01 – Die Heilige Bybel

Dit is die heilige woorde van God die Almagtige.
Ons stel nie belang in die woorde van mense nie.
Vir enigiemand wat God liefhet... dit is waaroor God sê: Die Heilige Bybel.

Top 3 belangrikste verse

Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,

Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.

Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.

Elke vers in kanonieke volgorde – 343 gedeeltes

Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis;

Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?

Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,

Die HERE is 'n krygsman; HERE is sy naam.

Toe Moses kom en aan die volk al die woorde van die HERE en al die verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die woorde wat die HERE gespreek het, sal ons doen. En Moses het al die woorde van die HERE opgeskrywe en die môre vroeg hom klaargemaak en onder die berg 'n altaar gebou, en twaalf gedenkstene volgens die twaalf stamme van Israel.

God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?

Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel.

Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer soos die HERE my God my beveel het, om so te handel in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem. Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is 'n wyse en verstandige volk.

die dag dat jy voor die aangesig van die HERE jou God by Horeb gestaan het, toe die HERE aan my gesê het: Vergader die volk vir My, en Ek sal hulle my woorde laat hoor, dat hulle kan leer om My te vrees al die dae wat hulle op die aarde lewe, en dit aan hulle kinders kan leer.

Want die HERE jou God is 'n verterende vuur, 'n jaloerse God.

Sorg dan dat julle doen soos die HERE julle God julle beveel het; julle mag nie regs of links afwyk nie.

Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as 'n teken bind op jou hand, en dit moet as 'n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrwywe.

En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.

en hou die gebooie van die HERE jou God om in sy weë te wandel en Hom te vrees.

Verder het die HERE met my gespreek en gesê: Ek het hierdie volk aangesien, en kyk, dit is 'n hardnekkige volk. '

En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?

Daarom moet jy die HERE jou God liefhê en altyd sy ordening, sy insettinge sowel as sy verordeninge en sy gebooie onderhou.

Lê dan hierdie woorde van my weg in julle hart en in julle siel, en bind dit as 'n teken op julle hand en laat dit as 'n voorhoofsband tussen julle oë wees, en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan; en skryf dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte,

Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor-- die seën as julle luister na die gebooie van die HERE julle God wat ek julle vandag beveel; en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die HERE julle God nie, maar afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop wat julle nie geken het nie.

Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.

As 'n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou 'n teken of wonder aankondig, en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop--wat jy nie geken het nie--en hulle dien, dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.

en dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen;

Vandag beveel die HERE jou God jou om hierdie insettinge en verordeninge na te kom; onderhou dan en doen dit met jou hele hart en met jou hele siel.

Vervloek is hy wat die woorde van hierdie wet nie hou om dit te doen nie; en die hele volk moet sê: Amen.

As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde.

Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.

Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.

as jy na die stem van die HERE jou God luister om sy gebooie en sy insettinge te hou wat in hierdie wetboek geskrywe is; as jy jou tot die HERE jou God bekeer met jou hele hart en met jou hele siel.

Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag,

Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou.

Neem hierdie wetboek en sit dit neer aan die kant van die verbondsark van die HERE julle God, dat dit daar as getuie teen jou kan wees. Want ék ken jou wederstrewigheid en jou hardnekkigheid. As julle, terwyl ek nog vandag by julle lewe, wederstrewig was teen die HERE--hoeveel te meer dan ná my dood!

Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.

Vrees net die HERE en dien Hom getrou met julle hele hart; want kyk watter groot dinge Hy by julle gedoen het.

Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp. Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister.

Want ek het die weë van die HERE gehou en nie goddeloos van my God afgewyk nie. Want al sy verordeninge was voor my, en sy insettinge--daar het ek nie van afgewyk nie.

Maar hulle het nie geluister nie en hul nek verhard soos die nek van hul vaders wat nie op die HERE hulle God vertrou het nie.

Gaan raadpleeg die HERE vir my en vir die wat in Israel en in Juda oorgebly het, oor die woorde van die boek wat gevind is; want groot is die grimmigheid van die HERE wat oor ons uitgestort is, omdat ons vaders die woord van die HERE nie gehou het om te handel volgens alles wat in hierdie boek voorgeskrywe is nie.

Maar hulle het die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die HERE teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing meer was nie.

Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag, en om Israel die insettinge en verordeninge te leer.

En by my het byeengekom almal wat gebeef het vir die woorde van die God van Israel, oor die ontrou van die ballinge; maar ek het verslae bly sit tot die aandoffer toe.

Tog het hulle tot God gesê: Bly ver van ons af; en: In die kennis van u weë het ons geen behae nie.

Van die gebod van sy lippe het ek nie afgewyk nie; die woorde van sy mond het ek bewaar meer as my eie wet.

Daarna het die HERE Job uit 'n storm geantwoord en gesê: Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis? Gord dan soos 'n man jou heupe--dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My. Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het.

maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.

Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in 'n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal. U, o HERE, sal hulle bewaar; U sal ons bewaar van hierdie geslag vir ewig.

Want ek het die weë van die HERE gehou en nie goddeloos van my God afgewyk nie;

Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil.

Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige. Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë. Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid- tesame is hulle regverdig. Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop. Ook word u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is groot loon.

want u goedertierenheid is voor my oë, en ek wandel in u waarheid.

Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid.

In u hand gee ek my gees oor; U het my verlos, HERE, God van trou.

Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees. Wees nie soos 'n perd, soos 'n muilesel wat geen verstand het nie, wat 'n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.

Laat die hele aarde vir die HERE vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees;

Die raad van die HERE bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.

Lamed. Kom, kinders, luister na my; ek wil julle die vrees van die HERE leer.

Toe het ek gesê: Kyk, ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe. Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande. Ek het 'n blye boodskap van geregtigheid in die groot vergadering verkondig; kyk, my lippe bedwing ek nie. HERE, U weet dit. U geregtigheid bedek ek nie binne-in my hart nie; van u trou en u heil spreek ek; u goedertierenheid en u trou verberg ek nie vir die groot vergadering nie.

Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond- terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp?

Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.

Die Here het die woord laat hoor- die vroue wat die goeie tyding gebring het, was 'n groot skare:

Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet.

Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie. Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel. Ag, as my volk maar na My wou luister, Israel in my weë wou wandel! Gou sou Ek hul vyande onderwerp en my hand teen hul teëstanders uitstrek. Die haters van die HERE sou kruipende na Hom toe kom; maar húlle tyd sou vir ewig wees.

Leer my, HERE, u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam.

'n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is?

Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak; en hulle was teen sy woorde nie wederstrewig nie.

omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het, het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.

Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.

Mem. Die werke van sy hande is trou en reg; Noen. al sy bevele is betroubaar. Samek. Vasgestel is hulle vir altyd, vir ewig; Ajin. uitgevoer in trou en opregtheid.

Resj. Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; Sin. almal wat dit beoefen, het 'n goeie verstand. Tau. Sy lof bestaan tot in ewigheid.

Halleluja! Alef. Welgeluksalig is die man wat die HERE vrees, Bet. wat 'n groot welbehae in sy gebooie het.

Dit is beter om by die HERE te skuil as om op mense te vertrou. Dit is beter om by die HERE te skuil as om op edeles te vertrou.

Alef. Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel.

Dan sal ek nie beskaamd staan as ek op al u gebooie let nie.

Bet. Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.

Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie.

Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.

Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond.

Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet.

My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur.

U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal.

Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet.

Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel.

Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte.

Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd,

En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet,

Toorngloed het my aangegryp vanweë die goddelose wat u wet verlaat.

Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.

Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer.

Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.

Lamed. Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele.

Mem. Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.

Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond.

Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad.

Noen. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad.

Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe.

Gaan weg van my, kwaaddoeners, dat ek die gebooie van my God kan bewaar!

U verag almal wat van u insettinge afdwaal, want hulle bedrieëry is leuens.

Dit is tyd vir die HERE om te handel: hulle het u wet verbreek.

My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie.

My ywer verteer my, omdat my teëstanders u woorde vergeet het.

Ek is klein en verag, maar u bevele vergeet ek nie.

U geregtigheid is geregtigheid tot in ewigheid, en u wet is waarheid.

My oë is die nagwake voor om u woord te oordink.

Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.

Sin, Sjin. Vorste het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart vrees vir u woord.

Ek is vrolik oor u belofte soos een wat 'n groot buit vind.

o HERE, ek verlang na u heil, en u wet is my verlustiging.

Ek sal my neerbuig na u heilige paleis en u Naam loof, om u goedertierenheid en om u trou ontwil; want U het vanweë u ganse Naam u toesegging groot gemaak.

Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.

Hoe lank sal julle, eenvoudiges, die eenvoudigheid liefhê en die spotters lus hê om te spot en die dwase kennis haat?

Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie, van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het, daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne.

sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind

Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart,

Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

Verkry wysheid, verkry insig; vergeet nie en wyk nie af van die woorde van my mond nie: verlaat dit nie, dan sal dit jou bewaar; kry dit lief, dan sal dit jou bewaak.

My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart.

Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou. Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees, wyk nie regs of links af nie, hou jou voet ver van boosheid.

Want die gebod is 'n lamp en die onderwysing 'n lig en die teregwysinge van die tug 'n weg tot die lewe,

Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.

Bestraf 'n spotter nie, anders haat hy jou; bestraf 'n wyse, en hy sal jou liefhê.

Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand.

Die vrees van die HERE is 'n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk.

Hoeveel beter is dit om wysheid te verkry as goud, en verkiesliker om verstand te verwerf as silwer.

Spreek nie voor die ore van 'n dwaas nie, want hy sal die verstandigheid van jou woorde verag.

Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is 'n gruwel.

Elke woord van God is gelouter; Hy is 'n skild vir die wat by Hom skuil. Voeg by sy woorde niks by nie, sodat Hy van jou nie rekenskap vorder en jy as 'n leuenaar openbaar word nie.

Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.

Daarom, soos die vuurtong stoppels verteer en droë gras in die vlam inmekaarsak, so sal hulle wortel soos poeier word en hulle uitspruitsel soos stof opstuiwe; omdat hulle die wet van die HERE van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het.

En Hy het gespreek: Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie.

Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle 'n volk wat geen dageraad het nie.

Gaan nou in, skryf dit op 'n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in 'n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid. Want dit is 'n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn! Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun, daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos 'n los stuk wat wil val, wat oorhang in 'n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom.

Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.

Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?

Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.

As jy skreeu, laat jou hoop gode jou red; maar die wind lig hulle almal op, 'n luggie neem hulle weg. Maar wie op My vertrou, sal die land beërwe en my heilige bergland in besit neem.

Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie.

Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.

so sal Ek ook hulle ongeluk verkies en wat hulle met skrik vervul, oor hulle laat kom; omdat Ek geroep en niemand geantwoord het nie, Ek gespreek en hulle nie gehoor het nie; maar hulle het gedoen wat verkeerd is in my oë, en verkies wat My nie behaag nie. Hoor die woord van die HERE, julle wat vir sy woord bewe! Julle broers, julle haters wat julle verstoot om my Naam ontwil, sê: Laat die HERE heerlik word, dat ons julle vreugde kan aanskou! Maar hulle sal beskaamd staan!

o HERE, is u oë nie op opregtheid gerig nie? U het hulle geslaan, maar hulle het geen pyn gevoel nie, hulle tot niet gemaak, maar hulle het geweier om tugtiging aan te neem; hulle het hul aangesig harder gemaak as 'n rots, geweier om hulle te bekeer. Maar ek het gesê: Hulle is maar die geringes; hulle het dwaas gehandel, omdat hulle die weg van die HERE, die reg van hulle God, nie ken nie.

Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na my woorde het hulle nie geluister nie, en my wet, dié het hulle verwerp.

Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle 'n God wees, en julle sal vir My 'n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan. Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar gewandel in wat hulle in die verharding van hul bose hart beraadslaag het, en hulle het agteruitgegaan en nie vooruit nie.

Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?

Maar as julle daar nie na luister nie, sal my siel in skuilplekke ween vanweë die hoogmoed; en my oog sal bitterlik huil en afloop in trane, omdat die kudde van die HERE as gevangenes weggevoer is.

Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, HERE, God van die leërskare!

So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.

Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard om nie te luister nie en geen tugtiging aan te neem nie.

So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring oor hierdie stad en al sy stede al die onheil wat Ek daaroor gespreek het, omdat hulle hul nek verhard het om na my woorde nie te luister nie.

So sê die HERE van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie.

Is my woord nie só, soos 'n vuur, spreek die HERE, en soos 'n hamer wat 'n rots vermorsel nie?

Ook het die HERE al sy knegte, die profete, na julle gestuur, vroeg en laat--maar julle het nie geluister of julle oor geneig om te hoor nie--

Sê dan vir hulle: So spreek die HERE: As julle na My nie luister nie, om in my wet te wandel wat Ek julle voorgehou het, om te luister na die woorde van my knegte, die profete, wat Ek na julle stuur, vroeg én laat, sonder dat julle geluister het, dan sal Ek hierdie huis maak soos Silo, en hierdie stad sal Ek maak 'n vervloeking vir al die nasies van die aarde.

Maak dan nou julle weë en julle handelinge goed, en luister na die stem van die HERE julle God; dan sal dit die HERE berou oor die onheil wat Hy teen julle gespreek het.

Want so spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Laat julle profete en julle waarsêers wat onder julle is, julle nie bedrieg nie, en luister nie na julle dromers vir wie julle laat droom nie. Want hulle profeteer vir julle vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur nie, spreek die HERE.

Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie--my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.

Tog sê julle: Die weg van die Here is nie reg nie. Hoor tog, o huis van Israel! Is my weg nie reg nie? Is júlle weë nie onreg nie?

En hulle moet my volk die onderskeid leer tussen wat heilig en onheilig is, en hulle bekend maak die onderskeid tussen wat onrein en rein is.

My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.

Wee hulle, omdat hulle van My weggevlieg het! Verwoesting oor hulle, omdat hulle teen My oortree het! Ék tog wou hulle verlos, maar húlle het leuens teen My gespreek.

Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek 'n honger in die land stuur, nie 'n honger na brood nie en nie 'n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor.

Maar hulle het geweier om te luister en wederstrewig die skouer afgewend en hulle ore toegestop om nie te hoor nie. Ook het hulle hul hart soos 'n diamant gemaak, om nie die wet te verneem nie en die woorde wat die HERE van die leërskare deur sy Gees, deur die diens van die vroeëre profete gestuur het nie. So het daar dan van die HERE van die leërskare 'n groot toorn gekom. Daarom, soos Hy geroep en hulle nie gehoor het nie--so sal hulle roep, maar Ek nie hoor nie, het die HERE van die leërskare gesê.

Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.

Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!

Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met 'n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met 'n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.

En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.

Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.

Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.

Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.

Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie. Luister julle dan na die gelykenis van die saaier. As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is--dit is hy by wie langs die pad gesaai is. En by wie op rotsagtige plekke gesaai is--dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir 'n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik. En by wie in die dorings gesaai is--dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar. En by wie op die goeie grond gesaai is--dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd,die ander sestig--, die ander dertigvoudig.

Maar Hy antwoord en sê: Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word.

Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.

En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.

Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.

En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.

En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.

En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie. En Hy sê vir hulle: Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan? Die saaier saai die woord. En dit is hulle wat langs die pad is--waar die woord gesaai word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is. Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word--wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir 'n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik. En hulle by wie in die dorings gesaai word--dit is hulle wat die woord hoor, en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar. En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is--hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig-- en een sestig-- en een honderdvoudig.

Maar dadelik, toe Jesus die woord hoor wat gespreek is, sê Hy vir die owerste van die sinagoge: Moenie vrees nie; glo net.

So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.

En toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red. Want wat sal dit 'n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel? Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.

En Jesus antwoord en sê vir hulle: Is dit nie daarom dat julle dwaal dat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie?

En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word.

Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.

En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen.

ja, 'n swaard sal deur jou eie siel gaan--sodat die gedagtes uit baie harte openbaar kan word.

Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.

En hulle was verslae oor sy leer, want sy woord was met gesag.

En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie? Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen Ek sal julle wys soos wie hy is. Hy is soos 'n man wat 'n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was. Maar wie dit hoor en dit nie doen nie, is soos 'n man wat 'n huis sonder fondament op die grond bou, en die stroom het daarteen losgebreek en dit het dadelik geval, en die instorting van daardie huis was groot.

En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie. Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God. Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie. En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir 'n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af. En wat in die dorings geval het--dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie. En wat in die goeie grond val--dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in 'n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.

Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen.

En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Wat baat dit 'n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen? Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.

En Hy sê aan 'n ander een: Volg My. Maar hy antwoord: Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. En Jesus sê vir hom: Laat die dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God. En 'n ander een het ook gesê: Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is. En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.

En Hy sê: Ja, maar salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.

Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle: Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.

As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.

Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin. Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val.

Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.

En Hy sê vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het!

En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.

En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het.

As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?

Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God; want God gee Hom die Gees nie met mate nie.

Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.

God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.

En julle het sy woord nie as iets blywends in julle nie, omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie glo nie. Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.

Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe.

En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan. Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie. Wie van julle oortuig My van sonde? En as Ek die waarheid spreek, waarom glo julle My nie? Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie.

Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het. My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.

As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie,

Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe. As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.

En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie; sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het: Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Dit het Jesaja gesê toe hy sy heerlikheid gesien en van Hom gespreek het. Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God.

Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.

Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My 'n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek--net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.

Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

As julle My liefhet, bewaar my gebooie.

Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.

Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.

As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.

Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.

Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog 'n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.

En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.

Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie--kyk, ons wend ons tot die heidene.

En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.

Maar toe sommige hulle verhard en ongehoorsaam was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die Weg, het hy van hulle weggegaan en die dissipels afsonderlik geneem en elke dag in die skool van 'n sekere Tiránnus samesprekinge gehou.

Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie.

en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Paulus, 'n dienskneg van Jesus Christus, 'n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God-- wat Hy tevore beloof het deur sy profete in die heilige Skrifte,

Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe. Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword

Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is. Want wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie! Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig, soos geskrywe is: Sodat U geregverdig kan word in u woorde en oorwin as U gerig hou.

soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.

Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.

Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.

Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed.

Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.

omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.

En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê: Here, wie het ons prediking geglo? Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.

Soos geskrywe is: God het hulle gegee 'n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.

Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.

En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.

Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;

Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar 'n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie. Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid,

Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.

Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God.

Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.

As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom 'n vervloeking wees! Maranáta!

Want ons is 'n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste 'n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste 'n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam?

wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van 'n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend. En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie? Want as die bediening wat veroordeel, heerlikheid was, veel meer is die bediening wat regverdig maak, oorvloedig in heerlikheid.

Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan. Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.

Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.

Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in 'n engel van die lig.

Want ons kan niks doen teen die waarheid nie, maar wel vír die waarheid.

Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na 'n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom 'n vervloeking wees!

aan wie ons selfs nie 'n oomblik in onderworpenheid toegegee het nie, sodat die waarheid van die evangelie by julle bestendig sou bly.

Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.

Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word--want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang-- sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.

Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.

Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.

Het ek dan julle vyand geword deur julle die waarheid te vertel?

dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is;

sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;

om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,

En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees--dit is die woord van God--

En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand 'n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus,

deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot 'n roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie.

as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, wat julle gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel, waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het.

Pas op dat niemand julle as 'n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.

en bid tegelykertyd ook vir ons, dat God vir ons die deur van die woord mag open om te spreek van die verborgenheid van Christus, waarvoor ek ook in boeie is,

En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees,

maar alhoewel ons vantevore, soos julle weet, in Filíppi gely het en mishandel is, het ons in onse God vrymoedigheid gehad om aan julle die evangelie van God te verkondig onder veel stryd.

Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.

en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan 'n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte,

en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.

Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is, volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God wat aan my toevertrou is.

Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.

Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, 'n pilaar en grondslag van die waarheid.

Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang

As jy hierdie dinge aan die broeders voorhou, sal jy 'n goeie dienaar van Jesus Christus wees terwyl jy jouself voed met die woorde van die geloof en van die goeie leer waarvan jy 'n navolger geword het.

Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering.

Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.

Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God

As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.

Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as 'n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.

en 'n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra. Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie,

wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.

en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.

Hierdie getuienis is waar. Daarom moet jy hulle skerp bestraf, sodat hulle gesond in die geloof kan wees,

Maar spreek jy wat by die gesonde leer pas.

Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie. Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het, hoe sal ons ontvlug as ons so 'n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het,

Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het. Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie, sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle 'n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.

Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie. Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie--alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is.

Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.

Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het--om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.

want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe,

Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?

En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.

Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde 'n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek.

Want onse God is 'n verterende vuur.

En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.

Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red. En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie. Want as iemand 'n hoorder van die woord is en nie 'n dader nie, dié is soos 'n man wat sy natuurlike gesig in 'n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.

Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God. Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon? Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n rein hart; want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos 'n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.

en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,

Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword; en: 'n Steen des aanstoots en 'n rots van struikeling-- vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.

Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.

Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en 'n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.

net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf. Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie.

En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is 'n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.

Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.

Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.

Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar.

Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.

En dit is die liefde, dat ons wandel volgens sy gebooie. Dit is die gebod soos julle van die begin af gehoor het dat julle daarin moet wandel.

Elkeen wat 'n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.

Maar ek wil julle daaraan herinner, al weet julle dit nou eenmaal, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het.

En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en 'n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag.

Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het;

Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond.

Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.

En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou. En ek het op die sand van die see gaan staan.

En ek het 'n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met 'n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke. En hy het met 'n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.

Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het.

En sy oë was soos 'n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het 'n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.

En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.

En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.

Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.

Afrikaans - Afrikaans - AF

AF'BSS - Afrikaans Bybel - 1953

This Bible is in the Public Domain.
https://www.biblesupersearch.com/bible-downloads/
Languages are made available to you by www.ipedge.net