04 – Skepping

Dit is die heilige woorde van God die Almagtige.
Ons stel nie belang in die woorde van mense nie.
Vir enigiemand wat God liefhet... dit is waaroor God sê: Skepping.

Top 3 belangrikste verse

In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Maar God gee dit 'n liggaam soos Hy gewil het, en aan elkeen van die saadkorrels sy eie liggaam. Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar die vlees van mense is anders as die vlees van vee, en dié van visse anders as dié van voëls.

Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Elke vers in kanonieke volgorde – 104 gedeeltes

In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

En God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so. En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag.

En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so. En God het die droë grond aarde genoem, en die versameling van die waters het Hy see genoem. Toe sien God dat dit goed was. En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so. Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. En dit was aand en dit was môre, die derde dag.

En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so. God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre. En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was. En dit was aand en dit was môre, die vierde dag.

En God het gesê: Laat die waters wemel met 'n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel. En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. En God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder. En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag.

En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so. En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.

En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees. Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin 'n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so. Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.

So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.

Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie. Maar 'n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig. En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword. Ook het die HERE God 'n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, 'n plek gegee.

Dit is die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God. Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is. Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy 'n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem.

Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.

Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig 'n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.

Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die HERE se heerlikheid vol sal word,

Want doen tog ondersoek na die vorige dae wat voor jou gewees het, van die dag af dat God mense op die aarde geskape het, en van die een einde van die hemel tot by die ander einde van die hemel, of so iets groots gebeur het of iets dergeliks gehoor is.

Kyk, aan die HERE jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is.

Hy rig die geringe op uit die stof, uit die ashoop verhef Hy die behoeftige, om hulle te laat sit by die vorste en hulle 'n erestoel te laat beërwe. Want aan die HERE behoort die pilare van die aarde, en Hy het die wêreld daarop gevestig.

En die beddings van die see het sigbaar geword, die fondamente van die wêreld is blootgelê, deur die dreiging van die HERE, vanweë die geblaas van die wind van sy neus.

En Hiskía het voor die aangesig van die HERE gebid en gesê: HERE, God van Israel, wat op die gérubs troon, U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde, U het die hemel en die aarde gemaak!

Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles.

U is alleen die HERE, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel buig hulle voor U neer.

wat die aarde laat sidder uit sy plek, sodat sy pilare dril; wat bevel gee aan die son, en hy gaan nie op nie, en die sterre agter 'n seël wegsluit; wat alleen die hemel uitspan en stap op die golwe van die see; wat die Beer gemaak het, die Oríon en die Sewe-ster en die Kamers van die Suide; wat groot, ondeurgrondelike dinge doen en wonders sonder getal.

Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee; of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel. Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die HERE dit gemaak het nie? In wie se hand die siel is van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees.

voor Hom wat die noorde uitspan oor die chaos, wat die aarde ophang oor 'n niks; wat die waters saambind in sy wolke sonder dat die wolkgevaarte daaronder skeur; wat die gesig van die troon toehou deurdat Hy sy wolk daaroor uitsprei. Hy het 'n kring afgetrek oor die watervlakte tot waar lig in duisternis eindig. Die pilare van die hemel wankel en staan verstom weens sy dreiging.

Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend.

Daarna het die HERE Job uit 'n storm geantwoord en gesê: Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis? Gord dan soos 'n man jou heupe--dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My. Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. Wie het sy afmetinge bepaal? --jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het? En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het? Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel. Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het; en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word 'n grens gestel vir jou trotse golwe.

Kyk, daar is die seekoei wat Ek gemaak het saam met jou. Gras eet hy soos 'n bees. Kyk tog, sy krag is in sy kruis, en sy sterkte in die spiere van sy buik. Hy hou sy stert reguit soos 'n seder; die senings van sy dye is inmekaar gevleg.

As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het-

En die beddings van die waters het sigbaar geword, en die fondamente van die wêreld is blootgelê vanweë u dreiging, o HERE, vanweë die geblaas van die wind van u neus.

Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.

Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld. Vir die son het Hy daarin 'n tent gemaak;

'n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.

Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.

Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid- U het dit gegrond. Die noorde en die suide- U het dit geskape; Tabor en Hermon jubel in u Naam.

Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.

Aan wie die see behoort wat Hy self gemaak het, en die droë land wat sy hande geformeer het. Kom, laat ons aanbid en neerbuk; laat ons kniel voor die HERE wat ons gemaak het.

In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande. Húlle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos 'n kleed verslyt; U verwissel hulle soos 'n kledingstuk, en hulle verdwyn.

Loof die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed- wat Uself omhul met die lig soos met 'n kleed, wat die hemel uitspan soos 'n tentdoek; wat sy solders bou in die waters, wat van die wolke sy wa maak, wat op die vleuels van die wind wandel, wat van die winde sy boodskappers maak, van vuurvlamme sy dienaars. Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie.

Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! Daar is die see, groot en alkante toe wyd- daar is 'n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes.

Gimel. Die werke van die HERE is groot; Dalet. nagespeur word hulle deur almal wat daar 'n welbehae in het.

Julle is geseënd deur die HERE wat hemel en aarde gemaak het. Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.

Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.

My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.

Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.

Alles wat die HERE behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes.

Wat die hemele met verstand gemaak het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. Wat die aarde op die water uitgespan het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. Wat die groot ligte gemaak het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. Die son om te heers oor die dag, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. Die maan en sterre om te heers oor die nag, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.

Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.

wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is; wat trou bly tot in ewigheid;

Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.

Die HERE het deur wysheid die aarde gegrond, deur verstand die hemele vasgestel;

Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af. Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af. Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore; toe fonteine, swaar van water, nog nie daar was nie; voordat die berge ingesink het, voor die heuwels is ek gebore; toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie. Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy 'n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed; toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het; toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het-- toe was ek 'n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd, en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders.

'n Oor wat hoor, en 'n oog wat sien--die HERE het hulle altwee gemaak.

En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!

Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.

o Julle verkeerdheid! Of moet die pottebakker beskou word as klei, dat die maaksel van sy maker kan sê: Hy het my nie gemaak nie, en die vormsel van sy vormer kan sê: Hy het geen verstand nie?

o HERE van die leërskare, God van Israel wat op die gérubs troon! U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde; U het die hemel en die aarde gemaak.

Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met 'n span die maat geneem, en in 'n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met 'n weegtoestel en die heuwels met 'n weegskaal?

Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie? Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos 'n dun doek en sprei dit uit soos 'n tent om in te woon.

Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.

Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.

So sê God, die HERE, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel:

elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het.

So sê die Here, jou Verlosser, en Hy wat jou geformeer het van die moederskoot af: Ek is die HERE wat alles volbring, wat die hemel uitspan, Ek alleen, en wat die aarde uitsprei--wie was met My? --

So sê die HERE, die Heilige van Israel en sy Formeerder: Vra My aangaande die toekomstige dinge; vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe! Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape; Ek--my hande het die hemel uitgespan, en Ek het aan sy ganse leërskare bevel gegee.

Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het--Hy is God! --wat die aarde geformeer en dit gemaak het--Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word--Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.

Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste. Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam.

dat jy vergeet die HERE wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker?

Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand.

So sê die HERE: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees? Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.

Maar die HERE is waarlik God, Hy is die lewende God en 'n ewige Koning; vir sy toorn beef die aarde, en die nasies kan sy grimmigheid nie verdra nie-- so moet julle vir hulle sê: Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit-- Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand.

Ek het die aarde, die mens en die diere wat op die aarde is, gemaak deur my grote krag en deur my uitgestrekte arm, en Ek gee dit aan wie dit reg is in my oë.

Ag, Here HERE, kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur u grote krag en deur u uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie.

Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand--

Hy wat die Sewe-ster en die Oríon gemaak het en die duisternis in môrelig verander en die dag tot nag verduister, wat die waters van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde--HERE is sy Naam!

Dit is Hy wat sy solders in die hemele bou en sy hemelgewelf bo die aarde vestig, wat die waters van die see roep en dit uitgiet oor die aardbodem, HERE is sy Naam!

En hy antwoord hulle: Ek is 'n Hebreër, en ek vrees die HERE, die God van die hemel, wat die see en die droë land gemaak het.

Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.

Godspraak. Die woord van die HERE oor Israel. Die HERE spreek, wat die hemele uitsprei en die aarde grondves en die gees van die mens in sy binneste formeer:

maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak.

die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God.

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.

En toe die hoofdienaar die water proe wat wyn geword het--en hy het nie geweet waarvandaan dit was nie, maar die dienaars wat die water geskep het, het geweet--roep die hoofdienaar die bruidegom en sê vir hom: Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar.

Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus?

en gesê: Manne, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.

Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.

Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

soos geskrywe is: Ek het jou 'n vader van baie nasies gemaak voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.

Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het

Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.

Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

Maar God gee dit 'n liggaam soos Hy gewil het, en aan elkeen van die saadkorrels sy eie liggaam. Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar die vlees van mense is anders as die vlees van vee, en dié van visse anders as dié van voëls.

So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het 'n lewende siel geword; die laaste Adam 'n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.

Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn--dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.

en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus,

Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte--alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.

wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte,

en: U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande.

want elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.

Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.

Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en 'n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense. Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.

en hy het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd meer sal wees nie;

En ek het 'n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met 'n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke. En hy het met 'n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.

Afrikaans - Afrikaans - AF

AF'BSS - Afrikaans Bybel - 1953

This Bible is in the Public Domain.
https://www.biblesupersearch.com/bible-downloads/
Languages are made available to you by www.ipedge.net