao se hart verhard en my tekens en wonders in Egipteland vermenigvuldig.
”As Farao met julle spreek en sê: Doen tog 'n wonderteken vir julleself--dan moet jy vir Aäron sê: Neem jou staf en gooi dit voor Farao neer; dan sal dit 'n slang word. Toe het Moses en Aäron na Farao gegaan en gedoen net soos die HERE hulle beveel het: Aäron het sy staf voor Farao en voor sy dienaars neergegooi, en dit het 'n slang geword. Daarop laat Farao óók die wyse manne en die towenaars roep; en hulle, die Egiptiese towenaars, het ook dieselfde gedoen met hulle towerkunste: elkeen gooi sy staf neer, en hulle word slange! Maar Aäron se staf het hulle stawe verslind.
”Moses en Aäron het toe so gedoen soos die HERE beveel het--hy het die staf opgehef en die water wat in die Nyl was, geslaan voor die oë van Farao en voor die oë van sy dienaars; en al die water in die Nyl is in bloed verander. En die visse wat in die Nyl was, het doodgegaan; en die Nyl het gestink, sodat die Egiptenaars die water uit die Nyl nie kon drink nie. En daar was bloed in die hele Egipteland. Maar die Egiptiese towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste, sodat Farao se hart verhard is; en hy het na hulle nie geluister nie, soos die HERE gespreek het. En Farao het omgedraai en huis toe gegaan en dit ook nie ter harte geneem nie.
”Verder het die HERE met Moses gespreek: Gaan na Farao en sê vir hom: So spreek die HERE: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. En as jy weier om hulle te laat trek, Kyk, dan sal Ek jou hele grondgebied met paddas teister, sodat die Nyl van paddas sal wemel. En hulle sal opklim en in jou huis kom en in jou slaapkamer en op jou bed; ook in die huis van jou dienaars en onder jou volk, en in jou bakoonde en in jou bakskottels. En die paddas sal teen jou en teen jou volk en teen al jou dienaars opspring. Verder het die HERE met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou hand uit met jou staf oor die strome en oor die kanale en oor die waterkuile, en laat die paddas opkom oor Egipteland. En Aäron het sy hand oor die waters van Egipte uitgesteek, en daar het paddas opgekom en Egipteland oordek. Maar die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste en paddas laat opkom oor Egipteland.
”Verder het die HERE met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou staf uit en slaan die stof van die aarde, en dit sal muskiete word in die hele Egipteland. En hulle het so gedoen: Aäron het sy hand met sy staf uitgesteek en die stof van die aarde geslaan, en daar het muskiete gekom op die mense en op die vee. Al die stof van die aarde het muskiete geword in die hele Egipteland. En die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste om die muskiete voort te bring, maar hulle kon nie. So was die muskiete dan op die mense en op die vee. Toe sê die towenaars vir Farao: Dit is die vinger van God! Maar Farao se hart was verhard, sodat hy na hulle nie geluister het nie, soos die HERE gespreek het.
”Verder het die HERE vir Moses gesê: Maak jou môre vroeg klaar en stel jou voor Farao--kyk, hy sal na die water toe uitgaan en sê vir hom: So spreek die HERE: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. Want as jy my volk nie laat trek nie, kyk, dan stuur Ek teen jou en teen jou dienaars en teen jou volk en teen jou huise die steekvlieë, sodat die huise van die Egiptenaars vol steekvlieë sal wees, en selfs die grond waar hulle op staan. Maar Ek sal op dié dag met die land Gosen, waarin my volk woon, 'n uitsondering maak, dat daar geen steekvlieë sal wees nie; sodat jy kan weet dat Ek die HERE is in die land. En Ek sal 'n verlossing stel tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind. En die HERE het so gedoen: dik swerms steekvlieë het in die huis van Farao en in die huis van sy dienaars en in die hele Egipteland gekom; die land is deur die steekvlieë verwoes.
”Verder het die HERE met Moses gespreek: Gaan na Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien. Want as jy weier om hulle te laat trek en hulle nog langer vashou, kyk, dan sal die hand van die HERE wees teen jou vee wat in die veld is, teen die perde, teen die esels, teen die kamele, teen die beeste en teen die kleinvee met 'n baie swaar pes. En die HERE sal 'n onderskeid maak tussen die vee van die Israeliete en die vee van die Egiptenaars, sodat niks sal doodgaan van alles wat aan die kinders van Israel behoort nie. En die HERE het 'n bepaalde tyd gestel en gesê: Môre sal die HERE dit doen in die land. En die HERE het dit die volgende dag gedoen: al die vee van die Egiptenaars het doodgegaan. Maar van die vee van die kinders van Israel is nie een dood nie. Farao het toe gestuur, en kyk, van die vee van die Israeliete was daar nie een dood nie! Maar die hart van Farao was verhard, en hy het die volk nie laat trek nie.
”Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Neem julle twee hande vol roet uit die oond, en laat Moses dit na die hemel uitstrooi voor die oë van Farao; en dit sal fyn stof word oor die hele Egipteland en aan mense en diere swere veroorsaak wat in blare uitbreek, in die hele Egipteland. So het hulle dan roet uit die oond geneem en voor Farao gaan staan, en Moses het dit na die hemel uitgestrooi. Toe word dit swere wat uitbreek in blare aan mense en diere. En die towenaars kon voor Moses nie staan vanweë die swere nie. Want die swere was aan die towenaars en al die Egiptenaars. Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy nie na hulle geluister het nie, soos die HERE aan Moses gesê het.
”Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal hael wees in die hele Egipteland, oor mense en diere en oor al die plante van die veld in Egipteland. En Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die HERE het donder en hael gegee, en vuur het na die aarde uitgeskiet; en die HERE het hael op Egipteland laat reën. En daar was hael en onophoudelike vuur binne-in die hael, baie swaar, soos in die hele Egipteland nooit gewees het vandat dit aan 'n volk behoort het nie. En die hael het in die hele Egipteland geslaan alles wat in die veld was, mense sowel as diere. Ook het die hael al die plante van die veld geslaan en al die bome van die veld verbreek. Net in die land Gosen, waar die kinders van Israel was, was daar geen hael nie. Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en vir hulle gesê: Ek het dié keer sonde gedoen. Die HERE is reg, maar ek en my volk het ongelyk.
”Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit oor Egipteland vanweë die sprinkane, dat hulle opkom oor Egipteland en al die plante van die land opeet, alles wat die hael laat oorbly het. En Moses het sy staf oor Egipteland uitgesteek, en die HERE het 'n oostewind in die land gebring, daardie hele dag en die hele nag; toe dit môre word, het die oostewind die sprinkane aangevoer: die sprinkane het opgekom oor die hele Egipteland en in die hele gebied van Egipte gaan sit, 'n baie groot menigte--tevore was daar so 'n sprinkaanswerm nie gewees nie, en daarna sal so iets nie weer voorkom nie. En hulle het die oppervlakte van die hele land bedek, sodat die land swart was; en hulle het al die plante van die land opgeëet en al die vrugte van die bome wat die hael laat oorbly het--daar het geen groenigheid aan die bome of plante van die veld in die hele Egipteland oorgebly nie. Toe het Farao gou vir Moses en Aäron laat roep en gesê: Ek het gesondig teen die HERE julle God en teen julle.
”Verder het die HERE vir Moses gesê: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal duisternis oor Egipteland kom, sodat 'n mens die duisternis kan gryp. Toe Moses sy hand uitsteek na die hemel, kom daar 'n dik duisternis in die hele Egipteland, drie dae lank. Die een het die ander nie gesien nie, en niemand het van sy plek opgestaan nie, drie dae lank. Maar al die kinders van Israel het lig in hulle woonplekke gehad.
”En middernag het die HERE al die eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere. Toe staan Farao in die nag op, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars, en daar was 'n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie. Daarop het hy Moses en Aäron in die nag laat roep en gesê: Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel, en gaan dien die HERE soos julle gespreek het. Neem ook julle kleinvee en julle beeste saam soos julle gespreek het, en gaan weg en seën my ook. En die Egiptenaars het by die volk sterk aangehou--om hulle gou uit die land uit te stuur. Want hulle het gesê: Ons is almal dood!
”En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan; so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie. Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die HERE het deur 'n sterk oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur, en die see droog gemaak; en die waters is gekloof. En die kinders van Israel het midde-in die see getrek op droë grond. En die waters was vir hulle 'n muur aan hul regter-- en aan hul linkerkant. Toe het die Egiptenaars hulle gejaag en agter hulle aan getrek--al Farao se perde, sy strydwaens en sy ruiters--die see in. En in die môrewaak het die HERE, in die vuur-- en wolkkolom, op die leër van die Egiptenaars afgekyk en die leër van die Egiptenaars in verwarring gebring. En Hy het die wiele van hulle strydwaens laat insak en hulle met moeite laat voortgaan. Toe sê die Egiptenaars: Laat ons van Israel af wegvlug, want die HERE stry vir hulle teen die Egiptenaars. Daarop sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit oor die see, dat die waters kan terugvloei oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en oor hulle ruiters. En Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die see het teen dagbreek in sy bedding teruggevloei, en die Egiptenaars het dit tegemoet gevlug. So het die HERE dan die Egiptenaars binne-in die see gestort. En toe die waters terugvloei, het hulle die strydwaens en die ruiters van Farao se hele leërmag wat agter hulle die see ingetrek het, oordek. Geeneen van hulle het oorgebly nie. Maar die kinders van Israel het binne-in die see op droë grond getrek. En die waters was vir hulle 'n muur aan hul regter-- en aan hul linkerkant.
”en gesê: As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.
”Toe sê Hy: Hoor tog my woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur 'n gesig My aan hom bekend maak, deur 'n droom sal Ek met hom spreek.
”al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien maal versoek het en na my stem nie geluister het nie,
”Toe het julle nader gekom en onder aan die berg gaan staan; en die berg het met vuur gebrand tot in die middel van die hemel, met duisternis, wolke en wolkedonkerheid. En die HERE het met julle uit die vuur gespreek; julle het 'n stem van woorde gehoor, maar geen verskyning gesien nie--net 'n stem was daar. Toe het Hy aan julle sy verbond verkondig wat Hy julle beveel het om te doen, die tien woorde, en dit op twee kliptafels geskrywe.
”Het 'n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jy gehoor het, en in die lewe gebly? Of het 'n god probeer om vir hom 'n nasie uit 'n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur 'n sterke hand en 'n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het?
”En die HERE het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen.
”En die HERE sal elke krankheid van jou wegneem en al die kwaai siektes van Egipte wat jy ken, nie op jou lê nie; maar Hy sal dit lê op almal wat jou haat.
”die groot versoekinge wat jou oë gesien het, en die tekens en die wonders en die sterke hand en die uitgestrekte arm waardeur die HERE jou God jou uitgelei het; so sal die HERE jou God aan al die volke doen vir wie jy bevrees is.
”En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan. Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het nou veertig jaar lank nie geswel nie.
”En soos Moses, vir wie die HERE van aangesig tot aangesig geken het, het daar geen profeet meer in Israel opgestaan nie-- wat betref al die tekens en die wonders wat die HERE hom opgedra het om in Egipteland aan Farao en aan al sy dienaars en sy hele land te doen, en wat betref die hele magsopenbaring en al die groot, skrikwekkende dade wat Moses voor die oë van die hele Israel gedoen het.
”En toe die volk wegtrek uit hulle tente om deur die Jordaan te gaan, met die priesters wat die verbondsark dra, op die voorpunt van die volk, en net toe die draers van die ark by die Jordaan kom en die priesters wat die ark dra, hulle voete aan die kant van die water insteek, terwyl die Jordaan vol was op al sy walle al die dae van die oes, bly die water staan wat van die bokant afkom: dit het opgerys soos een wal, baie ver weg by die stad Adam wat langs Sartan lê; en die wat afstroom na die See van die Vlakte, die Soutsee, het heeltemal verdwyn; toe het die volk deurgetrek, teenoor Jérigo. Maar die priesters wat die verbondsark van die HERE gedra het, het onbeweeglik bly staan op droë grond binne-in die Jordaan, terwyl die hele Israel op droë grond deurtrek, totdat die hele volk die deurtog deur die Jordaan voleindig het.
”Maar op die sewende dag het hulle vroeg klaargemaak toe die rooidag uitkom, en die stad op dieselfde manier sewe maal omgetrek; net maar dié dag het hulle die stad sewe maal omgetrek. En toe die priesters die sewende keer op die horings blaas, sê Josua vir die volk: Skreeu! want die HERE gee die stad aan julle oor. Maar die stad met al wat daarin is, moet 'n banoffer aan die HERE wees; net Ragab, die hoer, mag lewe, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat deur ons gestuur was, weggesteek het. Maar neem julle net in ag vir die ban, dat julle nie, terwyl julle met die banvloek tref, tog van die bangoed neem en die laer van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort nie. Maar al die silwer en goud en die koper-- en ystervoorwerpe is heilig aan die HERE: dit moet by die skat van die HERE kom. Toe skreeu die volk, en hulle het op die horings geblaas; en toe die volk die geluid van die horing hoor, het die volk 'n groot krygsgeskreeu aangehef; en die muur het op sy plek ingeval, en die volk het in die stad geklim, elkeen reg voor hom uit, en hulle het die stad ingeneem.
”Toe het Josua met die HERE gespreek, op die dag dat die HERE die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gíbeon, en maan, in die dal van Ajalon! Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie? En die son het bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent 'n volle dag.
”En Simson het met sy vader en sy moeder afgegaan na Timna; en toe hulle by die wingerde van Timna kom, storm daar 'n jong leeu brullende op hom af. Maar die Gees van die HERE het oor hom vaardig geword; en hy het dit verskeur soos 'n mens 'n bokkie verskeur sonder dat daar iets in sy hand was; maar hy het sy vader en sy moeder nie vertel wat hy gedoen het nie.
”En Simson slaan sy arms om die twee middelste pilare waar die huis op gerus het, die een met sy regter-- en die ander met sy linkerhand, en leun teen hulle aan. En Simson sê: Laat my sterwe saam met die Filistyne! En hy buig hom met krag, sodat die huis inval op die vorste en op al die mense wat daarin was. So was dan die dooies wat hy by sy sterwe gedood het, meer as die wat hy in sy lewe gedood het.
”Daarop het die Filistyne die ark van God geneem en dit in die huis van Dagon gebring en dit langs Dagon neergesit. Toe die Asdodiete vroeg die volgende môre daarheen gaan, sien hulle Dagon lê met sy gesig op die grond voor die ark van die HERE. En hulle het Dagon geneem en hom weer op sy plek gesit. Maar toe hulle die volgende môre vroeg opstaan, sien hulle Dagon lê met sy gesig op die grond voor die ark van die HERE; maar die hoof van Dagon en sy twee handpalms lê afgebreek op die drumpel: net Dagon se lyf het aan hom oorgebly.
”Maar die hand van die HERE was swaar op die Asdodiete, en Hy het hulle verskrik en hulle getref met geswelle, Asdod en sy grondgebied. Toe die manne van Asdod sien dat dit so gaan, sê hulle: Die ark van die God van Israel mag nie by ons bly nie, want sy hand druk swaar op ons en op ons god Dagon. Daarom het hulle al die vorste van die Filistyne by hulle byeen laat kom en gevra: Wat moet ons met die ark van die God van Israel doen? En dié het gesê: Laat die ark van die God van Israel oorgaan na Gat toe. Daarop het hulle die ark van die God van Israel oorgebring. En nadat hulle dit oorgebring het, was die hand van die HERE teen die stad met 'n baie groot verwarring, en Hy het die mense van die stad getref, van die kleinste tot die grootste, sodat geswelle aan hulle uitgebreek het. Daarop stuur hulle die ark van God na Ekron. Maar toe die ark van God in Ekron kom, het die Ekroniete geskreeu en gesê: Hulle het die ark van die God van Israel na my toe oorgebring om my en my volk dood te maak. Daarom het hulle al die vorste van die Filistyne byeen laat kom en gesê: Stuur die ark van die God van Israel weg, dat dit na sy plek kan teruggaan en my en my volk nie doodmaak nie. Want daar het'n dodelike verwarring in die hele stad gekom: die hand van God was daar baie swaar. En die mense wat nie gesterf het nie, is met geswelle getref, sodat die hulpgeroep van die stad na die hemel opgeklim het.
”En Hy het onder die mense van Bet-Semes 'n slagting aangerig; Hy het naamlik onder die volk sewentig man en vyftig duisend man gedood, omdat hulle die ark van die HERE bekyk het; en die volk het getreur, omdat die HERE 'n groot slagting onder die volk aangerig het. Toe sê die manne van Bet-Semes: Wie kan diens doen voor die aangesig van die HERE, hierdie heilige God? En na wie toe sal Hy optrek van ons af?
”Daarop sê Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar 'n leeu of 'n beer kom en 'n stuk kleinvee uit die trop wegdra, dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood. U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God uitgedaag het. Verder sê Dawid: Die HERE wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en mag die HERE met jou wees!
”Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel 'n God het. Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee. Toe die Filistyn hom dan klaarmaak en aldeur nader kom om Dawid te ontmoet, loop Dawid gou na die vegterrein om die Filistyn te ontmoet; en Dawid steek sy hand in die tas en neem 'n klip daaruit en slinger, en hy tref die Filistyn in sy voorhoof, sodat die klip in sy voorhoof indring en hy op sy gesig teen die grond val. So het Dawid dan die Filistyn oorweldig met 'n slinger en 'n klip. En hy het die Filistyn verslaan en hom gedood alhoewel daar geen swaard in Dawid se hand was nie. Daarop het Dawid gehardloop en by die Filistyn gaan staan en sy swaard geneem, dit uit sy skede getrek en hom van kant gemaak, en hy het daarmee sy hoof afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood was, het hulle gevlug.
”En toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgehou, want die osse het gestruikel. Daarop het die toorn van die HERE teen Ussa ontvlam, en God het hom daar getref oor dié vergryp, sodat hy daar by die ark van God gesterf het.
”En Elía, die Tisbiet, uit Tisbe in Gílead, het vir Agab gesê: So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!
”Maar sy antwoord: So waar as die HERE u God leef, ek het nie 'n broodkoek nie, net maar 'n handvol meel in die pot en 'n bietjie olie in die kruik; en hier maak ek nou 'n paar houtjies bymekaar; dan gaan ek en maak dit vir my en my seun klaar, dat ons dit kan eet en sterwe. En Elía sê vir haar: Wees nie bevrees nie, gaan heen, doen volgens jou woord; maar maak eers daarvan vir my 'n broodkoekie en bring dit uit vir my; daarna kan jy vir jóu en jou seun iets klaarmaak. Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde sal gee. En sy het gegaan en gehandel volgens die woord van Elía; en sy het geëet--sy en hy en haar gesin dae lank: die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elía gespreek het.
”Ná hierdie dinge het die seun van die vrou, die eienares van die huis, siek geword; en sy siekte was baie ernstig, totdat daar geen asem meer in hom oorgebly het nie. Toe sê sy vir Elía: Wat het ek met u te doen, man van God! U het na my gekom om my ongeregtigheid in gedagtenis te bring en my seun dood te maak! Maar hy antwoord haar: Gee jou seun vir my. En hy het hom van haar skoot af geneem en hom opgedra na die bo-kamer waar hy self gewoon het, en hom op sy bed neergelê; en hy het die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, het U selfs oor die weduwee by wie ek as vreemdeling vertoef, 'n onheil gebring deur haar seun te laat sterwe? Daarop het hy hom drie maal uitgestrek oor die kind en die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, laat die siel van hierdie kind tog in hom terugkeer. En die HERE het Elía verhoor; en die siel van die kind het in hom teruggekeer, sodat hy weer lewendig geword het. Daarop neem Elía die kind en bring hom af uit die bo-kamer in die huis en gee hom aan sy moeder; en Elía sê: Kyk, jou seun lewe! En die vrou sê vir Elía: Nou weet ek dit dat u 'n man van God is en dat die woord van die HERE in u mond waarheid is.
”en hy bou met die klippe 'n altaar in die Naam van die HERE. Daarna het hy 'n sloot gemaak rondom die altaar, 'n ruimte vir omtrent twee mate saad, en die hout gerangskik en die bul in stukke verdeel en bo-op die hout gelê. Toe sê hy: Maak vier kruike vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede maal. En hulle het dit vir die tweede maal gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde maal. En hulle het dit vir die derde maal gedoen, sodat die water rondom die altaar geloop het; en ook die sloot het hy vol water gemaak. En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat U hulle hart tot U laat terugkeer. Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek. En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God!
”Toe neem Elía sy mantel en rol dit op en slaan op die water; en dit is na weerskante verdeel, sodat hulle twee op droë grond deurgegaan het.
”En terwyl hulle aldeur loop en spreek, kom daar meteens 'n wa van vuur met perde van vuur wat skeiding tussen hulle twee maak; en Elía het in die storm na die hemel opgevaar. En Elísa het dit gesien en geroep: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters! En toe hy hom nie meer sien nie, het hy sy klere gegryp en dit in twee stukke geskeur. Daarna tel hy die mantel van Elía op wat van hom afgeval het, en hy draai om en gaan op die wal van die Jordaan staan; en hy neem die mantel van Elía wat van hom afgeval het, en slaan op die water en sê: Waar is die HERE, die God van Elía, ja, Hy? En toe hy op die water slaan, is dit na weerskante verdeel, en Elísa het deurgegaan.
”En daarvandaan het hy opgegaan na Bet-el; en terwyl hy met die pad opgaan, kom daar klein seuntjies uit die stad uit wat met hom spot en vir hom sê: Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop! Toe het hy agter hom omgekyk en hulle gesien en hulle gevloek in die Naam van die HERE; en twee berinne het uit die bos gekom en van hulle twee en veertig kinders verskeur.
”Toe sê Elísa vir haar: Wat kan ek vir jou doen? Gee my te kenne wat jy in die huis het. En sy antwoord: U dienares het glad niks in die huis nie, behalwe 'n flessie met olie. En hy sê: Gaan leen vir jou van buite af kanne, leë kanne van al jou bure; leen nie te min nie. Gaan dan in en sluit die deur agter jou en jou seuns toe, en giet in al daardie kanne en sit weg wat vol is. Sy het toe van hom af weggegaan en die deur agter haar en haar seuns toegesluit; en terwyl hulle vir haar aanbring, giet sy in. Sodra die kanne vol was, sê sy aan haar seun: Bring vir my nog 'n kan aan; maar hy antwoord haar: Daar is geen kan meer nie. Toe gaan die olie staan. Daarop kom sy om dit die man van God te kenne te gee; en hy sê: Gaan verkoop die olie en betaal jou skulde; van die orige kan jy en jou seuns dan lewe.
”En toe Elísa in die huis kom, was die seun dood, neergelê op sy bed! En hy het ingegaan en die deur agter hulle twee toegesluit en tot die HERE gebid. Daarna klim hy op en gaan lê op die kind en sit sy mond op dié se mond en sy oë op dié se oë en sy hande op dié se hande en buig oor hom neer; en die vlees van die kind het warm geword. Daarop het hy teruggekom en in die huis een keer heen en weer geloop, om dan opnuut op te klim en oor hom neer te buig; en die seun het sewe maal genies; en die seun het sy oë oopgemaak.
”Daarna het hulle vir die manne opgeskep om te eet; maar net toe hulle van die kooksel eet, skreeu hulle en roep: Man van God, die dood is in die pot! En hulle kon dit nie eet nie. Maar hy sê: Gaan haal dan meel. En hy gooi dit in die pot en sê: Skep uit vir die mense, dat hulle eet. En daar was niks verkeerds in die pot nie. En daar het 'n man van Baäl-Salísa gekom en vir die man van God eerstelingsbrode, twintig garsbrode, en vars graan in sy mandjie gebring. En hy het gesê: Gee vir die mense, dat hulle eet. En sy dienaar antwoord: Hoe kan ek dit aan honderd man voorsit? Maar hy sê: Gee vir die mense, dat hulle eet, want so spreek die HERE: Hulle sal eet en oorhou. En hy sit dit hulle voor, en hulle het geëet en oorgehou volgens die woord van die HERE.
”Toe stuur Elísa 'n boodskapper na hom om te sê: Gaan heen, was jou sewe maal in die Jordaan; dan sal jou vlees terugkeer, en jy sal rein wees. Maar Naäman het baie kwaad geword en weggegaan en gesê: Kyk, ek het gedink: Hy sal sekerlik na my uitkom en staan en die Naam van die HERE sy God aanroep en sy hand oor die plek heen en weer beweeg en die melaatsheid wegneem. Is Abána en Farpar, die riviere van Damaskus, nie beter as al die waters van Israel nie? Kon ek my nie daarin was en rein word nie? En hy het omgedraai en vererg weggery. Toe kom sy dienaars nader en spreek met hom en sê: My vader, as die profeet u 'n groot saak beveel het, sou u dit nie doen nie? Hoeveel te meer nou dat hy u gesê het: Was jou, en jy sal rein word? Daarop het hy afgeklim en sewe maal in die Jordaan ondergeduik volgens die woord van die man van God, en sy vlees het teruggekeer soos die vlees van 'n jong seun, en hy het rein geword.
”Maar terwyl een die balk kap, val die yster in die water; en hy roep uit en sê: Ag, my heer, dit is nogal geleen! En die man van God vra: Waar het dit geval? En toe hy hom die plek wys, het hy 'n stok afgesny en dit daarheen gegooi en die yster bo laat drywe. En hy sê: Haal dit nou maar uit! En hy het sy hand uitgesteek en dit geneem.
”Terwyl die koning van Aram besig was om oorlog te voer teen Israel, het hy met sy dienaars beraadslaag en gesê: Op dié en dié plek sal my laer staan. Maar die man van God het die koning van Israel laat weet: Pas op dat u nie deur daardie plek trek nie, want die Arameërs trek daarheen af. Daarom het die koning van Israel na die plek gestuur waarvan die man van God met hom gespreek en waarvoor hy hom gewaarsku het. En hy was daar op sy hoede, nie net een maal of twee maal nie. Toe word die hart van die koning van Aram hieroor onrustig, en hy roep sy dienaars en sê vir hulle: Kan julle my nie te kenne gee wie van ons mense vir die koning van Israel is nie? En een van sy dienaars antwoord: Nee, my heer die koning, maar Elísa, die profeet wat in Israel is, kan die koning van Israel die woorde te kenne gee wat u in u slaapkamer spreek.
”En toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar 'n leër met perde en strydwaens rondom die stad. En sy dienaar sê vir hom: Ag, my heer, hoe sal ons maak? Maar hy antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elísa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa. En toe hulle na hom afkom, het Elísa tot die HERE gebid en gesê: Slaan tog hierdie mense met blindheid. En Hy het hulle op die woord van Elísa met blindheid geslaan. Daarop sê Elísa vir hulle: Dit is nie die weg, en dit is nie die stad nie; volg my, dan sal ek julle lei na die man wat julle soek; en hy het hulle na Samaría gelei. En by hulle aankoms in Samaría, sê Elísa: HERE, open hulle oë, dat hulle kan sien. En die HERE het hulle oë geopen, dat hulle kon sien, en daar was hulle binne-in Samaría!
”En terwyl hulle besig was om 'n man te begrawe, sien hulle meteens die bende; daarom het hulle die man in die graf van Elísa gegooi; en toe die man met die gebeente van Elísa in aanraking kom, het hy lewendig geword en opgestaan op sy voete.
”En Jesaja antwoord: Dit sal vir jou die teken van die kant van die HERE wees dat die HERE die woord sal volbring wat Hy gespreek het: Moet die skaduwee tien grade vooruit gaan, of moet dit tien grade agteruit gaan? Toe sê Jehiskía: Dit is maklik vir die skaduwee om tien grade te daal; nee, maar laat die skaduwee teruggaan, tien grade agteruit. En Jesaja, die profeet, het die HERE aangeroep, en Hy het die skaduwee op die grade waarlangs dit op die grade van Agas se sonnewyser gedaal het, laat teruggaan, tien grade agteruit.
”En in die nege en dertigste jaar van sy regering het Asa gely aan sy voete; sy siekte was baie ernstig; maar selfs in sy siekte het hy die HERE nie geraadpleeg nie, maar die geneeshere.
”Maar toe hy sterk geword het, was sy hart hoogmoedig, sodat hy baie verkeerd gedoen en ontrou gehandel het teen die HERE sy God; want hy het in die tempel van die HERE gegaan om offerrook te laat opgaan op die reukaltaar. Maar die priester Asárja het hom gevolg en tagtig priesters van die HERE, flukse manne, saam met hom, en teen koning Ussía opgetree en aan hom gesê: Dit kom u nie toe, Ussía, om vir die HERE offerrook te laat opgaan nie, maar aan die priesters, seuns van Aäron, wat geheilig is om te offer. Gaan uit die heiligdom uit, want u het ontrou gehandel, en dit sal u van die kant van die HERE God nie tot eer strek nie. Maar Ussía het woedend geword; en terwyl hy, met die wierookpan in sy hand, woedend was op die priesters, slaan die melaatsheid op sy voorhoof uit voor die oë van die priesters, in die huis van die HERE langs die reukaltaar. Toe Asárja, die hoofpriester, en al die priesters na hom kyk en sien dat hy melaats was aan sy voorhoof, het hulle hom gou daarvandaan weggedrywe, en hy het ook self gou gemaak om weg te kom, want die HERE het hom aangetas.
”en U het tekens en wonders gedoen aan Farao en aan al sy dienaars en aan die hele volk van sy land; want U het geweet dat hulle vermetel teen hulle gehandel het, en U het vir U 'n Naam gemaak soos dit vandag is.
”Maar wat my aangaan, ek sou na God vra en my saak aan die Godheid voorlê, aan Hom wat groot dinge doen en ondeurgrondelike, wonders sonder getal;
”Maar julle pleister met leuens, kwaksalwers is julle almal.
”HERE, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak.
”Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is. Ék het gesê: o HERE, wees my genadig! Genees my, want ek het teen U gesondig.
”U is die God wat wonders doen; U het u sterkte onder die volke bekend gemaak.
”Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede, wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van 'n arend.
”Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.
”Daarom sal die HERE self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.
”Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
”Want Ek sal genesing vir jou tot stand laat kom en jou van jou wonde gesond maak, spreek die HERE; omdat hulle jou noem: die verjaagde. Dit is Sion, sê hulle, niemand vra na haar nie.
”wat tekens en wonders gedoen het in Egipteland, tot vandag toe, in Israel sowel as onder die mense, en vir U 'n Naam gemaak het soos dit vandag is, en u volk Israel uitgelei het uit Egipteland deur tekens en wonders en deur 'n sterke hand en 'n uitgestrekte arm en deur 'n groot verskrikking,
”Die hand van die HERE was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die HERE en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene. En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het 'n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor. Toe sê Hy vir my: Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? En ek antwoord: Here HERE, U weet dit. Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE! So spreek die Here HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word. En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en 'n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die HERE is. Toe het ek geprofeteer soos my beveel was. En sodra ek geprofeteer het, was daar 'n geruis, en kyk--'n beroering! En die bene het nader gekom, elke been na sy been. Toe kyk ek en--daar was senings op hulle, en daar het vlees op gekom, en 'n vel is bo-oor hulle getrek, maar daar was geen gees in hulle nie. Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here HERE: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word. En ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan--'n ontsaglike groot leër!
”Die koning het geantwoord en aan Daniël, wie se naam Béltsasar was, gesê: Is jy in staat om aan my die droom wat ek gesien het, en sy uitlegging bekend te maak? Daniël het in teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie. Maar daar is 'n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit: Wat u betref, o koning, u gedagtes op u bed het opgestyg oor wat hierna sal gebeur, en die Openbaarder van die geheime het u bekend gemaak wat sal gebeur. En wat my betref, hierdie geheim is my geopenbaar, nie deur 'n wysheid wat in my sou wees meer as in al die lewendes nie, maar met die bedoeling dat die uitlegging aan die koning bekend gemaak sal word en u die gedagtes van u hart kan ken.
”Toe het Nebukadnésar baie woedend geword en sy gelaatstrekke het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednégo; as antwoord het hy bevel gegee om die oond sewe maal warmer te maak as wat eintlik nodig was. En aan sommige van die sterkste manne wat in sy leër was, het hy bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te boei, om hulle in die brandende vuuroond te gooi. Toe is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle tulbande en hulle ander klere aan, en hulle is binne-in die brandende vuuroond gegooi. Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abednégo opgeneem het, doodgebrand. Maar daardie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednégo, het geboeid binne-in die brandende vuuroond geval. Toe het koning Nebukadnésar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesê: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? Hulle antwoord en sê aan die koning: Sekerlik, o koning! Hy antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar 'n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van 'n godeseun. Toe het Nebukadnésar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond en daarop gesê: Sadrag, Mesag en Abednégo, knegte van die allerhoogste God, gaan uit en kom hier! Toe het Sadrag, Mesag en Abednégo uit die vuuroond uitgegaan. Daarop het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs en die raadsmanne van die koning vergader en aan daardie manne gesien dat die vuur geen mag oor hulle liggame gehad en die hare van hulle hoof nie geskroei het nie, en dat hulle mantels geen verandering ondergaan en die reuk van die vuur nie aan hulle gekom het nie. Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God. Daarom word deur my bevel gegee dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, stukkend gekap en van sy huis 'n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie. Toe het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo voorspoedig laat wees in die provinsie Babel.
”Koning Nebukadnésar aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon: Mag julle vrede groot wees! Dit behaag my om die tekens en wonders wat die allerhoogste God aan my gedoen het, te verkondig. Hoe groot is sy tekens, en hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en sy heerskappy is van geslag tot geslag!
”Op dieselfde oomblik het daar vingers van 'n mens se hand te voorskyn gekom en teenoor die kandelaar op die kalk van die muur van die koninklike paleis geskrywe, en die koning het die deel van die hand gesien wat geskrywe het. Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan.
”Toe het die koning bevel gegee, en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi. Die koning het begin spreek en vir Daniël gesê: Mag jou God wat jy gedurigdeur vereer, jou verlos! En 'n klip is gebring en op die opening van die kuil gelê, en die koning het dit met sy ring en met die ring van sy maghebbers verseël, sodat niks anders met Daniël sou gebeur nie. Toe het die koning na sy paleis gegaan en met vas die nag deurgebring en die byvroue nie voor hom laat kom nie, en sy slaap het van hom weggevlug. Daarop het die koning die môre vroeg toe dit lig word, opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan. En toe hy nader kom na die kuil, het hy met 'n droewige stem na Daniël geroep; die koning het gespreek en aan Daniël gesê: Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te verlos? Toe het Daniël met die koning gespreek: Mag die koning vir ewig lewe! My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ek ook teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie. Toe het die koning baie bly geword en bevel gegee om Daniël uit die kuil op te trek. So is Daniël dan uit die kuil opgetrek sonder dat daar 'n letsel aan hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het. En die koning het bevel gegee, en hulle het daardie manne gebring wat Daniël aangeklaag het, en hulle, hulle kinders en hulle vroue in die leeukuil gegooi; en hulle het nog nie die bodem van die kuil bereik nie of die leeus het hulle oorweldig en al hulle bene vermorsel.
”Toe het koning Daríus aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees! Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en sy heerskappy duur tot die einde toe. Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die hemel en op aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het.
”En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet. En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom.
”En Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. En die gerug aangaande Hom is versprei oor die hele Sírië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak.
”en daar het 'n melaatse man gekom en voor Hom neergeval en gesê: Here, as U wil, kan U my reinig. Daarop steek Jesus die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil; word gereinig! En dadelik is hy van sy melaatsheid gereinig.
”En toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy sy skoonmoeder siek lê aan die koors. En Hy het haar hand aangeraak, en die koors het haar verlaat, en sy het opgestaan en hulle bedien.
”En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met 'n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.
”En daar het 'n groot storm op die see gekom, sodat die skuit toe was onder die golwe; maar Hy was aan die slaap. Daarop kom sy dissipels en maak Hom wakker en sê: Here, red ons, ons vergaan! En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges? Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het 'n groot stilte gekom. En die manne het hulle verwonder en gesê: Wat vir 'n mens is Hy, dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is?
”En toe Hy aan die oorkant kom, in die land van die Gergeséners, het twee duiwelbesetenes Hom ontmoet, wat uit die grafte uitgekom het en baie kwaai was, sodat niemand met daardie pad kon verbygaan nie. En meteens skreeu hulle en sê: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig? En ver van hulle af het 'n groot trop varke gewei. En die duiwels het Hom gesmeek en gesê: As U ons uitdryf, laat ons toe om in die trop varke te vaar. En Hy sê vir hulle: Gaan! Toe gaan hulle uit en vaar in die trop varke in; en daar storm die hele trop varke van die krans af die see in en kom in die water om. En die wagters het gevlug; en toe hulle in die stad kom, het hulle alles vertel, ook wat met die besetenes gebeur het. En kyk, die hele stad het uitgekom, Jesus tegemoet; en toe hulle Hom sien, smeek hulle dat Hy uit hulle gebied moet weggaan.
”En hulle het 'n verlamde man wat op 'n bed lê, na Hom gebring. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy aan die verlamde: Seun, hou goeie moed, jou sondes is jou vergewe. En sommige van die skrifgeleerdes het by hulleself gesê: Hierdie man praat godslasterlik. En toe Jesus merk wat hulle gedagtes was, sê Hy: Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte? Want wat is makliker, om te sê: Die sondes is jou vergewe! of om te sê: Staan op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe--toe sê Hy vir die verlamde man: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe. En hy het opgestaan en huis toe gegaan. En toe die skare dit sien, was hulle verwonderd en het God verheerlik wat so 'n mag aan die mense gegee het.
”En daar het 'n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Want sy het by haarself gesê: As ek maar net sy kleed kan aanraak, sal ek gesond word. En Jesus het omgedraai en haar gesien en gesê: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. En die vrou het gesond geword van daardie uur af.
”En toe Jesus in die huis van die owerste kom en die fluitspelers sien, en die skare wat te kere gaan, sê Hy vir hulle: Gaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, maar sy slaap. En hulle het Hom uitgelag. En nadat die skare uitgedryf was, het Hy ingegaan en haar hand gegryp; en die dogtertjie het opgestaan. En die gerug hiervan het deur daardie hele land versprei.
”En toe Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg, terwyl hulle uitroep en sê: Wees ons barmhartig, Seun van Dawid! En nadat Hy in die huis gegaan het, kom die blindes na Hom toe. En Jesus sê vir hulle: Glo julle dat Ek dit kan doen? Hulle antwoord Hom: Ja, Here. Toe raak Hy hulle oë aan en sê: Laat dit vir julle wees volgens julle geloof. En hulle oë het oopgegaan. En Jesus het hulle skerp aangespreek en gesê: Pas op, laat niemand dit te wete kom nie. Maar hulle het heengegaan en Hom in daardie hele land bekend gemaak.
”En terwyl hulle weggaan, bring die mense 'n stom man wat van die duiwel besete was, na Hom toe. En nadat die duiwel uitgedryf was, het die stomme gepraat. En die skare het hulle verwonder en gesê: So iets is nog nooit in Israel gesien nie!
”En Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees.
”En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees.
”Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.
”blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig.
”En daar was 'n man met 'n verdorde hand, en hulle het Hom gevra en gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat gesond te maak? --sodat hulle Hom sou kan aanklae. Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in 'n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? Hoeveel meer is 'n mens dan nie werd as 'n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen. Toe sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en dit is herstel, gesond soos die ander een.
”Toe Jesus dit bemerk, het Hy daarvandaan weggegaan, en groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle almal gesond gemaak,
”Toe het hulle 'n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien. En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?
”Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.
”En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie.
”En toe Jesus uitgaan, het Hy 'n groot skare gesien en innig jammer vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond gemaak.
”En toe dit aand geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate, en dit is al oor die tyd; stuur die skare weg, sodat hulle na die dorpe kan gaan en vir hulle voedsel koop. Maar Jesus sê vir hulle: Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle antwoord Hom: Ons het hier net vyf brode en twee visse. En Hy sê: Bring dit hier vir My. Toe gee Hy die skare bevel om op die gras te gaan sit; en Hy neem die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en nadat Hy die brode gebreek het, gee Hy dit aan die dissipels en die dissipels aan die skare. En almal het geëet en versadig geword, en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, twaalf mandjies vol. En dit was omtrent vyf duisend manne wat geëet het, buiten die vroue en kinders.
”Maar in die vierde nagwaak het Jesus na hulle gekom, al wandelende op die see. En toe die dissipels Hom op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit is 'n spook! En hulle het geskreeu van vrees. Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie.
”En Petrus antwoord Hom en sê: Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom. En Hy sê: Kom! Petrus klim toe van die skuit af en loop op die water om na Jesus te gaan. Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my! En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel? Daarop klim hulle in die skuit, en die wind het gaan lê. Toe kom die wat in die skuit was, en val voor Hom neer en sê: Waarlik, U is die Seun van God!
”En die manne van daardie plek het Hom herken en in daardie hele omtrek uitgestuur en almal wat ongesteld was, na Hom gebring; en hulle het Hom gesmeek dat hulle net maar die soom van sy kleed mag aanraak; en almal wat dit aangeraak het, het gesond geword.
”En 'n Kananése vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete. Maar Hy het haar nie 'n woord geantwoord nie. Toe kom sy dissipels nader en vra Hom en sê: Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan. Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my! Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie. En sy sê: Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval. Toe antwoord Jesus en sê vir haar: o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af.
”En ondertussen kom daar groot menigtes na Hom met kreupeles, blindes, stommes, gebreklikes en baie ander by hulle, en hulle het dié by die voete van Jesus neergesit, en Hy het hulle gesond gemaak, sodat die skare verbaas was om te sien dat stommes praat, gebreklikes gesond word, kreupeles loop en blindes sien; en hulle het die God van Israel verheerlik.
”Toe het Jesus sy dissipels na Hom geroep en gesê: Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie; en Ek wil hulle nie graag honger wegstuur nie, sodat hulle nie miskien op die pad beswyk nie. En sy dissipels sê vir Hom: Waar sal ons in die woestyn soveel brode vandaan kry om so 'n groot skare te versadig? Toe sê Jesus vir hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle antwoord: Sewe, en 'n paar vissies. En Hy het bevel gegee aan die skare om op die grond te gaan sit. Toe neem Hy die sewe brode en die visse, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels, en die dissipels aan die skare. En hulle het almal geëet en versadig geword; en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol. En die wat geëet het, was vier duisend manne buiten die vroue en kinders.
”En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.
”En toe hulle by die skare kom, gaan daar 'n man na Hom en val voor Hom op die knieë en sê: Here, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly swaar; want dikwels val hy in die vuur en dikwels in die water. En ek het hom na u dissipels gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie. Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom hier vir My. Daarop bestraf Jesus hom; en die duiwel het van hom uitgegaan, en die seun het gesond geword van daardie uur af.
”Toe kom die dissipels na Jesus afsonderlik en sê: Waarom kon ons hom nie uitdryf nie? En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos 'n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.
”Maar dat ons hulle geen aanstoot mag gee nie, gaan na die see toe, gooi 'n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom; en as jy sy bek oopmaak, sal jy 'n stater kry; neem dit en gee dit aan hulle vir My en vir jou.
”Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is. Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.
”Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.
”En daar het twee blindes langs die pad gesit; en toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, roep hulle uit en sê: Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid! En die skare het hulle bestraf, dat hulle moes stilbly; maar hulle het al harder geroep en gesê: Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid! Toe gaan Jesus staan en roep hulle en sê: Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen? Hulle antwoord Hom: Here, dat ons oë geopen mag word. En Jesus het innig jammer vir hulle gevoel en hulle oë aangeraak, en dadelik het hulle oë gesien, en hulle het Hom gevolg.
”En daar het blindes en kreupeles na Hom gekom in die tempel, en Hy het hulle gesond gemaak.
”en Hy sien 'n vyeboom langs die pad en gaan daarnatoe; maar Hy het niks daaraan gevind nie as net blare alleen; en Hy sê vir hom: Laat daar uit jou tot in ewigheid nooit weer 'n vrug kom nie! En onmiddellik het die vyeboom verdroog. En toe die dissipels dit sien, was hulle verwonderd en sê: Hoe het die vyeboom so onmiddellik verdroog? Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see--sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.
”En daar kom 'n groot aardbewing, want 'n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit.
”Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.
”En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.
”En daar was in hulle sinagoge 'n man met 'n onreine gees; en hy het uitgeskreeu en gesê: Hou op! Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God! En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil en gaan uit hom uit! En die onreine gees het hom stuiptrekkings laat kry en met 'n groot stem geskreeu en uit hom uitgegaan. En almal was verbaas, sodat hulle onder mekaar vra en sê: Wat is dit? Watter nuwe leer is dit, dat Hy met gesag ook aan die onreine geeste bevel gee en hulle Hom gehoorsaam is? En die gerug aangaande Hom is dadelik versprei in die hele omtrek van Galiléa.
”En dadelik toe hulle uit die sinagoge uitgegaan het, kom hulle saam met Jakobus en Johannes in die huis van Simon en Andréas. En die skoonmoeder van Simon het siek gelê aan die koors; en dadelik het hulle Hom van haar gesê. Daarop gaan Hy na haar, neem haar hand en rig haar op, en dadelik het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.
”En toe dit aand geword het en die son onder was, het hulle na Hom gebring almal wat ongesteld en van duiwels besete was. En die hele stad het by die deur saamgekom. En baie wat aan allerhande siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels uitgedryf en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het.
”En Hy het die hele Galiléa deur in hulle sinagoges gepreek en die duiwels uitgedryf.
”En daar kom 'n melaatse na Hom toe wat Hom smeek en voor Hom op die knieë val en vir Hom sê: As U wil, kan U my reinig. En Jesus het vir hom innig jammer gevoel en die hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: Ek wil, word gereinig! En toe Hy dit sê, het die melaatsheid hom dadelik verlaat, en hy is gereinig. En nadat Hy hom ernstig aangespreek het, stuur Hy hom dadelik weg en sê vir hom: Pas op dat jy aan niemand iets vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskryf het, tot 'n getuienis vir hulle. Maar hy het uitgegaan en begin om baie dinge rond te vertel en die saak rugbaar te maak, sodat Hy nie meer openlik in 'n stad kon ingaan nie; maar Hy was buite in verlate plekke, en hulle het van alle kante na Hom gekom.
”En daar kom mense na Hom met 'n verlamde man wat deur vier gedra word. En toe hulle vanweë die skare nie naby Hom kon kom nie, maak hulle die dak oop waar Hy was, en nadat hulle dit oopgebreek het, het hulle die bed waar die verlamde op lê, laat afsak. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Seun, jou sondes is jou vergewe! En sommige van die skrifgeleerdes het daar gesit en in hulle harte geredeneer: Waarom praat hierdie man so godslasterlik? Wie kan sondes vergewe behalwe Een, naamlik God? En Jesus het dadelik in sy gees geweet dat hulle by hulleself so redeneer, en Hy sê vir hulle: Wat redeneer julle oor hierdie dinge in jul harte? Wat is makliker, om vir die verlamde te sê: Die sondes is jou vergewe! of om te sê: Staan op en neem jou bed op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op die aarde sondes te vergewe--sê Hy vir die verlamde man: Ek sê vir jou: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe. En dadelik staan hy op en neem sy bed op en gaan voor die oë van almal uit, sodat almal verbaas was en God verheerlik en sê: So iets het ons nog nooit gesien nie!
”En Hy het weer in die sinagoge gegaan, en dáár was 'n man met 'n verdorde hand. En hulle het Hom in die oog gehou, of Hy hom op die sabbat gesond sou maak, sodat hulle Hom kon aanklae. En Hy sê vir die man met die verdorde hand: Staan op in hul midde. Daarop sê Hy vir hulle: Is dit geoorloof om op die sabbat goed of kwaad te doen, 'n lewe te red of dood te maak? Maar hulle het stilgebly. En nadat Hy hulle rondom met toorn aangekyk het en tegelykertyd bedroef was oor die hardheid van hulle hart, sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en sy hand is herstel, gesond soos die ander een.
”Want Hy het baie gesond gemaak, sodat almal wat vol kwale was, op Hom toegeloop het om Hom aan te raak. En elke keer as die onreine geeste Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskreeu en gesê: U is die Seun van God! En Hy het hulle herhaaldelik streng gebied om Hom nie bekend te maak nie.
”En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf.
”En 'n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie? En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het 'n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie? En 'n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!
”En toe Hy uit die skuit gaan, kom daar dadelik uit die grafte Hom tegemoet 'n man met 'n onreine gees, wat sy verblyf in die grafte gehad het. En niemand kon selfs met kettings hom bind nie; want hy was dikwels met voetboeie en kettings gebind, en die kettings is deur hom uitmekaar geruk en die voetboeie stukkend gebreek; en niemand was in staat om hom te tem nie. En altyd, nag en dag, het hy aangehou om te skreeu op die berge en in die grafte en homself met klippe stukkend te slaan. En toe hy Jesus van ver af sien, hardloop hy en val voor Hom neer en skreeu met 'n groot stem en sê: Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie. Want Hy het vir hom gesê: Onreine gees, gaan uit die man uit! En Hy vra hom: Wat is jou naam? En hy antwoord en sê: Legio is my naam, want ons is baie. Toe smeek hy Hom dringend om hulle nie uit die land weg te stuur nie. En dáár teen die berge het 'n groot trop varke gewei, en al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons in die varke, sodat ons in hulle kan vaar. En Jesus het hulle dit dadelik toegelaat; en die onreine geeste het uitgegaan en in die varke gevaar, en die trop--daar was omtrent twee duisend--het van die krans af in die see gestorm en in die see verdrink. En die wagters van die varke het gevlug en dit in die stad en in die buitewyke vertel; en hulle het uitgekom om te sien wat daar gebeur het. Toe kom hulle by Jesus en sien die besetene sit, gekleed en by sy verstand--die een wat die legioen gehad het. En hulle was bevrees. Die wat dit gesien het, vertel toe aan hulle hoe dit met die besetene gegaan het, en ook van die varke. En hulle het Hom begin smeek om weg te gaan uit hulle gebied.
”En 'n sekere vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het en veel onder baie geneeshere gely en al haar besittings uitgegee het sonder om enige baat te vind, maar eerder erger geword het, het van Jesus gehoor en onder die skare van agter gekom en sy kleed aangeraak; want sy het gesê: As ek maar sy klere kan aanraak, sal ek gesond word. En dadelik het die fontein van haar bloed opgedroog, en sy het aan haar liggaam bemerk dat sy van haar kwaal genees was. En dadelik toe Jesus in Homself die krag gewaarword wat van Hom uitgegaan het, draai Hy Hom om onder die skare en sê: Wie het my klere aangeraak? En sy dissipels antwoord Hom: U sien dat die skare U verdring, en U sê: Wie het My aangeraak? Toe kyk Hy rond om haar te sien wat dit gedoen het. Die vrou, wat gevrees en gebeef het omdat sy wis wat met haar gebeur het, kom toe en val voor Hom neer en vertel Hom die hele waarheid. En Hy sê vir haar: Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees.
”Terwyl Hy nog spreek, kom daar mense van die owerste van die sinagoge se huis en sê: U dogter is dood. Waarom val u die Meester nog lastig? Maar dadelik, toe Jesus die woord hoor wat gespreek is, sê Hy vir die owerste van die sinagoge: Moenie vrees nie; glo net. En Hy het niemand toegelaat om saam met Hom te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus. En Hy kom in die huis van die owerste van die sinagoge en sien 'n rumoer: mense wat baie ween en huil. En toe Hy binnegaan, sê Hy vir hulle: Waarom gaan julle so te kere en ween julle? Die kind is nie dood nie, maar slaap. En hulle het Hom uitgelag. Maar Hy het almal uitgedryf en die vader van die kind saamgeneem en die moeder en die wat by Hom was, en ingegaan waar die kind lê. Toe gryp Hy die hand van die kind en sê vir haar: Talíta, koemi! wat, as dit vertaal word, beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op! En die dogtertjie het dadelik opgestaan en begin rondloop, want sy was twaalf jaar oud. En hulle was uitermate verbaas.
”En toe dit sabbat geword het, begin Hy in die sinagoge te leer, en baie wat Hom gehoor het, was verslae en sê: Waar kry Hy hierdie dinge vandaan, en watter wysheid is aan Hom gegee, dat ook sulke kragte deur sy hande plaasvind?
”En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het.
”En Hy het die twaalf na Hom geroep en hulle twee-twee begin uitstuur en het hulle mag gegee oor die onreine geeste,
”En hulle het baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.
”En toe dit reeds laat geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate en dit is reeds laat. Stuur hulle weg, sodat hulle na die buitewyke en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want hulle het niks om te eet nie. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle aan hulle iets om te eet. En hulle sê vir Hom: Moet ons gaan en vir twee honderd pennings brood koop en aan hulle gee om te eet? En Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? Gaan kyk. En toe hulle dit te wete gekom het, sê hulle: Vyf, en twee visse. En Hy het hulle beveel om almal klompies-klompies op die groen gras te laat sit. En hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig. Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en Hy breek die brode en gee dit aan sy dissipels om dit aan hulle voor te sit. Ook die twee visse het Hy onder almal verdeel. En almal het geëet en versadig geword; en hulle het van die brokstukke twaalf mandjies vol opgetel, en van die visse. En die wat van die brood geëet het, was omtrent vyf duisend manne.
”En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei, want die wind was teen hulle. En omtrent die vierde nagwaak het Hy na hulle gekom, al wandelende op die see. En Hy wou by hulle verbygaan. En toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gemeen dat dit 'n spook was en hard uitgeskreeu; want hulle het Hom almal gesien en was ontsteld. Toe spreek Hy dadelik met hulle en sê vir hulle: Hou goeie moed, dit is Ek; moenie vrees nie. En Hy het by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê; en hulle was by hulleself uitermate verbaas en verwonderd.
”En toe hulle uit die skuit gaan, het die mense Hom dadelik herken. en hulle het in daardie hele omtrek rondgeloop en die wat ongesteld was, op bedde begin ronddra na die plek waar hulle hoor dat Hy is. En waar Hy ook al ingegaan het in dorpe of stede of buitewyke, het hulle die wat ongesteld was, op die markpleine neergesit en Hom gesmeek om, al was dit maar die soom van sy kleed, aan te raak; en almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword.
”En Hy het opgestaan en daarvandaan na die gebied van Tirus en Sidon vertrek. En toe Hy in die huis gegaan het, wou Hy nie dat iemand dit sou weet nie; maar Hy kon nie verborge bly nie. Want 'n vrou wie se dogtertjie 'n onreine gees gehad het, het van Hom gehoor en gekom en voor sy voete neergeval. En sy was 'n Griekse vrou, 'n Siro-Feniciese van geboorte, en sy het Hom gevra om die duiwel uit haar dogter uit te dryf. Maar Jesus sê vir haar: Laat eers die kinders versadig word; want dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en vir die hondjies te gooi nie. En sy antwoord en sê vir Hom: Ja, Here, maar die hondjies eet darem onder die tafel van die kinders se krummels. En Hy sê vir haar: Ter wille van hierdie woord kan jy gaan; die duiwel het uit jou dogter uitgevaar. En toe sy huis toe gaan, vind sy dat die duiwel uitgevaar het en dat haar dogter op die bed lê.
”Toe bring hulle na Hom 'n dowe wat swaar praat, en smeek Hom om hom die hande op te lê. En Hy neem hom opsy, weg van die skare, en steek sy vingers in sy ore, en spuug en raak sy tong aan; en nadat Hy opgekyk het na die hemel, sug Hy en sê aan hom: Éffata, dit is: Gaan oop! En dadelik het sy ore oopgegaan en die band van sy tong losgeraak, en hy het reg gepraat. En Hy het hulle beveel om dit aan niemand te sê nie; maar hoe meer Hy hulle dit beveel, hoe meer hulle dit verkondig. En hulle was uitermate verslae en het gesê: Hy het alles goed gedoen: die dowes laat Hy hoor en die stommes praat.
”In dié dae toe daar 'n baie groot menigte was en hulle niks gehad het om te eet nie, het Jesus sy dissipels na Hom geroep en vir hulle gesê: Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie. En as Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op die pad beswyk, want sommige van hulle kom van ver. En sy dissipels antwoord Hom: Waarvandaan sal 'n mens hulle hier in die woestyn kan versadig met brood? Toe vra Hy hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle sê: Sewe. En Hy gee aan die skare bevel om op die grond te gaan sit; daarop neem Hy die sewe brode, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels om dit voor te sit; en hulle sit dit aan die skare voor. Hulle het ook 'n paar vissies gehad; en nadat Hy gedank het, sê Hy dat hulle dit ook moet voorsit. En hulle het geëet en versadig geword en die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol. En die wat geëet het, was omtrent vier duisend. En Hy het hulle weggestuur.
”En Hy het in Betsáida gekom, en hulle het 'n blinde man na Hom gebring en Hom gesmeek om hom aan te raak. Hy neem toe die blinde by die hand en lei hom uit buitekant die dorp; en nadat Hy in sy oë gespuug en hom die hande opgelê het, vra Hy hom of hy iets sien. En hy kyk op en sê: Ek sien die mense, want ek sien hulle soos bome rondloop. Daarna lê Hy weer die hande op sy oë en laat hom opkyk, en hy is herstel en het almal van ver af duidelik gesien.
”En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle alleen op 'n hoë berg in die eensaamheid geneem; en Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy klere het blink geword, baie wit soos sneeu, wit soos geen bleiker op aarde dit kan maak nie.
”En een uit die skare antwoord en sê: Meester, ek het my seun wat 'n stomme gees het, na U gebring; en waar hy hom ook aangryp, skeur hy hom; en hy kry skuim in die mond, en hy kners met sy tande en word styf; en ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie. Toe antwoord Hy hom en sê: o Ongelowige geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom na My toe. En hulle bring hom na Hom toe; en toe hy Hom sien, laat die gees hom dadelik stuiptrekkings kry, en hy val op die grond neer en rol rond met skuim in die mond. Daarop vra Hy sy vader: Hoe lank is dit al dat dit hom oorgekom het? En hy sê: Van sy kindsdae af; en dikwels het hy hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons. En Jesus sê vir hom: Wat dit betref--as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo. En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! En toe Jesus sien dat 'n skare bymekaar stroom, het Hy die onreine gees bestraf en vir hom gesê: Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie. En nadat hy geskreeu en hom baie stuiptrekkings laat kry het, het hy uitgegaan. En die seun het soos 'n dooie geword, sodat baie gesê het: Hy is dood. Maar Jesus het hom by die hand gegryp en hom opgerig; en hy het opgestaan.
”Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.
”En hulle het in Jérigo gekom. En toe Hy en sy dissipels en 'n aansienlike skare uit Jérigo uitgaan, sit die blinde man, Bartiméüs, die seun van Timéüs, langs die pad en bedel. En toe hy hoor dat dit Jesus die Nasaréner was, begin hy om uit te roep en te sê: Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig! En baie het hom bestraf, dat hy moet stilbly; maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig! Toe gaan Jesus staan en sê dat hy geroep moes word; en hulle roep die blinde man en sê vir hom: Hou goeie moed, staan op! Hy roep jou. En hy gooi sy oorkleed af, staan op en kom na Jesus toe. En Jesus antwoord en sê vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: Rabbóni, dat ek mag sien. En Jesus sê vir hom: Gaan, jou geloof het jou gered. En dadelik het hy gesien en Jesus op die pad gevolg.
”Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê. Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see--en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur--hy sal verkry net wat hy sê. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.
”En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasaréner wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het.
”En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.
”Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.
”Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen.
”Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.
”En in die sinagoge was daar 'n man met die gees van 'n onreine duiwel, en hy het met 'n groot stem uitgeskreeu en gesê: Ha! wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God! En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil, en gaan uit hom uit! En die duiwel het hom tussen hulle neergegooi en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak. Toe kom daar verbaasdheid oor almal, en hulle praat met mekaar en sê: Wat vir 'n woord is dit, dat Hy met gesag en mag die onreine geeste gebied, en hulle gaan uit! En daar het 'n gerug aangaande Hom uitgegaan na elke plek van die omgewing.
”En Hy het opgestaan uit die sinagoge en in die huis van Simon gekom. En Simon se skoonmoeder was aangetas deur 'n hewige koors, en hulle het Hom geraadpleeg oor haar. Toe gaan Hy oor haar staan en bestraf die koors, en dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.
”En toe die son ondergaan, het almal hulle siekes, mense met allerhande kwale, na Hom gebring, en Hy het een vir een van hulle die hande opgelê en hulle gesond gemaak. En duiwels het ook uit baie uitgegaan en geskreeu en gesê: U is die Christus, die Seun van God! En Hy het hulle bestraf en nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus was.
”En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang. En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak. En toe hulle dit gedoen het, het hulle 'n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur. Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het. En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige man! Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het;
”En terwyl Hy in een van die stede was, kom daar 'n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil, kan U my reinig. Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil, word gereinig! En dadelik het die melaatsheid hom verlaat. Toe gee Hy hom bevel om dit aan niemand te vertel nie; maar, sê Hy, gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot 'n getuienis. Maar die gerug aangaande Hom is nog meer versprei, en groot menigtes het bymekaargekom om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word.
”En op een van dié dae was Hy besig om te leer; en Fariseërs en wetgeleerdes wat gekom het uit elke dorp van Galiléa en Judéa en uit Jerusalem, het daar gesit, en daar was krag van die Here om hulle te genees. En daar het manne 'n mens wat verlam was, op 'n bed gebring, en hulle het probeer om hom in te bring en voor Hom neer te sit. En toe hulle vanweë die skare geen kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met die bed afsak deur die panne tussen die mense in en voor Jesus. En toe Hy hulle geloof sien, sê Hy vir hom: Mens, jou sondes is jou vergewe. En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het begin redeneer en sê: Wie is Hy wat so godslasterlik praat? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen? Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk, en Hy antwoord en sê vir hulle: Wat redeneer julle in jul harte? Wat is makliker, om te sê: Jou sondes is jou vergewe; of om te sê: Staan op en loop? Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe sê Hy vir die verlamde man: Ek sê vir jou, staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe. Hy staan toe onmiddellik voor hulle op, neem die bed op waar hy op gelê het, en gaan na sy huis, terwyl hy God verheerlik. En verbasing het almal aangegryp, en hulle het God verheerlik en is met vrees vervul en het gesê: Ons het vandag ongelooflike dinge gesien.
”En op 'n ander sabbat het Hy in die sinagoge gegaan en geleer. En daar was 'n man, en sy regterhand was uitgedor. En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Hom in die oog gehou, of Hy op die sabbat gesond maak, sodat hulle 'n aanklag teen Hom kon vind. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die verdorde hand gesê: Staan op hier in hul midde. En hy het opgestaan. Toe sê Jesus vir hulle: Ek sal aan julle 'n vraag stel: wat is geoorloof op die sabbat--om goed te doen of kwaad te doen; om 'n lewe te red of óm te bring? En nadat Hy almal rondom aangekyk het, sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit gedoen; en sy hand is herstel, gesond soos die ander een.
”En Hy het met hulle afgeklim en op 'n gelyk plek gaan staan, en daar was 'n skare van sy dissipels en 'n groot menigte van die volk van die hele Judéa en Jerusalem en die kusstreek van Tirus en Sidon af, wat gekom het om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees. En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak.
”En die dienskneg van 'n sekere hoofman oor honderd, wat vir hom baie werd was, was ongesteld en het op sterwe gelê. Toe hy dan van Jesus hoor, het hy ouderlinge van die Jode na Hom gestuur met die versoek aan Hom dat Hy moes kom en sy dienskneg gesond maak. En toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend gesmeek en gesê: Hy is dit werd dat U dit vir hom doen; want hy het ons volk lief en het self die sinagoge vir ons gebou. En Jesus het saam met hulle gegaan; maar toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die hoofman oor honderd vriende na Hom om vir Hom te sê: Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om na U te gaan nie; sê dit maar met 'n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook 'n man wat aan gesag onderworpe is, en ek het soldate onder my; en vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir 'n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd, en Hy draai Hom om en sê vir die skare wat Hom volg: Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so 'n groot geloof nie gevind nie. En toe die wat gestuur was, teruggaan na die huis, vind hulle die siek dienskneg gesond.
”En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net 'n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee; en 'n groot menigte van die stad was by haar. En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie! En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op! En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee. En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: 'n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek. En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judéa en in die hele omtrek.
”En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.
”ook sekere vroue wat genees was van bose geeste en siektes: Maria wat Magdaléna genoem word, uit wie sewe duiwels uitgegaan het,
”En op een van daardie dae het Hy en sy dissipels in 'n skuit gegaan; en Hy het vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die oorkant van die see. En hulle het weggevaar En terwyl hulle seil, raak Hy aan die slaap. Toe kom daar 'n stormwind op die see af en die skuit het begin vol word, en hulle was in gevaar. En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester, ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het bedaar en daar het 'n stilte gekom. En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is!
”En toe Hy aan wal uitklim, kom 'n sekere man uit die stad Hom tegemoet, wat vir 'n geruime tyd van duiwels besete was en geen klere gedra het nie; hy het ook nie in 'n huis gewoon nie, maar in die grafte. En toe hy Jesus sien, skreeu hy uit en val voor Hom neer en sê met 'n groot stem: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek bid U, moet my nie pynig nie-- want Hy het aan die onreine gees bevel gegee om uit die man uit te gaan. Want baiekeer het hy hom saamgesleep; en hulle het hom gebind met kettings en voetboeie om oor hom wag te hou; maar hy het die boeie uitmekaar geruk, en die duiwel het hom in die woestyne gedrywe. Daarop vra Jesus hom en sê: Wat is jou naam? En hy antwoord: Legio--want baie duiwels het in hom ingevaar. En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die onderwêreld af te vaar nie. En daar het 'n groot trop varke op die berg gewei. Toe smeek hulle Hom dat Hy hulle sou toelaat om in dié varke in te vaar. En Hy het hulle toegelaat. Daarop gaan die duiwels uit die man uit en vaar in die varke in, en die trop het van die krans af in die see gestorm en verdrink. En toe die wagters sien wat gebeur het, het hulle gevlug en dit in die stad en in die buitewyke gaan vertel. Daarop het hulle uitgegaan om te sien wat gebeur het; en hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die voete van Jesus sit, gekleed en by sy verstand. En hulle het gevrees. En die wat ooggetuies was, het ook aan hulle vertel hoe die besetene genees is. En die hele menigte van die omtrek van die Gadaréners het Hom gevra om van hulle weg te gaan, omdat hulle deur 'n groot vrees bevang was. Toe het Hy in die skuit geklim en teruggegaan.
”En 'n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en wat haar hele vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie, het van agter af gekom en die soom van sy kleed aangeraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Daarop sê Jesus: Wie is dit wat My aangeraak het? En toe almal dit ontken, sê Petrus en die wat by hom was: Meester, die skare druk en verdring U, en U sê: Wie is dit wat My aangeraak het? Maar Jesus antwoord: Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van My uitgegaan het. En toe die vrou sien dat sy nie verborge gebly het nie, kom sy bewende en val voor Hom neer en vertel Hom voor die hele volk om watter rede sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. En Hy sê vir haar: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.
”Terwyl Hy nog spreek, kom daar iemand van die owerste van die sinagoge se huis en sê vir hom: U dogter is dood, moenie die Meester lastig val nie. Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word. En toe Hy in die huis kom, het Hy niemand toegelaat om in te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes en die vader en die moeder van die meisie. En almal het gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Hy sê: Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap. En hulle het Hom uitgelag, want hulle het geweet dat sy dood was. En toe Hy almal na buite uitgejaag het, gryp Hy haar hand en roep uit en sê: Dogtertjie, staan op! En haar gees het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan; en Hy het beveel dat hulle haar iets te ete moes gee. En haar ouers was verbaas, maar Hy het hulle bevel gegee om aan niemand te sê wat gebeur het nie.
”En Hy het sy twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor al die duiwels en om siektes te genees. En Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak
”En hulle het uitgegaan en dorp vir dorp deurgegaan en oral die evangelie verkondig en siekes gesond gemaak.
”Maar die skare het dit te wete gekom en Hom gevolg; en Hy het hulle ontvang en met hulle gespreek oor die koninkryk van God, en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak.
”Toe die dag begin daal, kom die twaalf na Hom en sê vir Hom: Stuur die skare weg, sodat hulle na die dorpe en buitewyke in die omtrek kan gaan en herberg en voedsel kry; want ons is hier in 'n verlate plek. Maar Hy sê vir hulle: Gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle antwoord: Ons het nie meer as vyf brode en twee visse nie, tensy ons voedsel gaan koop vir al hierdie mense. Want daar was omtrent vyf duisend manne. Maar Hy sê vir sy dissipels: Laat hulle in groepe van vyftig sit. En hulle het dit gedoen en almal laat sit. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, en nadat Hy opgekyk het na die hemel, seën Hy dit en breek dit en gee dit aan die dissipels om dit aan die skare voor te sit. En hulle het geëet en is almal versadig, en van wat vir hulle van die brokstukke oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel.
”En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy aangesig anders geword en sy klere skitterend wit.
”En daar roep 'n man uit die skare en sê: Meester, ek bid U, kyk tog na my seun, want hy is my enigste. En kyk, 'n gees gryp hom, en meteens skreeu hy, en hy laat hom stuiptrekkings kry met skuim in die mond en gaan amper nie van hom weg nie en verniel hom. En ek het u dissipels gebid om hom uit te drywe, en hulle kon nie. Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier. En toe hy nog aankom, skeur die duiwel hom en laat hom stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die onreine gees bestraf en die seun genees en hom aan sy vader teruggegee. En almal was verslae oor die majesteit van God. En toe almal verwonderd was oor alles wat Jesus gedoen het, sê Hy vir sy dissipels:
”En in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul ontvang, eet wat aan julle voorgesit word. En maak die siekes gesond wat daarin is, en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom.
”Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie. Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.
”En Hy het 'n duiwel uitgedryf, en dié was stom. En toe die duiwel uitgaan, het die stom man gepraat; en die skare het hulle verwonder.
”En Hy was besig om op die sabbat in een van die sinagoges te leer. En daar was 'n vrou wat 'n gees van krankheid agttien jaar lank gehad het, en sy was inmekaargetrek en glad nie in staat om regop te kom nie. En toe Jesus haar sien, roep Hy haar en sê: Vrou, jy is van jou krankheid verlos. En Hy het haar die hande opgelê, en onmiddellik het sy regop gestaan en God verheerlik. Maar die owerste van die sinagoge, wat verontwaardig was dat Jesus op die sabbat genees het, antwoord en sê vir die skare: Daar is ses dae waarop 'n mens behoort te werk; kom dan op dié dae en laat julle genees en nie op die sabbatdag nie. Toe antwoord die Here hom en sê: Jou geveinsde, maak elkeen van julle nie op die sabbat sy os of esel van die krip los en lei hom weg om hom te laat drink nie? Maar hierdie vrou wat 'n dogter van Abraham is, wat die Satan--dink daaraan! --agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie? En toe Hy dit sê, het al sy teëstanders beskaamd geword; en die hele skare was bly oor al die heerlike dinge wat deur Hom gebeur het.
”En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar.
”En daar was voor Hom 'n man wat die water gehad het. En Jesus het gespreek en aan die wetgeleerdes en Fariseërs gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat te genees? Maar hulle het stilgebly. Toe neem Hy hom en maak hom gesond en laat hom gaan.
”Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof. En die Here sê: As julle geloof gehad het soos 'n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant--en hy sou julle gehoorsaam wees.
”En toe Hy in 'n sekere dorp ingaan, kom tien melaatse manne Hom tegemoet, wat op 'n afstand bly staan het. En hulle het hul stem verhef en gesê: Jesus, Meester, wees ons barmhartig! En toe Hy hulle sien, sê Hy vir hulle: Gaan vertoon julle aan die priesters. En onderwyl hulle weggaan, het hulle rein geword. En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met 'n groot stem verheerlik. En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom gedank. En hy was 'n Samaritaan. Toe antwoord Jesus en sê: Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege? Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie? En Hy sê vir hom: Staan op en gaan; jou geloof het jou gered.
”Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.
”En terwyl Hy naby Jérigo kom, sit daar 'n blinde man langs die pad en bedel; en toe hy 'n skare hoor verbygaan, vra hy wat dit is. En hulle vertel hom: Jesus die Nasaréner gaan verby. Toe roep hy uit en sê: Jesus, Seun van Dawid, wees my barmhartig! En die wat voor loop, bestraf hom dat hy moet stilbly. Maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig! En Jesus het gaan staan en bevel gegee dat hy na Hom gebring moes word; en toe hy naby kom, vra Hy hom en sê: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En hy antwoord: Here, dat ek kan sien. En Jesus sê vir hom: Sien! Jou geloof het jou gered. En onmiddellik het hy gesien en Hom gevolg, terwyl hy God verheerlik. En toe die hele volk dit sien, het hulle aan God die lof gegee.
”En een van hulle het die dienskneg van die hoëpriester getref en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het geantwoord en gesê: Hou op, dit is genoeg! En Hy het sy oor aangeraak en hom gesond gemaak.
”Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galiléa was:
”En toe daar wyn kortkom, sê die moeder van Jesus vir Hom: Hulle het geen wyn nie. Jesus sê vir haar: Vrou, wat het Ek met u te doen? My uur het nog nie gekom nie. Sy moeder sê vir die dienaars: Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen. En daar het volgens die reinigingsgebruike van die Jode ses klipkanne gestaan, wat elkeen twee of drie ankers hou. Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water. En hulle het hul tot bo toe volgemaak. En Hy sê aan hulle: Skep nou uit en bring dit vir die hoofdienaar. En hulle het dit gebring. En toe die hoofdienaar die water proe wat wyn geword het--en hy het nie geweet waarvandaan dit was nie, maar die dienaars wat die water geskep het, het geweet--roep die hoofdienaar die bruidegom en sê vir hom: Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar. Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galiléa gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.
”En toe Hy in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen.
”Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U 'n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.
”Jesus het dan weer gekom te Kana in Galiléa, waar Hy die water wyn gemaak het. En daar was 'n sekere koninklike beampte wie se seun in Kapérnaüm siek was. Toe hy hoor dat Jesus uit Judéa in Galiléa gekom het, gaan hy na Hom en vra Hom om af te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê. Jesus sê toe vir hom: As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie. Die koninklike beampte sê vir Hom: Here, kom af voordat my kind sterwe. Jesus antwoord hom: Gaan, jou seun lewe! En die man het die woord geglo wat Jesus vir hom gesê het, en hy het gegaan. En toe hy al op pad was huis toe, kom sy diensknegte hom tegemoet en bring die berig en sê: U kind lewe! Hy verneem toe van hulle die uur waarop hy beter geword het. En hulle sê vir hom: Gister, die sewende uur, het die koors hom verlaat. Die vader merk toe dat dit daardie uur was waarop Jesus vir hom gesê het: Jou seun lewe! En hy het self geglo en sy hele huis.
”En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort 'n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betésda genoem word. Daarin het 'n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het. Want 'n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het. En 'n sekere man was daar, wat agt en dertig jaar aan sy siekte gely het. Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al 'n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word? Die sieke antwoord Hom: Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan 'n ander een voor my in. Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop. En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop. En daardie dag was dit sabbat.
”en 'n groot menigte het Hom gevolg, omdat hulle sy tekens gesien het wat Hy aan die siekes doen.
”Toe Jesus dan sy oë opslaan en sien dat 'n groot menigte na Hom kom, sê Hy vir Filippus: Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet? Maar Hy het dit gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self geweet wat Hy wou doen. Filippus antwoord Hom: Brood vir twee honderd pennings sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle 'n stukkie kan kry nie. Een van sy dissipels, Andréas, Simon Petrus se broer, sê vir Hom: Hier is 'n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir so baie mense? En Jesus sê: Laat die mense gaan sit. En daar was baie gras op dié plek. Die manne het toe gaan sit, omtrent vyf duisend in getal. En Jesus het die brode geneem, en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels en die dissipels aan die wat daar sit; so ook van die vissies, soveel as hulle wou hê. En nadat hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie. Hulle maak toe bymekaar en het twaalf mandjies gevul met brokstukke van die vyf garsbrode wat oorgeskiet het by die wat geëet het. Toe die mense dan die teken sien wat Jesus gedoen het, sê hulle: Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom.
”En toe hulle omtrent drie of vier myl geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom; en hulle het bang geword. Maar Hy sê vir hulle: Dit is Ek, moenie vrees nie. Toe was hulle gewillig om Hom in die skuit te neem, en dadelik het die skuit by die land aangekom waar hulle na toe gegaan het.
”Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig; maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop; en so het Hy vertrek.
”En toe Hy verbygaan, sien Hy 'n man wat blind was van sy geboorte af. En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word. Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld. En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom. Die bure dan en die wat hom vroeër gesien het dat hy blind was, sê toe: Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie?
”Van ouds af is dit nie gehoor dat iemand die oë van 'n blindgebore mens geopen het nie. As Hy nie van God was nie, sou Hy niks kan doen nie.
”Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood. Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie? Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. En nadat Hy dit gesê het, het Hy met 'n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met 'n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan.
”En die owerpriesters en die Fariseërs het die Raad byeengeroep en gesê: Wat sal ons doen? --want hierdie man doen baie tekens.
”En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie;
”Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo--die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.
”En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.
”As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.
”En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle! En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien.
”Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!
”Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie;
”Simon Petrus sê vir hulle: Ek gaan visvang. Hulle sê vir hom: Ons gaan ook saam met jou. En hulle het uitgegaan en dadelik in die skuit geklim, en in daardie nag het hulle niks gevang nie. En toe dit al dag geword het, staan Jesus op die strand; maar die dissipels het nie geweet dat dit Jesus was nie. En Jesus sê vir hulle: My kinders, het julle nie iets om te eet nie? Hulle antwoord Hom: Nee. En Hy sê vir hulle: Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie. Daarop sê die dissipel--die een vir wie Jesus liefgehad het--aan Petrus: Dit is die Here! En toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, gord hy sy bo-kleed om--want hy was naak--en werp homself in die see. Maar die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep; want hulle was nie ver van die land nie, maar omtrent twee honderd el. En toe hulle geland het, sien hulle 'n koolvuur op die grond en vis daarop lê, en brood. Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het. Simon Petrus het in die skuit geklim en die net op die land getrek, vol groot visse, honderd drie en vyftig in getal; en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.
”En Petrus het hom omgedraai en die dissipel sien volg vir wie Jesus liefgehad het, die een wat by die maaltyd op sy bors geval en gesê het: Here, wie is u verraaier? Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: Here, maar wat van hom? Jesus antwoord hom: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My. Hierdie woord het toe onder die broeders uitgegaan dat daardie dissipel nie sou sterwe nie; en Jesus het nie vir hom gesê dat hy nie sou sterwe nie, maar: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?
”En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie. Amen.
”aan wie Hy ook, ná sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het.
”maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde. En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en 'n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.
”En daar kom skielik uit die hemel 'n geluid soos van 'n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek;
”En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.
”Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, 'n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet--
”En vrees het op elkeen gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind.
”En daar is 'n sekere man aangedra wat van sy geboorte af kreupel was; hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort wat die Skone genoem word, om 'n aalmoes te vra van die wat in die tempel ingaan. Toe hy sien dat Petrus en Johannes die tempel wou binnegaan, het hy om 'n aalmoes gevra. En Petrus saam met Johannes het hom stip aangekyk en gesê: Kyk na ons. En hy het sy oë op hulle gehou in die verwagting dat hy iets van hulle sou ontvang. Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop! Toe gryp hy hom aan sy regterhand en rig hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys. En die hele volk het gesien hoe hy daar loop en God prys. En hulle het hom herken, dat dit hy was wat by die Skone Poort van die tempel gesit het om te bedel, en hulle is vervul met verwondering en verbasing oor wat met hom gebeur het. En toe die kreupel man wat genees was, aan Petrus en Johannes vashou, het die hele volk uitermate verbaas na hulle gehardloop in die pilaargang wat Salomo s'n genoem word.
”En toe Petrus dit sien, sê hy vir die volk: Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd, of waarom kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsvrug bewerk het dat hy loop?
”En deur die geloof in sy Naam het sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak, en die geloof wat deur Hom is, het hom hierdie volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal.
”En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken. En omdat hulle die man wat genees was, by hulle sien staan, kon hulle niks daarteen sê nie. Hulle het hul toe gelas om buitekant die Raad te gaan, en met mekaar beraadslaag en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? Want dat daar 'n kenlike teken deur hulle plaasgevind het, is duidelik vir al die inwoners van Jerusalem; ons kan dit nie ontken nie.
”En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind. En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.
”Maar 'n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra 'n eiendom verkoop, en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en 'n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en 'n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het. Daarna het die jongmanne opgestaan en hom toegedraai en uitgedra en begrawe. En ná verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het. En Petrus het haar aangespreek: Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het? En sy sê: Ja, vir soveel. En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra. Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe. En 'n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het.
”En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo. En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer. En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue, sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val. En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.
”Maar 'n engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle uitgelei en gesê: Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe. En hulle het geluister en vroeg in die môre in die tempel gegaan en begin leer. Maar die hoëpriester en die wat saam met hom was, het gekom en die Raad en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaargeroep; en hulle het na die gevangenis gestuur om hulle te laat haal. Maar toe die dienaars daar kom, het hulle hul nie in die gevangenis gekry nie; en hulle het omgedraai en berig gebring en gesê: Die gevangenis het ons in alle sekerheid toegesluit gevind, en die wagte het buite gestaan voor die deure; maar toe ons oopmaak, kry ons niemand daarbinne nie. En toe die hoëpriester en die hoofman van die tempel en die owerpriesters hierdie woorde hoor, was hulle daarmee verleë wat nou hiervan sou word. En daar kom een en bring aan hulle berig en sê: Kyk, die manne wat julle in die gevangenis gesit het, staan in die tempel en leer die volk.
”En Stéfanus, vol van geloof en krag, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen.
”En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van 'n engel was.
”En toe veertig jaar verby was, het 'n Engel van die Here aan hom verskyn in die woestyn van die berg Sinai, in die vuurvlam van 'n doringbos.
”Hy het hulle uitgelei en wonders en tekens in Egipteland en in die Rooi See en die woestyn gedoen, veertig jaar lank.
”En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen. Want uit baie van die wat onreine geeste gehad het, het die geeste uitgegaan terwyl hulle met 'n groot stem skreeu; en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword. En daar was groot blydskap in daardie stad.
”En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur.
”En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis. Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het.
”En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik 'n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor 'n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen. En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie. Toe staan Saulus van die grond af op, en alhoewel sy oë oop was, het hy niemand gesien nie; en hulle het hom aan die hand gelei en in Damaskus ingebring. En drie dae lank het hy niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie.
”En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop.
”en hy het daar 'n man gevind met die naam van Enéas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. En Petrus sê vir hom: Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op! En hy het dadelik opgestaan. En al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.
”En in dié dae het sy siek geword en gesterwe, en hulle het haar gewas en in 'n bovertrek neergelê. En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat hom moes smeek dat hy sonder uitstel na hulle moet oorkom. En Petrus het opgestaan en saam met hulle gegaan. En toe hy daar kom, bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en ween en wys hom die onder-- en bo-klere wat Dorkas alles gemaak het toe sy nog by hulle was. En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle. En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo.
”met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.
”Toe hy hom dan gegryp het, het hy hom in die gevangenis gesit en oorgegee aan vier wagte, elkeen van vier soldate, om hom te bewaak, met die bedoeling om hom ná die paasfees voor die volk te bring. So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het 'n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan. En toe Herodes hom wou voorbring, het Petrus in daardie nag tussen twee soldate geslaap, met twee kettings geboei, en wagte voor die deur het die gevangenis bewaak. En meteens staan daar 'n engel van die Here by hom, en 'n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval. En die engel sê vir hom: Omgord jou en trek jou skoene aan! En hy het dit gedoen. Verder sê hy vir hom: Gooi jou bo-kleed om en volg my! En hy het uitgegaan en hom gevolg; en hy het nie geweet dat wat deur die engel plaasgevind het, werklikheid was nie, maar hy het gemeen dat hy 'n gesig sien. En toe hulle by die eerste en die tweede wag verbygegaan het, kom hulle by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. En hulle het buitekant gekom en een straat ver gegaan, en dadelik het die engel hom verlaat. Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk.
”Maar Élimas die towenaar--want so word sy naam vertaal--het hulle teëgestaan en het probeer om die goewerneur afkerig te maak van die geloof. Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê: Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie? En nou, kyk, die hand van die Here is op jou, en jy sal blind wees en die son 'n tyd lank nie sien nie. En onmiddellik het daar donkerheid en duisternis op hom geval, en hy het rondgegaan en gesoek na mense wat hom by die hand kon lei. Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verslae oor die leer van die Here en het geglo.
”Hulle het toe 'n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind.
”En in Listre het daar 'n man gesit wat magteloos was aan sy voete, kreupel van sy geboorte af, en hy het nooit geloop nie. Hy het geluister terwyl Paulus spreek; en Paulus het die oë op hom gehou, en, toe hy sien dat hy geloof het om gesond te word, met 'n groot stem gesê: Staan regop op jou voete! En hy het opgespring en begin rondloop.
”En die hele menigte het geswyg en na Bárnabas en Paulus geluister, terwyl hulle van al die tekens en wonders vertel wat God deur hulle onder die heidene gedoen het.
”En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister. En skielik kom daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak. En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy 'n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het.
”En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.
”En 'n sekere jongman met die naam van Eútichus het in die venster gesit en weggesink in 'n diepe slaap; en toe Paulus nog lank gespreek het, is hy oorweldig deur die slaap en het van die derde verdieping afgeval en is dood opgetel. Toe gaan Paulus ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê: Moenie so te kere gaan nie, want sy lewe is in hom. En hy het boontoe gegaan en brood gebreek en geëet; en nadat hy nog 'n geruime tyd gespreek het tot dagbreek toe, het hy vertrek. En hulle het die seun lewendig huis toe weggebring en was uitermate getroos.
”En Paulus het 'n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en 'n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt. En toe die inboorlinge die dier aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: Hierdie man is beslis 'n moordenaar wat die goddelike wraak nie laat lewe nie, al is hy uit die see gered. Maar hy het die dier in die vuur afgeskud en geen kwaad gely nie. En hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik dood neerval; maar toe hulle lank gewag en gesien het dat niks besonders met hom gebeur nie, het hulle van gedagte verander en gesê dat hy 'n god was.
”Nou het die hoof van die eiland, wie se naam Públius was, in die omgewing van daardie plek 'n stuk grond gehad, en hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik geherberg. En die vader van Públius het siek gelê aan koors en buikloop. En Paulus het ingegaan na hom toe, en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak. En hierna het ook die ander wat siektes gehad het op die eiland, na hom gekom en is genees.
”Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
”deur die krag van tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God, sodat ek die evangelieverkondiging van Christus volbring het van Jerusalem af en rondom tot by Illírikum;
”want die Jode vra 'n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, 'n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.
”En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie, want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.
”Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. Want aan die een word deur die Gees 'n woord van wysheid gegee, en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; aan 'n ander werkinge van kragte, aan 'n ander profesie, aan 'n ander onderskeiding van die geeste, aan 'n ander allerhande tale, aan 'n ander uitleg van tale. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.
”En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale. Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie? Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê? Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle 'n nog uitnemender weg.
”Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek 'n klinkende metaal of 'n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.
”Jaag die liefde na, en beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer. Want hy wat in 'n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede. Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging. Hy wat in 'n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente. Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang. Maar nou, broeders, as ek na julle kom en in tale spreek, tot watter nut sal ek vir julle wees as ek nie met julle spreek òf deur 'n openbaring, òf deur kennis, òf deur profesie, òf deur lering nie?
”Die tale is dus 'n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges. As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle sou almal in tale spreek en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle nie sê dat julle kranksinnig is nie? Maar as almal profeteer en daar 'n ongelowige of 'n onkundige binnekom, dan word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel; en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is.
”Daarom, broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie.
”Die kentekens tog van 'n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.
”En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk,
”terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil?
”Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.
”En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.
”Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.
”Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.
”Elía was 'n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.
”Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met 'n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met 'n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos 'n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in 'n oond, en sy stem soos die stem van baie waters. En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en 'n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.
”En ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is.
”